Grilgrypers 3: Kamp vir monsters (resensie)

De Wet Hugo
Human & Rousseau
Resensie deur Cari Cloete

Die derde boek van die “rillerige, hoendervleis-lekker” Grilgryper-reeks belowe bloederige tonele,  donker woude vol vreemde en vreeslike monsterhibrides en karakters wat ’n kamp uit die hel moet oorleef. Dis nou te sê as die voorblad dit nie klaar duidelik genoeg aandui nie. En dan is daar nog die hoender op mensbene wat selfs mý vel laat kriewel nie!

Clayton, ons protagonis, word na ’n rehabilitasiekamp vir probleemtieners gestuur nadat hy sy pa se verloofde, Tannie Themba, se Range Rover met ’n skroewedraaier gekrap het. Die kamp is diep in ’n woud geleë – het ek genoem dat Clayton ’n fobie vir bome het? – met drie sekuriteitshekke en twee mentors wat hulle lewe onleefbaar maak. Bowenal is die tieners by Kamp Mentors nie veilig nie… Kinders raak weg of gaan van eienaardige oorsake dood en dan is daar die onmenslike geluide wat vanuit die omringende woud kom.

Hiedie is spanningsvolle leesstof vir jong lesers tussen die ouderdom van nege en twaalf met ’n voorliefde om raaisels en donker geheime aan die lig te bring. Met ’n hele klomp ongesiene wendings en ’n snaarstywe spanningslyn wat die leser selfs na die laaste bladsy nie heeltemal los nie, is Kamp vir monsters ’n ordentlike grilboek.

Behalwe vir die rillerige dele, beeld die boek gesinskwessies uit en die invloed wat dit het op kinders, soos die aanpassing om ’n stiefouer te hê en die nagevolge van gesinsgeweld. Alhoewel die karakters as probleemkinders gebrandmerk word, is hulle alles behalwe dit. Een karakter wat by my gebly het, is Ferdi (ook genaamd Spiertier deur een van die mentors). Sy voorkoms is dalk intimiderend, maar hy is saggeaard en word vinnig vriende met Clayton. Dit laat mens wonder: wie die ware monsters is.

Cari Cloete
Cari Cloete is ‘n student is Skryfkuns Honneurs aan die Noordwes-Universiteit, Potchefstroom, 2019.