Rudi en sy hamsters, Maximus en MacGyver, is soos beste maats. Wanneer Rudi saam met sy maats boomklim of fietsry, is Maximus en MacGyver in sy hempsak. Wanneer Rudi met sy karretjies in die stof speel, is Maximus en MacGyver in sy hempsak. Selfs wanneer Rudi op die trampolien spring, is Maximus en MacGyver in sy hempsak.
(Tekening deur Abigail Paulse – Gr 5 Laerskool Gericke)
Gewoonlik het Rudi ‘n groot glimlag op sy gesig as hy en sy twee hamsters dinge saam kan doen, maar vanoggend is Rudi ongelukkig. Maximus en MacGyver is nie in hulle hok nie. Hulle is skoonveld!
“Maximus! MacGyver! Waar is julle?” roep Rudi terwyl hy tussen die saagsels in die hok soek. Hulle is nie daar nie.
Rudi hardloop na die kombuis waar sy ma besig is.
“Ma! Maximus en MacGyver is weg! Hy is nie in die hok nie,” sê Rudi bekommerd. “Wat gaan ons doen, Ma? Hulle kan nie weg wees nie. Ons wou vandag in die boomhuis gaan speel het!”
“Maximus en MacGyver moet hier iewers in die huis wees. Ons sal net na hulle moet soek,” sê sy ma en begin om in die kombuis te soek.
“Ek dink nie ons gaan hulle kry nie. Sê nou… sê nou Sussie se kat het Maximus en MacGyver opgeëet?” vra Rudi benoud.
“Nee wat, Gloria sal nooit so iets doen nie,” sê sy ma en vryf oor die groot, wit kat se rug.
Rudi kyk kwaai na Gloria. Dan begin hy om die rusbank se kussing op te lig. Maximus en MacGyver is ook nie onder die kussings nie. Hy buk en kyk onder die rusbank in. Hulle is ook nie onder die rusbank nie.
“Wat het met my sokkies gebeur?” hoor Rudi sy pa in die kombuis uitroep. Hy hardloop na die kombuis en begin dadelik lag toe hy sy pa se sokkies sien. Daar is twee yslike gate in sy pa se sokkies. Sy groottone loer by die gate uit.
“Pa, ek dink Maximus en MacGyver het aan Pa se sokkies geknaag. Dan moet hulle iewers in die slaapkamer wees!” sê Rudi en hy hardloop na die slaapkamer.
Rudi gaan staan handeviervoet en kyk onder die bed in. Maximus en MacGyver is ook nie onder die bed nie. Hy kyk agter sy ma se hangkas. Hulle is ook nie agter die hangkas nie.
Rudi gaan sit moedeloos op die bed.
“Maaaaa!” hoor Rudi sy sussie roep terwyl sy in die gang afhardloop. Vinnig hardloop hy agter haar aan tot in die kombuis.
“Ma, kyk hoe lyk my pop! Haar hare is af!” sê sy sussie ongelukkig en beduie na haar pop se kaal kop.
“Maximus en MacGyver! Dit moet hulle wees wat aan jou pop geknaag het, Sussie,” sê Rudi en hy sukkel om sy lag te hou.
Rudi se sussie staar kwaai na hom, maar Rudi steur hom nie daaraan nie.
Hy hardloop vinnig na sy sussie se kamer.
Rudi kyk tussen sy sussie se teddiebere en gooi die een na die ander oor sy skouer. Maximus en MacGyver is ook nie tussen die teddiebere nie. Rudi kyk agter sy sussie se spieëlkas. Hulle is ook nie agter die spieëlkas nie.
Moedeloos gaan sit Rudi tussen die teddiebere.
“Ag nee! Wat het met my graankos gebeur? Die boks was dan nou net nog heel gewees!” hoor Rudi sy ma in die kombuis uitroep.
Hy gooi die teddiebere eenkant toe en hardloop na die kombuis.
Die hele kombuisvloer lê vol graankos. Sy ma kyk kwaai na hom, die leë boks nog in haar hand.
“Maximus en MacGyver moes ‘n gat in die bodem van die boks geknaag het, Ma! Dan moet hulle nog hier iewers in die kombuis wees!” sê Rudi.
Hy begin om die laaie in die kombuis een vir een oop te maak. Maximus en MacGyver is ook nie in die laaie nie.
Rudi gaan lê op sy maag en loer onder die stoof in. Hulle is ook nie onder die stoof nie.
Moedeloos gaan sit Rudi op die kombuisvloer. ‘n Stukkie blou lap wat by die kombuiskas uitsteek, vang sy oog. Hy spring haastig op.
“Maar dit is dan ‘n stukkie van Pa se sokkies!” roep Rudi opgewonde uit. Hy maak die kombuiskaste een vir een oop.
“Maximus! MacGyver! Waar is julle?” roep Rudi na sy hamsters. Hy haal ‘n yslike kastrol uit die kas uit en sit dit op die kombuistafel neer.
“Maaaaa!” roep Rudi na sy ma. “Ma, kyk hoe lyk ma se kastrol!”
Daar is sokkies, graankos, stukkies karton en papier en pophare in die kastrol. Een van die sokkies begin te roer.
“Kyk, Ma! Die sokkie het beweeg!” sê Rudi opgewonde. Hy lig die sokkie stadig op.
(Tekening deur Gabrielle Cilliers – Gr 5 Laerskool Gericke)
“Wat? Ma, wat het gebeur?” Rudi kyk verbaas na die klein hamstertjies wat langs Maximus lê.
“Rudi, ek dink Maximus was al die tyd ‘n wyfie!” sê sy ma. “Jy sal haar nie meer Maximus kan noem nie.”
“Toemaar, ek gaan haar Maxine noem!” sê Rudi en kyk met groot oë na die pienk hamstertjies. “Een, twee, drie, vier, vyf, ses, sewe, agt, nege… Nege nuwe hamstertjies,” tel hy.
Rudi kyk na sy hempsak en dan weer na die hamstertjies. “Hoeveel hamsters dink Ma gaan in my hempsak pas? Hulle gaan nooit almal inpas nie!”
“Ek dink ons gaan dalk vir jou nog ‘n sak aan jou hemp moet vaswerk,” sê sy ma.
“Ja, dis ‘n plan! Dan kan ek al my hamsters saam vat as ek gaan fietsry!” roep Rudi opgewonde uit.
(Skrywer: Liana de Beer)