Christien Neser se reeks, waarvan ‘Middernagklub’ die sewende boek is, het reeds bekendheid onder jong lesers verwerf as ’n reeks wat reg tot die hart van enige tienermeisie spreek.
In die nuutste avontuur van die hoofkarakter, Elle Kroon, en haar koshuisvriendinne, bevind hulle hulself in hul tweede laaste jaar in Gravitas-meisieskool. Saam met hierdie nuwe jaar kom nuwe verantwoordelikhede, soos die vooruitsig om op die sogenaamde Lys van Dertig aan die einde van die jaar te kom en hulself “Witbaadjies” te kan noem – met ander woorde, prefekte. Sodra Elle, haar energieke kamermaat en hulle vriendinne (wat hulself die Middernagklub noem as gevolg van hulle af-en-toe se nagtelike koshuismanewales) besluit om voluit hulle naam op die Lys van Dertig te probeer kry, besef hulle dat hulle hulself daarvan sal moet weerhou om enige reëls te breek, grappies te maak of onwettig uit die koshuis te sluip. Vir ’n laaste keer hou hulle ’n middernagfees ná ligte uit om finaal van hul verkeerde weë afskeid te neem… Maar, soos te verwagte kan wees in die lewe van hoërskoolleerders, verloop dinge nie heeltemal volgens plan nie.
Die storie bestaan uit verskeie dele met meer as een hoogtepunt. Elle se langafstand-verhouding met haar kêrel, Alex, en haar verlange na hom is steeds een van die intriges wat die getroue aanhangers van die reeks se hartsnare sal streel. Die verskeie gebeurtenisse wat soms die seuns van Gravitas se broerskool oorkant die straat, die koshuislewe en die onderwysers by die skool insluit, sorg vir vele boeiende sub-intriges en herkenbare karakters.
‘Middernagklub’ is grotendeels gemik op tienerjarige meisies, en spreek ’n tema aan wat ’n groot werklikheid in die lewe van jongmense en veral hoërskoolleerders speel: die eerste besef van verantwoordelikheid, en die begeerte om ’n verskil te kan maak deur ’n leierskapsposisie te beklee. Die stryd om prefekskap is iets waarmee enige hoërskoolleerder kan identifiseer, en iets wat op ’n pittige en meevoerende manier in ‘Middernagklub’ uitgebeeld word. Die tipiese uitbeelding van skooltrots en gees onder mede-skoliere is ook ’n tema wat ’n groot rol in die verhaal speel.
Neser se kleurvolle gebruik van tienertaal en moderne verwysings dra by tot die skep van ’n geloofwaardige realiteit in die verhaal waarin jong lesers hulself maklik kan inleef. Die gebruik van woorde soos “cheers” en “uitslip” ondersteun ook die idee dat die storie, hoewel dit uit ’n derdepersoonsperspektief vertel word, direk tot die alledaagse tiener spreek. Hierdie boek word beslis aanbeveel vir jongmense wat op soek is na ’n gemaklike, identifiseerbare en prettige jeugverhaal!