Pienk bikini

Pienk bikini (resensie)

Christien Neser
LAPA
Resensie deur Rouxné van der Westhuizen

Die meisies van die Middernagklub en hulle “megahipersuper-avonture” leef voort in die Kondensmelk-reeks se agste boek. Die bekende omgewing van Gravitas, die privaatskool waar Elle Kroon en haar maats die beste en moeilikste dae van hulle lewens deurbring, word weer deur die leser se verbeelding oorgeneem as ’n plek waar die meisies hulself en hul identiteite begin ontdek.

In Pienk Bikini is Elle – pas aangewys as die nuwe hoofmeisie van Gravitas – en haar vriendinne aan die einde van hulle graadelf jaar, en word daar nog net gepraat oor die moontlike uitdagings en bekommernisse wat matriek vir hulle inhou. Die storielyn fokus op die temas van vriendskap, leierskap en vertroue. Wanneer ’n onskuldige foto van Elle dreig om uit proporsie geblaas te word, kry sy haar eerste smakie van die uitdagings wat haar posisie as hoofmeisie na haar kant toe gaan gooi. Die plot is getrou aan die trant van ’n hoërskoolvlakverhaal oor tienerkwessies en -gevoelens, wat hierdie boek ten opsigte van storielyn baie sterk bind aan al die vorige boeke in die reeks.

Elle se verhouding met Alex, wat telkens landuit reis en sy avontuurlustige geaardheid probeer voed, volg in elke boek tot op hede dieselfde patroon van hy wat weg is, terugkom na Elle toe, en binnekort weer weggaan (tot die volgende boek toe). Afgesien van die afstand, bly hul verhouding steeds sterk en sonder konflik. Elle se liefde vir gemeenskapsdiens en haar betrokkenheid by die kinderhuis, Kaya Kumba, gee ’n mooi element aan haar karakter wat deur die leser bewonder kan word. Die manier hoe sy haar vriende en ander mense blykbaar moeiteloos ook oor Kaya Kumba laat omgee, is ’n goeie uitbeelding van haar charismatiese persoonlikheid: sy beïnvloed dikwels die mense rondom haar, sonder dat die leser uit die eerstepersoonsperspektief kan agterkom dat sy dit opsetlik doen. Soos haar nuwe vriendin en mede-leier in die boek, Shia, ook op ’n stadium uiter: dinge gebeur net met Elle.

Die klimaks van die verhaal dien as ’n goeie samevatting vir die paar subplotte in die storie, en al die spanning wat teenwoordig was, word opgelos. Die storielyn is in hierdie sin baie veilig, tot aan die einde: die leser weet alles sal uitwerk vir die goed, en dit is essensieel in hierdie vorm van jeugliteratuur.

Die optrede van die ander karakters is tipies getrou aan die hoërskoolmeisie-beeld van wat ’n vriendin behoort te wees: ondersteunend, moedig mekaar aan om pret te hê én hard te werk, en bly altyd lojaal. Dit is ’n aspek waarmee jong lesers maklik kan vereenselwig, en wat Pienk Bikini ’n nuwe gunsteling onder getroue Kondensmelk-aanhangers sal maak.

Rouxné van der Westhuizen
Rouxné van der Westhuizen is ‘n Skryfkunsstudent aan die Noordwes-Universiteit (Potchefstroomkampus) 2017.
2017-05
0
Would love your thoughts, please comment.x