Wanneer ‘n oorwerkte keurder by ‘n uitgewery jou manuskrip oopmaak en begin lees, moet jou storie haar met die intrapslag boei, anders is die kans skraal dat sy verder as die eerste paar paragrawe sal vorder voordat sy dit opsy stoot. As hierdie houding vir jou hard en ongenaakbaar klink, moet jy jouself hierdie vraag afvra: As my storie nie ‘n leesfiks volwassene kan boei nie, wat is die kans dat dit ‘n ongeduldige kind sal interesseer?
Om ‘n nuwe boek te begin lees is vir die meeste jong lesers ‘n groot uitdaging. Hulle wonder of dit die moeite werd gaan wees en of daar nie dalk iets lekkerders is om te doen nie. Dikwels kla hulle: “Ek kom nie in die storie in nie …” Alte dikwels word hulle bestempel as “lui om te lees”, terwyl dit in werklikheid die skrywer is wat nie ‘n skerp gefokusde produk gelewer het nie. Te dikwels is die storie se begin belas met onnodige karakters, langdradige beskrywings en trae insidente wat die storieprobleem verbloem sodat die leser nie weet wat aangaan nie en verveeld en gefrustreerd voel.
Indien jy as skrywer wil hê jou boek moet verby die neersit-toets kom, moet jy jou storie só skryf dat jou lesers onmiddellik by die hoofkarakter, plek en probleem betrokke sal wees en nie sal kan wag om om te blaai nie. Met ander woorde, jy moet ‘n sterk begin skryf.
Dit beteken jou storie moet drie elemente hê. Eerstens moet daar ‘n karakter wees wat só vreemd, anders of dinamies is dat die leser eenvoudig móét weet wat alles met hierdie persoon gaan gebeur. Tweedens moet die storie wegtrek by die oomblik van verandering in die lewe van die karakter. Nié daar waar sy opstaan, aantrek, kombuis toe stap en haar mieliepap eet net om drie bladsye verder haar tande te borsel nie. Nee, daar waar iets gebeur sodat alles dramaties anders is. Derdens moet jou storie wegtrek met aksie, dialoog en ‘n prikkelende probleem wat jou leser sal laat sê: “Wat nou?”