Dag, spookmeisie van Uniondale. Dag, rooi os van Riebeek-Kasteel. Dag, Neels.
Na die lees van dié bundel, het ek werklik kennisgemaak met van die bekendste spoke in Suid-Afrika. Elke storie, of sal ek liewer sê ontmoeting, stel die leser bekend aan die spook, waar die spook vandaan kom en watter manewales aangevang word. Daar is nie werklik enige grillerigheid aan die bundel nie en indien die spook wreder was in Maartens se bronne, is dit definitief nie so uitgebeeld nie.
Die buiteblad van die bundel skep die gevoel dat daar ‘n leeservaring vol adrenalienpompende en waar-is-my-ma oomblikke voorlê. Selfs die tipografie van Spookstories skep die idee dat die leser met elke storie sal gril vir die spook. Nietemin word hierdie ontmoetings op so ‘n ligte wyse vertel dat daar geensins ‘n onheilspellende atmosfeer geskep word nie. Die bundel begin met die ontmoeting van die rooi os, maar buiten die illustrasie deur Griessel was daar niks vreesaanjaend nie. Die os pleeg selfs goeie dade. Die ontmoeting met die volgende karakter in Klein Swaap en die spook wek ook liewer ‘n gevoel van jammerte vir Klein Swaap as om bang te raak vir die spook.
Die res van die ontmoetings word teen dieselfde trant vertel en daar was selfs met tye wat ek gedink het dit is reisbrosjure wat ek besig is om te lees. “Gaan besoek die plek en vra sommer self vir John Murray… sorg net dat hy nie die deur agter jou toemaak nie.” en “En as jy wil weet of Jan Prinsloo nog steeds baas op sy destydse plaas wil speel, moet jy maar self gaan kyk. Dis nou as jy kans sien vir ‘n klomp bakleierige spoke…” Hierdie uitnodigings om die plekke self te gaan besoek is nie iets wat ek in ‘n kinderboek sal verwag nie en dra nie by om die leser van sy/haar eie wêreld te laat ontsnap nie.
Die inligtingsbrokkies en grappies wat elke ontmoeting vergesel bevestig dat die bundel se doel nie is om bang te maak nie, maar eerder om kennis te maak met die spoke. Die inligtingstukkies maak die idee van spoke en ‘n spookwêreld ietwat meer realisties en kan die jonger leser op ‘n interessante Internet soektog stuur. Die “Kan jy glo” gedeeltes is ook lekker om te lees en die grappies kan sorg vir komiese verligting indien die kennismaking te veel van ‘n werklikheid word.
Woorde soos “genadetjie”, “sterf”, “geyl”, “skepsel”, “transportryer” en “konsternasie” sit vreemd in die mond van die leser. Andersins word daar woorde wat moontlik mag bangmaak soos, “rooi”, “kasteel”, “heks”, “stormweer” en “pikswart kraai” gebruik. Die wit en swart, eenvoudige potloodillustrasies deur Griessel dra by tot ‘n meer onheilspellende atmosfeer in die bundel en die gesigsuitdrukkings en tonele word goed uitgebeeld en sluit goed aan by die ontmoetings. Goeie idiomatiese uitdrukkings word ook in die ontmoetings gevind, “nugter soos heeldag môre,” “heinde en ver gekom”, “so plat soos ‘n pannekoek” en “so kalm soos skottelgoedwater” wat wel sorg vir ‘n lekker leeservaring.
Die bundel is gemik op die veel jonger leser en sal ook slaag wanneer die bundel voorgelees word. Dit is werklik ‘n bundel waar van die mees klassieke spoke tot die meer onbekende spoke ontmoet word. Wie weet dalk word julle nog goeie vriende…