Wanneer mens na die kleurryke voorblad kyk, met die seun wat blyk asof hy die sterre met sy vingers wil raak, en in die sprankelende titel kan aflei, gaan hierdie verhaal oor tieners met groot drome en vele passie daarby. Byron Carelse is ’n begaafde danser – en dans is “sy energie, sy passie, sy geluk… sy vonk”. Maar hoe kan ’n jong man sy droom bereik in ’n afgeleefde huis in die townships met ’n ma wat gedurig besope is? Fanie Viljoen kry dit weer eens reg om afgesaagde temas soos armoede, swendelary en alkoholisme vir die leser op ’n varser wyse oor te dra.
Zinelda McDonald se artistieke bydrae tot die kleurvolle illustrasies op die voorblad en in die boek self, verlig die swaar temas met ’n spelerige, optimistiese atmosfeer en behou die leser se oë vasgepleister op die bladsye. Hierdie jeugroman is ook in eenvoudige, verstaanbare taal geskryf, perfek vir onwillige lesers en lesers wie se tweede of derde taal Afrikaans is.
Die gebeure volg chronologies op mekaar. Byron het ’n droom om te dans en, saam met sy vriendin en ’n groep talentvolle tieners, word hulle meegesleur deur Claude se sjarme en beloftes van roem. Ongelukkig is dit nie so maklik om dit te kry wat jy graag wil hê nie – en Byron vind dit maar te vinnig uit. Tussen hom en sy droom lê daar moeilike keuses wat hy moet maak asook harde werk en baie hoop wat hy moet insit.
Hierdie tienerfiksie is geskik vir lesers bo die ouderdom van elf jaar.
Dromers is uitgegee deur LAPA-uitgewers.