Kate Brink is ʼn opregte Johannnesburger, maar nadat haar pa sy werk verloor en hulle skielik arm is, verander haar hele lewe. Die Brink-trauma, soos sy dit noem, lei haar en haar gesin ver van haar geliefde Goudstad en Fab-susters: Paarl toe, plaas toe. Tussen haar broer Dieter se permanente knorrigheid, die vrolike en vriendelike plaasmeisie Els, ʼn getraumatiseerde perd wat haar hartsnare raak en die plaaseienaars se aantreklike seun, Will, leer sy ʼn hele nuwe kant van die lewe ken en ontdek wie sy self is en wil wees.
Kate in Harmonie is ʼn lekkerlees, hetsy ietwat onoorspronklike en voorspelbare, verhaal oor ʼn meisie en ʼn perd. Die pragtige wêreld van die wyn- en perdeplaas in die Paarl met Tafelberg in die agtergrond word goed deur van den Berg beskryf, en skep ʼn sterk kontras met die wêreld van inkopiesentrums en geboue wat die karakters agterlaat. Kate se hartseer oor die lewe wat sy moes verlaat, laat haar aanklank vind by Harmonie se trauma, en deur uit te reik na die perd toe vind sy eindelik self ʼn pad na vrede. Ek voel wel dat haar stadsmeisie geaardheid sterkter kon deurkom in die begin. Daar word gereeld verwys na haar haat en vrees vir die natuur en diere, maar wat gewys word, is eerder hoe sy straathonde voer en dadelik die perde gaan besoek. As gevolg hiervan kom haar bedoelde karakterontwikkeling van stadsmeisie na plaasmeisie nie sterk genoeg deur nie. Die romantiese element tussen Kate en Will (elke tienermeisie se droom) word egter baie goed hanteer, met ʼn stadig-groeiende vonk wat op die regte tyd in ʼn vlam omsit.
Van den Berg se gebruik van tegnologie, veral Whatsapp, is ʼn sterk pluspunt vir hierdie verhaal. Die Whatsapp-groep “Fabulicious” vir Kate en haar Johannesburgse vriendinne is slim hanteer en wys ʼn goeie kennis van tieners en hul selfoongebruik. Terselfdertyd skep dit ook die afstandsgevoel wat Kate beleef omdat sy nie meer so deel is van hulle nie. Die taalgebruik op die groep is ook goed hanteer, sonder om oordrewe of geforseerd te klink. Oor die algemeen is Van den Berg se taalgebruik beide in dialoog en narratief van ʼn goeie standaard en ook gepas vir die teikenmark. Tog dink ek die skrywer kon meer gebruik gemaak het van Kaapse taalgebruik en dialekte om die Kaapse karakters stewiger te skep en die Brinks se andersheid in hul nuwe omgewing te bewerkstellig.
Die verhaal bevat verskeie relevante en goed hanteerde temas wat baie jong lewens aanraak: ouers wat werkloos is, drank- en dwelmmisbruik, vriendskap en familieverhoudings. Dit, tesame met elemente soos jong liefde en ʼn bekende tog geliefde storielyn, verseker dat hierdie ʼn jeugverhaal is wat by tienermeisies, veral die met ʼn liefde vir perde, sal aanklank vind.