Emma is ‘n marshmallow verslaafde en nie die tipe meisie wat verwag dat elke tweede ou op haar sal verlief raak nie. Sy voel gevlei wanneer die nuwe ou, Wian Verwey, belangstelling in haar toon. As dit nie vir haar vriendin, Cheryl, was nie, sou sy al lankal instem om saam met hom op ‘n date te gaan. Maar Cheryl weet ALLES van die teenoorgestelde geslag en glo dat ‘n ou eers behoorlik moet bloedsweet voordat ‘n meisie ingee. Om alles te kroon reël Cheryl dat Emma op ‘n date gaan saam die hoofsanger van ‘n bekende “band”.
Dit is enige meisie se droom om op ongewone en opwindende dates saam Wian te gaan. Wie sal nou kla as iemand so baie moeite doen, net om jou hart te steel? Net toe Emma dink dat dinge nie beter kan raak nie, druk Kyla Bekker haar neus in Emma se sake.
In hierdie boek deur Tania Brink (alias Jaco Jacobs) is Emma ‘n doodgewone tienermeisie met ‘n groot liefde vir fotografie. Ek glo dat elke tienermeisie op verskillende vlakke met haar kan vereenselwig. Die liefdesdriehoek tussen Emma, Wian en Chris sorg vir baie opwinding en ek het selfs gevoel of ek een van Emma se vriendinne is.
Hierdie boek raak alle elemente van ‘n jongmens se lewe. Ek het selfs gewens dat Chris se band regtig bestaan. Die leser kan hulself inleef en sal defnitief al die emosies waardeer die karakters gaan beleef. Emma se interessante stokperdjie sal ook die leser intrek en dalk nuwe belangstellings in die leser se eie lewe prikkel. Emma, Cheryl,Kyla,Wian en Chris word lewending in die geestesoog van die jong leser.
Defnitief ‘n “moet hê” tienerboek, met ‘n effense “twist”!