Skryfoefening 15 uit “Die land van stories”
a)
Jy sit nou êrens in hierdie boek en lees en jy gaan nou weer skryf. Waar is
jy?
b) Wat sien jy?
c) Wat hoor jy?
d) Wat ruik jy?
e) Wat voel jy? (met jou tone/vingers)
f) Wat proe jy? (Jy drink/eet darem seker iets?)
g) Wat sê jou sogenaamde “sesde sintuig” op hierdie oomblik vir jou?
Motivering vir skryfopdrag 15
Prentjies
Ons het nou reeds “Wat dink jy?” en “Wat voel jy?” gedoen. Hier is nou sprake van die sintuie.
Wanneer
‘n mens skryf, het jy slegs woorde tot jou beskikking. Daardie woorde moet
prentjies maak in jou leser se kop. Hoe? Jy moet die lesers se sintuie betrek,
sodat dit vir hulle voel, asof hulle werklik in die storie is, al sit/lê hulle
êrens en lees ‘n boek. Selfs al skryf jy ‘n prenteboek, moet jou storie
prentjies maak in die illustreerder se kop!
Nou!
Hierdie skryfopdrag is ook nuttig om jou eie waarnemingsvermoëns op te skerp.
‘n Groter bewuswees van die gebeure rondom jou, bring ook ‘n meer daadwerklike
besef van in die oomblik “leef”.
Dis ‘n algemene menslike kwaal dat ons óf in die verlede óf in die toekoms
leef, óf, byvoorbeeld, tob oor alles wat “verkeerd” geloop het, óf in
dagdrome visualiseer van hoe alles beter kan word, indien dit nie op die
oomblik na jou smaak is nie. Maar ons leef oomblik vir oomblik – dis die
realiteit van menswees. Of ons dit wil weet of nie, elke minuut wat verby is,
is verby! Klein kindertjies leef net in die oomblik! Eers wanneer hulle groter
word, kry hulle ‘n “verlede” en ‘n “toekoms”.
Karakters doen natuurlik dieselfde as ons! Wat jy in jóú “oefen”, sal
jy makliker in húlle kan beleef en skryf.