Vir Gabi is haar ma se geliefde sportperd, Donnabelle, haar kosbaarste besitting – veral ná haar stiefma, met hoë hakke en blink juwele op die plaas kom bly het. Wanneer sy diep in die rooibruin merrie se oë kyk en sag in haar oor fluister, is dit asof haar ma steeds by haar is.
Dinge verander egter drasties ná haar oom en sy nuwe bruid wegtrek en die perdestoet saamneem. In ‘n poging om haar ma se stoet en drome aan die lewe te hou, begin Gabi ‘n soektog na Donnabelle se twee vullens. Met hulp vanuit ‘n onverwagse oord vind sy dat die vullens in Suid-Afrika is. So begin sy en haar twee beste vriendinne die rit na ‘n stoetplaas in die Kaap…
Op die stoetplaas aangekom vind sy egter net een van Donnabelle se vullens. Die ander slegs ‘n paar kilometer verder by ‘n landbouskool. By die landbouskool is die ander vul pas geadverteer om verkoop te word. Gabi kan skaars haar geluk glo. Met die eerste ontmoeting van die spoghings, weet Gabi dat hy haar ma se stoet sal laat blom.
Die skoolpersoneel tree egter op asof hulle glad nie dink Gabi weet enige iets van perde af nie. Om nie eers van die sogenaamde Bolandse perdefluisteraar te praat nie.
Dinge begin egter verkeerd loop die oomblik toe hulle in Namibië aankom. Sal Gabi leer om saam met die perdefluisteraar te werk sodat sy haar pa kan oorreed om haar perd te hou en haar ma se droom laat voortleef?
Vir my was dit ‘n baie lekker storie om te lees, aangesien ek ook ‘n perdeliefhebber is. Ek kon reeds binne die eerste paar bladsye met Gabi assosieer en was vasgevang in die avontuur. Toe ek die boek gelees het, was ek juis met my perd op pad na Namibië om aan ‘n perde-uithourit deel te neem.