Weg

Weg (resensie)

Nerine Ahlers en Alet Steenkamp
LAPA
Resensie deur Cari Cloete

Nerine Ahlers en Alet Steenkamp is bekend vir hul trefferreeks vir tienermeisies, die SSS-reeks, waaraan hulle saam geskryf het. Hierin volg ons vir Lindie en haar boesemvriendinne waar hulle doodgewone tienermeisies is, maar op een of ander manier altyd verstrengel word in gevaarlike situasies en kriminele komplotte. Belaai met aksie, spanning, liefde en vele drama, hierdie reeks bly ’n gunsteling onder meisies jonk en oud. Selfs na tien jaar raak ek nostalgies oor my laerskool-dae as ek ’n SSS-boek raakloop en wens ek sit weer in my Afrikaans-juffrou se klas en lees Seesand, sonbrille en smokkelaars.

“Niekie verdwyn spoorloos…” lees ek die eerste sin op die agterblad van die twee skrywers se nuutste jeugroman Weg.  Alhoewel daar spanningselemente in die SSS-reeks voorkom, het ek nie heeltemal ’n boek oor ontvoering verwag nie. Die voorblad met die meisie wie se gesig deur die son verdoesel word, reflekteer iets wat jy op die voorblad van ’n liefdesverhaal verwag. Totdat jy besef dat die strale die figuur amper heeltemal uitvee en dan begin die prent soos ’n legkaartstukkie by die groot blou letters in te skakel.

Zack Meyer se matriekjaar word skielik omgekeer toe Niekie, sy meisie, sonder enige woord verdwyn. Dit is vir niemand vreemd nie, omdat Niekie al voorheen die pad gevat het sonder om enigiets te sê. Haar kunstenaargees belet haar ook om altyd Zack se boodskappe te antwoord en hy is al gewoond daaraan dat haar foon altyd pap is. Tog kan hy nie ontspan en op rekordeksamen fokus totdat hy doodseker is sy is veilig nie.

Die karakters is oortuigend en dinamies. Niekie bly regdeur die verhaal ’n sterk karakter, ongeag die feit dat sy ’n slagoffer is. Die leser ervaar simpatie vir die ontvoerder en sy redes. Die spanningslyn bly styf gespan tot aan die einde toe en alhoewel daar taamlik min onvoorspelbare kronkels te vore kom, is die roman nie vervelig of tydrowend nie.

Ek beveel hierdie boek aan vir enige tieners wat in spanningsverhale met ’n knippie liefde daarby belangstel.

Cari Cloete
Cari Cloete is ‘n student is Skryfkuns Honneurs aan die Noordwes-Universiteit, Potchefstroom, 2019.