Tanya en die perdrykompetisie

Tanya en die perdrykompetisie (resensie)

Helen Brain en Nicky Webb
Human & Rousseau
Resensie deur An-Mari Fouché

Tania en die Perdry-kompetisie is die tweede boek in die Veearts-Vriendereeks vir jong lesers. Hierdie prettige boek is propvol kaskenades en moleste wat die leser geboei sal hou tot op die laaste bladsy.

Tania wil verskriklik graag ‘n ponie van haar eie hê, maar haar droom om vir Oreo te koop word in gevaar gestel deur die een probleem op die ander. Die huis se rioolstelsel word verstop, die aantal diere in die huis raak net te veel, iemand bly haar pa die professor se onderbroeke steel en die bedorwe rykmansdogter, Shardonnay, probeer haar bes om Tania se lewe moeilik te maak.

Alhoewel die groot versameling karakters soms effens verwarrend kan raak, word elke karakter op ‘n unieke manier geskets. Met Fifi se lispel en “kennis” van siektes, Tiekie se gevaarlike gemmerbier eksperiment en Arabella se pogings om die rioolstelsel reg te maak, is daar nooit ‘n vervelige oomblik in die storie nie. Die verskeidenheid dierekarakters, soos McTavish die gemene ponie, Bieber die onderbroek-stelende apie, en die twee papegaaie (Hawking en Dawkins), se moleste hou nooit op nie en sorg vir baie vermaak.

Alhoewel die toilethumor in hierdie boek dalk nie in elke leser se smaak sal val nie, is hierdie boek ʼn heerlike leeservaring vir enige jong diere- en veral perdeliefhebber.

An-Mari Fouché
An-Mari Fouché is ‘n Skryfkunsstudent aan die Noordwes-Universiteit (Potchefstroomkampus) 2016.
2016-10
0
Would love your thoughts, please comment.x