prinses

Elke prinses kry haar dag

Lize Regenass
Een dag lank lank gelede was daar 'n baie kwaai prinsessie.

Een dag lank lank gelede was daar ‘n baie kwaai prinsessie. Haar naam was Aster. Sy het twee baie oulike stiefsusters gehad, Karlien en Heide.
 Aster was baie onvriendelik en het nooit in die huis gehelp nie sy het net heeldag gesit en mooi lyk.
Die koning hou vanaand ‘n groot bal vir sy seun, die prins, om vir hom ‘n vrou te kies. 

“Ek het twee uur ‘n afspraak met mý goeie feë, ek hoop sy het ‘n paar nuwe toorkunsies geleer, want ek is regtig moeg vir dieselfde tipe rok wat sy ELKE KEER vir my toor!” kla Aster terwyl sy op haar bed lê en dromerig by die venster uitkyk. “En buitendien, as ek die prins wil hê sal ek regtig mooi moet lyk, nou nie dat ek nie mooi is nie. Ek is seker hy gaan my vanaand raaksien!” 
Karlien en Heide is al moeg om te hoor hoe sy die prins gaan kry.
“Net jammer die prins het nog nie een keer vir haar gekyk nie!” fluister Karlien in Heide se oor. Hulle giggel en Heide sê, “Ja, hy is mos agter daai mooi enetjie aan…wat is haar naam?”

“Wat sê julle? Ek hoop nie julle praat van my nie?” Aster het haar nou vervies omdat hulle nie aan haar aandag gee nie. Sy sit glad regop.
“Niks nie! Ontspan sus… Jy moet reg maak, jóú feë kom amper!” 
“Gaan julle my nie help reg maak nie? Hoe op dees aarde dink julle moet ek dit nou self doen, huh?” Aster kyk haar susters aan asof sy iets baie stinks ruik. 
“Nee wat man, jy kan dit mos self doen.” 
“Ekskuus?” Karlien en Heide hoor Aster se gevaarlike stemtoon en besluit maar om haar te help.

*

Die feë verskyn met ‘n harde geluid in Aster se kamer. Aster val amper van die bed af toe sy die slag hoor. Die feë is ‘n halwe minuut laat. Sy skud die stof van haar koddige lyfie af.
“Ag, uit eindelik, ek dog jy gaan nou nooit meer kom nie. Kom, kom, kom. Laat ons begin… Ek hoop jy het nuwe goed geleer, ek is moeg vir die oues.” Aster klink vies. 
Die feë rol haar oë vir Aster, maar só dat sy dit sien nie, sy haal haar towerstaffie uit en gaan sit op die bank.”
“En nou?” vra Aster ontsteld, “Ons gaan moet begin as ek klaar wil kry…”

“Ek het ‘n ongelooflike nuwe toorkunsie geleer, soos jy sal sê, maar dit is baie gevaarlik. Jy sal presies moet doen wat ek vir jou sê anders kan dinge rampspoedig uitdraai.” Sy gaan sit op die bank en toor vir haarself ‘n koppie tee en ‘n stukkie koek.
“Ag, asseblief, wat kan tog so erg wees? Doen eers my rok, hare, grimering en belangrikste van alles, my skoene, ek wil mooi skoene hê, dan besluit ek of ek daarvan hou. Dan vertel jy my van die gevare!”
“Dit is belangrik dat jy eers moet luister…” Die feë weet dit is sinneloos om haar te probeer om praat, maar probeer elk geval. Sy vat ‘n slukkie tee ‘n happie koek. 
“Doen net wat ek sê, jy weet ek raak baie kwaad as ek nie kry wat ek wil hê nie.” Aster sê dit baie mislik. 
Die feë staan van die bank af op, sy vee die koekkrummels van haar skoot af, en gaan staan voor Aster. “Biebe die babedie da!” 
Aster se rok verander in die mooiste groen syrok. 

“Dit is die mooiste rok wat ek nog ooit gesien het!” Aster bekyk haarself in die spieël.
Die feë praat weer. “La la die rie die ra!” 
Aster se hare verander in krulle, deur haar lokke is pêrels gevleg. Haar oë skitter en haar lippe is rooi.
“Ting te rieng lieng!” Aan Aster se voete verskyn die mooiste hakskoene. Die skoene is groen met pêrels en diamante op, daar is ‘n lint wat om haar enkels gaan. Die hakke is hoog met sitriene oral om.
“Aaah! Die skoene! Dit is die mooiste skoene! Ek lyk so mooi! Ek het nog nooit so mooi gelyk nie!” Sy draai om en om voor die spieël terwyl sy haarself bewonder.

“Die prins gaan my definitief vanaand raak sien! Aaah, hy is so mooi, met sy donker hare en kobalt blou oë…” Aster maak asof sy met iemand dans.
“Jy moet nou mooi luister, Aster,” sê die feë.
Aster maak of sy luister…
“As die klok twaalf uur slaan en jy het nie albei jou skoene aan nie dan gaan jy in ‘n huiswerker verander…” 
Aster is nog besig om na haarself te kyk. 
“Hoor jy wat ek sê?”
“Mmmm? O ja, ek hoor!

Die saal is pragtig versier daar is oral kandelare met kerse in. Die dansbaan lê voor haar uitgestrek, dit blink in die ligte. Al die dames staan in ‘n ry om die prins te groet. Karlien en Heide lyk mooi met rooi rokke. Toe Aster voor kom, kan die prins nie sy oë van Aster af hou nie.
“Jy is die mooiste meisie in die ryk! Hoe het ek jou nog nooit raakgesien nie?” 
Aster bloos.
“Sal jy met my dans?” 
Die prins dans so lekker, hy dans vir Aster skoon uit haar skoene uit. Die aand gaan vinnig verby.

“Dit is die lekkerste aand ooit!” fluister Aster in die prins se oor. 
Die prins leun nader aan Aster om haar te soen. TOE… slaan die klok twaalf uur. Aster wat, niksvermoedende, wag vir ‘n soen, se hare word weer reguit, haar grimering verdwyn, haar rok verander in ‘n bruin geskeurde rok en haar skoene… waar is haar skoene? 

Die prins soen haar en maak sy oë oop. Hy skrik so groot dat hy van sy stoel af val. Aster kan nie verstaan wat aan gaan nie. Sy kyk af en sien haar rok is in flenters. 
“Wat gaan aan? Kyk hoe lyk ek!” 
Sy hardloop gillend by die saal uit.

Die volgende dag kry die skoonmakers die pragtige skoene, met pêrels, diamante en sitriene op, in die saal. En tot vandag toe weet niemand aan wie dit behoort het nie.

(Skrywer: Lize Regenass)

Lize Regenass
Die storie is geskryf deur Lize Regenass. Lize is ‘n tweedejaarstudent in Skryfkuns aan die Noordwes-Universiteit, Potchefstroom. Oktober 2008.
Illustrasies deur * Die illustrasie is deur Yvette de Beer.
Vir navrae oor illustrasies kontak haar by exart@vodamail.co.za
Kopiereg: Lize Regenass. Hierdie sprokie is gebaseer op die verhaal van Aspoestertjie.
2009-05
0
Would love your thoughts, please comment.x