Selfies, seksklets & slimfone (resensie)

Emma Sadleir & Lizzie Harrison
LAPA
Resensie deur Rina Greyling

Hierdie is ‘n praktiese gids wat elke tiener en volwasse sosiale mediagebruiker móét lees. Alhoewel die titel aandui dat die teikenmark van hierdie oorlewingsgids tieners is, is dit nie net tieners wat sal baat vind by die lees daarvan nie.

Die leser word nie ontmoedig om sosiale media te gebruik nie (hulle word selfs aangemoedig) maar word duidelik gewaarsku teen die gevare en implikasies wat jou kan tref as jy die basiese veiligheidskwessies ignoreer.

Soos in alle gevalle waar jy jou vasloop in die wet, kan jy , wanneer jy die wet oortree deur jou gebruik van die sosiale media, nie onkunde pleit nie. Die gids help die leser om die wetlike aspekte te verstaan.

Die leser kry o.a. nuttige wenke oor hoe om kuberboelies en ander grillerige karakters te hanteer en waar jy hulp kan kry indien jy wel ‘n slagoffer van boelies of ander lasposte word. Jy kry wenke oor waarna jy moet oplet wanneer jy van Uber gebruik maak,  watter foto’s jy moet plaas (of liewer nié moet plaas nie). Jy raak bewus van wat al daardie terme en voorwaardes beteken waarvoor jy so maklik “ja” sê en hoe belangrik jou privaatheidstellings is.

Die leservriendelike vertaling deur Jaco Jacobs dra by tot ‘n gemaklike leeservaring.

(Resensie deur Rina Greyling)

Rina Greyling
Rina Greyling is ‘n Departementshoof in Afrikaans aan Hoërskool Ben Viljoen, Groblersdal.