Die twaalf vroue-voëls

Petro Cornelius
Daar was eenmaal in Afrika 'n mannetjiesleeu wat onder die grootste boom in die land geslaap het.

Daar was eenmaal in Afrika ‘n mannetjiesleeu wat onder die grootste boom in die land geslaap het. Bo in hierdie boom het daar twaalf vroue-voëls met die mooiste stemme gebly en hulle moes die mannetjiesleeu elke oggend wakker fluit. Op ‘n dag verslaap die mannetjiesleeu egter en word hy eers teen laatmiddag wakker. Hy was briesend kwaad en het die hele Afrika laat bewe met sy brullende stem: 
“Hoekom is ek nie vanoggend wakker gefluit deur die twaalf vroue-voëls in my boom nie?”
Een brawe grondeekhoring wat die oggend vroeg wakker was en die hele gedoente aanskou het, nader die mannetjiesleeu huiwerig.
“Die twaalf vroue-voëls se stemme is hees. Hulle het geproes en gespoeg, maar hulle stemme is uit gefluit.”
Die mannetjiesleeu brul ‘n geweldige brul en die eekhoring skarrel vinnig weg.
“Wel, dit beter die laaste maal wees wat dit gebeur,” sê die mannetjiesleeu.

Die volgende oggend en die een daarna en sommer nog ‘n oggend, word die mannetjiesleeu nie deur die twaalf vroue-voëls wakker gefluit nie, omdat hulle stemme hees is.
 Die leeu het nou net mooi genoeg gehad van hierdie situasie en hy besluit om ‘n daadwerklike plan aan te wend.
Hy brul al die diere in Afrika nader en sê in sy dreunende stem: “Die een wat binne drie dae kan uitvind hoekom die twaalf vroue-voëls in my boom elke oggend hees is, kan langs my onder die grootste boom in Afrika slaap en ná my dood die boom besit.” 
 Hierna het diere van alle grootte en soorte na die mannetjiesleeu gekom om die raaisel van die hees vroue-voëls op te los. Almal wou ‘n slaapplek onder die grootse boom in Afrika, met sy heerlike koelte, hê. Die jakkals, die kameelperd en selfs die slang het tevergeefs probeer. Om hulle mislukte pogings te straf het die mannetjiesleeu hulle verskeur en opgevreet.

‘n Verkleurmannetjie het die gedoente nuuskierig bekyk en gewonder of hy nie ook maar sal probeer vasstel hoekom die twaalf vroue-voëls elke oggend hees is nie. Die wyse ou uil van Afrika het langs hom kom sit, om te kyk of daar al enige vordering is. 
“Hoekom probeer jy nie die raaisel oplos nie, verkleurmannetjie? Met jou kamoefleringvermoë behoort jy die voëls maklik ongesiens te kan volg. Jy moet net jou ore styf toemaak wanneer dit skemer word, sodat die twaalf vroue-voëls jou nie aan die slaap fluit met hulle betowerende stemme nie.”

Nadat hy met die wyse ou uil gepraat het, gaan meld die verkleurmannetjie homself aan by die mannetjiesleeu. Hy word net soos al die ander diere ‘n regverdige kans gegun. Die verkleurmannetjie maak homself tuis op ‘n tak langs die twaalf vroue-voëls in die grootste boom in Afrika. Skemertyd maak hy betyds sy ore styf toe, sodat die twaalf voëls hom nie met hulle sang aan die slaap kan sing nie. Hy maak sy oë toe en flous die meisie-voëls om te dink dat hy slaap.
 Die verkleurmannetjie loer so skelmpies deur sy een oog net toe die een voël drie maal aan die boom se bas pik. Die boom se bas maak ‘n opening waardeur al twaalf vroue-voëls al fladderend vlieg. Die verkleurmannetjie sien sy kans en agtervolg die vroue-voëls deur die gat in die boom. 
 Terwyl die twaalf vroue-voëls hoog vlieg volg die verkleurmannetjie op ‘n betowerende paadjie van goue gras en blink klippe. Hy volg hulle tot by ‘n groot meer waar daar twaalf manne-voëls met skitterende vere hoog bo die water sweef. Die verkleurmannetjie kyk in vervoering na die pragtige, kleurryke mannevoëls. 

Toe die manne-voëls die vroue-voëls sien duik hulle af in die silwer water en begin hulle was. Hulle vere blink en skitter selfs helderder vol druppels silwer water. Wanneer hulle opvlieg in die lug weerkaats hulle vere helder blou, rooi en geel in die water. Die vroue-voëls vlieg nou hoog bo die silwer water en fluit hulle betowerende sang vir die manne-voëls wat bad. 
 Die verkleurmannetjie luister in vervoering die hele nag na die pragtige klanke van die twaalf vroue-voëls. Eers toe die twaalf vroue-voëls se stemme weggefluit is keer hulle terug na die opening in die boom. 
 Die verkleurmannetjie het gelukkig vooruit gegaan, omdat hy weet dat hy ‘n bietjie stadiger beweeg op die grond, as die vroue-voëls in die lug. Terug op die boom sit hy doodstil met sy toe oë en die twaalf vroue-voëls is daarvan oortuig dat die verkleurmannetjie slaap.

Die volgende aand gaan luister die verkleurmannetjie weer na die twaalf vroue-voëls se pragtige stemme. Hy kyk verwonderd hoe die manne-voëls van hoog in die lug afpyl tot in die silwer water en weer opvlieg in die lug, skoon en blink. Die verkleurmannetjie is ook betower deur die goue gras en die blinkende klippe in hierdie vreemde wêreld en neem daarvan saam om vir die mannetjiesleeu te gaan wys.

Die tyd breek toe aan dat hy die antwoord vir die raaisel aan die mannetjiesleeu moet uitlê. Die verkleurmannetjie gaan vol selfvertroue na die mannetjiesleeu en vertel hom van die wonderwêreld binne die grootste boom in Afrika.
“Die twaalf vroue-voëls sing elke aand hulle stemme hees vir die twaalf manne-voëls in hierdie vreemde wêreld,” sê die verkleurmannetjie. Hy wys vir die mannetjiesleeu ‘n goue grassie en blink klippie.
Die mannetjiesleeu kyk verstom na die twaalf vroue-voëls wat hoog in die boom sit en vra hulle of die verkleurmannetjie die waarheid praat. 
 Die twaalf vroue-voëls kan nie antwoord met hulle hees stemme nie, maar knik hulle koppe op en af. Die vroue-voëls kan nie glo dat hulle uitoorlê is deur die kleine verkleurmannetjie nie. 
 Die mannetjiesleeu gee toe opdrag dat die twaalf manne-voëls se pragtige vere gepluk moet word om ‘n kroon vir hom en die verkleurmannetjie te maak. 
 Die verkleurmannetjie het van daardie dag af saam met die mannetjiesleeu die grootste boom in Afrika gedeel. 
 Die twaalf vroue-voëls het die mannetjiesleeu en die verkleurmannetjie elke oggend wakker gefluit en treurig gedink aan hulle twaalf manne-voëls.

(Skrywer: Petro Cornelius)

Petro Cornelius
Die storie is geskryf deur Petro Cornelius. Petro is ‘n tweedejaarstudent in Skryfkuns aan die Noordwes-Universiteit, Potchefstroom. Oktober 2007.
Illustrasies deur * Die illustrasie is deur Yvette de Beer.
Vir navrae oor illustrasies kontak haar by exart@vodamail.co.za
Kopiereg: Petro Cornelius. Hierdie sprokie is gabaseer op die verhaal van Die twaalf prinsesse.
2009-05
0
Would love your thoughts, please comment.x