Franse vlegsel

Franse vlegsel (resensie)

Christien Neser
LAPA
Resensie deur Rouxné van der Westhuizen

In die sesde boek van Christien Neser se Elle-reeks, word die leser net so deeglik deur die hoofkarakter, Elle Kroon, se dramatiese tienerbestaan bekoor soos in die eerste vyf.

In Franse Vlegsel sien ons vir Elle aan die begin van haar graadelf jaar, met haar ouer kêrel, Alex (wie se verhouding met Elle een van die hoofintriges in die reeks vorm), wat oorsee gaan om saam met ’n bekende avonturier en omgewingsbewaarder oor die wêreld heen te swerf. Ten spyte van sy beloftes van terugkeer, laat hy Elle agter met groot verlange en ’n ongewensde status van losloper. So moet sy ’n manier vind om die jaar, wat reeds so sleg begin het, te oorleef – ten minste tot die Aprilvakansie toe, wanneer sy saam met haar kamermaat Parys (in Frankryk) toe gaan. Haar nuwe losloper-jaar word verder gekompliseer deur haar alewig onhanteerbare krulhare, die lewe in die koshuis, haar mislike skoolhoof en ’n aantreklike Belgiese uitruilstudent met stoute groen oë…

Dit klink soos een groot dramaproduksie, maar eintlik is dit net ’n jeugverhaal wat die moderne avontuur van hoërskool uitbeeld. Die gesprekstyl en tienertaal wat deurlopend in die boek geïnkorporeer is, dra by tot die skrywer se empatiese en outentieke uitbeelding van die wêreld van jongmense. Die boek is gemik op hoërskoolleerders en die wyse waarop hulle die wêreld ervaar, spesifiek deur die oog van ’n jong, verliefde meisie met ’n kunstige temperament.

Lesers wat reeds aanhangers van die vorige boeke in die reeks is en vir Elle al goed ken, sal hoogs in hul skik wees met die veranderinge in haar karakter vanaf die eerste boek en die lesse wat sy al as jongmens oor die lewe, liefde en vriendskap geleer het.

Die dinamiese uitbeelding van die skoolomgewing, koshuis en ook Parys skep goeie geleenthede vir lesers om hulself in die storie in te leef. Die humoristiese manier waarop die karakters optree en praat veroorsaak dat jong lesers kan identifiseer met die gebeure en karakters in die verhaal.

Christien Neser kry dit reg, deur die loop van die hele Elle-reeks, om direk tot alledaagse, moderne tieners te spreek op ’n manier wat hulle ken en verstaan. Die storie is grypend en bevredigend – dit is die tipe boek wat enige iemand wat ’n slegte dag of week beleef, sal opbeur!

Rouxné van der Westhuizen
Rouxné van der Westhuizen is ‘n Skryfkunsstudent aan die Noordwes-Universiteit (Potchefstroomkampus) 2015.
2015-09
0
Would love your thoughts, please comment.x