Al wat Karel Kraai wil doen, is sing. Van die oggend tot die aand maak hy al die voëlgeluide na: “Koekoe-roe-koe!” soos Duif en “Sie-sie-terie!” soos Janfrederik en “Kraaaa!” soos die kraaie. Hy maak al te lekker musiek, maar al die ander voëls in die woud word skoon verbouereerd! Hoe nou gemaak?
Hierdie lekkerlees storie met sy groot verskeidenheid voël-karakters bied ʼn prettige geleentheid om oor verskillende voëls en hul geluide te leer. Die storielyn is sterk maar eenvoudig genoeg vir jong kinders om maklik te kan volg, en die karakters is oulik en humoristies geskryf. Bowenal kom daar ʼn sterk tema deur van wees net jouself, en Mamma Kraai se liefde en beskerming van haar Kareltjie Kraai gee die leser ʼn warm gevoel.
Deur Louise Smit se talentvolle pen word daar nuwe lewe gegee aan ʼn ou, geliefde karakter. Hierdie boek verskaf tonne voorlees-pret, van al die voëlgeluide om na te boots tot Smit se slim woordspelings. Met Luan Serfontein se groot, kleurvolle illustrasies en die lekker-blaai bladsye is hierdie ʼn boek wat die kleinding heerlik gaan laat “lees”.