Ek en Prins Donkerkuif

Ek en Prins Donkerkuif (resensie)

Dihanna Taute
Human & Rousseau
Resensie deur Cari Cloete

’n Pienk voorblad vol hartjies met die woord “Prins” in die opskrif…

As dié boek homself nie duidelik genoeg as ’n liefdesverhaal bemark nie en die leser steeds onoortuig is, staan die voorletters LB (hartjie) FB middel regs swart en groot. Lehandi Botha het haar huiswerkboek toe versier met haar en Frans Bruwer, die vermoedelike hunk met die “donker hare, breë skouers en merske kuite,” se voorletters.

Soos die swart mussie, swart donkerbrille en swart hemp dit voorspel, sukkel Lehandi, met haar “emo look” en ouers wat sommer in die straat op mekaar skel, om by ’n nuwe skool in te pas. Sy probeer alles in haar vermoë om nie op die bodem van die skoolhiërargie te beland nie. Maar met een nerdy vriendin wie se asem na vispatee ruik, sal sy nie ver kom nie. Om dinge te vererger word sy geteister deur Drayke Hunter, ’n seun wat nie nee vir ’n antwoord vat nie.

Lehandi se karakter is diepdelwend en eg. Sy wissel tussen ’n dolverliefde tienermeisie, ’n totale ongeluksvoël en ’n rebel wat voel haar ouers en die lewe behandel haar onregverdig. Sy maak foute. Sy kry woedeuitbarstings en huil snot en trane. Sy voel sy wil Drayke aanrand wanneer hy op haar knoppies druk. Die vertelstyl is op tye skreeusnaaks en ander tye luister jy maar saam met Lehandi na Reqita (haar oudboesemvriendin) se CD wanneer dinge te erg raak. Taute benut die voordele van ’n eerstepersoonverteller ten volle. Lehandi se gedagtes en gevoelens word in sy intiemste vorm aan die leser bekend gemaak.

Terwyl die loop van gebeure ’n reëlmatige pas behou en die riglyne van ’n tipiese liefdesverhaal gevolg word, is die verhaal ver van vervelig af. In hierdie geval lees jy agter die karakter aan. Lehandi trek jou in en los jou eers wanneer die laaste sin gelees is.

Cari Cloete
Cari Cloete is ‘n student is Skryfkuns Honneurs aan die Noordwes-Universiteit, Potchefstroom, 2019.