beer

Vlooitjie loop weg

Vonette Smit
Op 'n bed met wit lakens en sagte kussings bly daar 'n teddiebeer.

Op ‘n bed met wit lakens en sagte kussings bly daar ‘n teddiebeer. Hierdie teddiebeer se naam is Vlooitjie en hy het ‘n goue pels en groen knopie-oë. 
Van sy blyplek op die bed kan hy als sien wat in die kamer gebeur en hy weet presies waar elke meubelstuk is. 
Maar Vlooitjie is baie ongelukkig want sy maatjie, Anna, speel nie meer met hom nie. Sy laat hom ook nie meer saam met haar op die bed slaap nie. Nou dat sy groot geword het, sit sy hom in die aand op die spieëlkas en los hom daar terwyl sy alleen in haar lekker warm bed slaap. 

Anna het ook al haar ander speelgoed weggegee of in haar kas weggepak. Dis nou net Vlooitjie en Lappop oor in die kamer.
Vlooitjie is baie bang dat Anna hom ook kas toe gaan verban! Hy is so bang en so ongelukkig dat hy daaraan dink om weg te loop…


Toe Anna vergeet om die deur te sluit vat Vlooitjie sy kans. Hy spring van die bed af en land op die mat. Hy het nog nooit van die mat gehou nie, want dit krap sy pootjies. 
 Hy is nou bang, want hy ken nie hierdie deel van die kamer nie. Alles lyk soveel anders van onder as van bo. Die spieëlkas se vet houtpote toring bo hom uit en die punt van die wit laken hang op die vloer, reg vir iemand om oor te val. 

Vlooitjie kan sien hoe Lappop op haar stoeltjie sit en vir hom glimlag. Hy twyfel of dit reg is om weg te loop. Kan hy regtig Anna net so agterlaat? Net toe sien hy die kasdeur met die koperslot en hy onthou hoe die ander speelgoed in die aande huil en hy weet hy kan nie kas toe gaan nie. 
Vlooitjie tel sy pootjies op en loop oor die krapperige mat om by die oop deur te kom.
Hy kan die blou lug en die groen gras sien en die vrolike voëltjies hoor sing. Hy weet dat ‘n nuwe wêreld buite vir hom wag.

Vlooitjie besef eers hy is regtig buite toe hy die warm son op sy lyf voel. Hy kyk links en regs en probeer besluit waarheen hy nou moet gaan. Terwyl hy daar op die gras staan, druk ‘n mol sy kop uit sy gat uit.

“Hallo. Wie is jy? My naam is Mol en ek kan jou sien nie, maar ek weet jy is daar want ek kan dit voel.”
“Hallo. My naam is Vlooitjie. Kan jy my dalk help? Ek het weggeloop en nou weet ek nie waarheen om te gaan nie,” antwoord Vlooitjie.
“Kom jy van die huis af?” Die mol is maar ‘n nuuskierige enetjie.
“Ja, maar nou moet ek ‘n nuwe huis soek en ek weet nie waar om te begin nie.”
“In daardie geval dink ek dat jy met mevrou Arend moet praat. Sy vlieg so hoog bo die aarde dat sy alles sien en almal ken.” 

Vlooitjie is baie bly dat die mol hom kon help. Hy sê dankie hou aan met stap.
Hy loop deur die hek tot in die straat en besluit om regs te draai, sodat hy verby die parkie kan stap. Toe Anna jonger was het sy hom gereeld na die parkie toe gevat as sy daar gaan speel het op die swaaie of die snaakse yster ding wat in die rondte draai en hom altyd siek laat voel het. Anna het soms die ander speelgoed ook saamgevat en dan hou hulle teepartytjies.
Oppad na die parkie toe loop Vlooitjie verby ‘n swart hek met ‘n kwaai hond wat agter die hek staan en blaf. 
Toe die hond sien Vlooitjie is net ‘n teddiebeer, hou hy op met blaf en praat met Vlooitjie.

“Jy daar. Wie is jy en waarheen is jy oppad? Weet jy nie dat jy nie sommer sonder jou mens in die straat mag loop nie!”
Vlooitjie antwoord hom, “Jammer, Meneer, ek het nie meer ‘n mens nie. Sien, ek het nou net weggeloop van die huis af en nou soek ek na mevrou Arend sodat sy vir my kan sê waar ek ‘n nuwe huis kan kry.”
Die hond grom vir hom en sê, “Wel, jy gaan haar nie sommer hier naby kry nie. Hierdie straat behoort aan my en mevrou Arend weet sy moet ver wegbly. En dieselfde geld vir jou, teddiebeer!”
Vlooitjie skrik so groot vir die kwaai hond se gegrom dat hy dadelik baie vinnig weghardloop.

Vlooitjie weet nie hoe ver hy gehardloop het nie, al wat hy weet is dat hy baie moeg is. Dit voel of hy nie asem kry nie en sy bene brand. 
Vlooitjie gaan sit toe sommer net daar op die vuil sypaadjie. 
Toe hy sy asem terug het, kyk hy na dit wêreld om hom. Die straat is leeg, maar hy hoor honde wat êrens in die agtergrond blaf en kinders wat speel. Bo hom is ‘n groot boom vol groen blare en die sypaadjie onder hom is vol gate. Die son bak warm neer, maar gelukkig sit hy in die koelte van die boom. 

Terwyl hy so na die kinders se gelag luister, begin hy skielik na Anna verlang. Hulle kon altyd so lekker saam speel! En nou is dit te laat, hy kan nooit weer terug gaan nie! 
Voor Vlooitjie dit kan keer loop daar groot trane uit sy groen knopie-oë. 
“Toe, toe, liefie, dit kan nie so erg wees nie. Moenie huil nie, asseblief. Hoor hoe mooi sing die voëltjies en hoe lekker speel die kindertjies. Asseblief, liefie, moenie huil nie.”

Die woordie klink asof hulle uit die hemel uit kom. Vlooitjie kan dit nie verstaan nie, tot ‘n duif vanuit die boom gefladder kom en langs hom gaan sit.
“Ag, toe nou, dis nie so erg nie. Kom sit hier onder my vlerk en dan vertel jy vir tannie Tortel hoekom jou hartjie so seer is.”
Onder die hitte van tannie Tortel se vlerke kan Vlooitjie voel hoe die trane ophou loop. Hy voel sommer gou beter. 

En toe vertel hy haar wat fout is: “Tannie Tortel, ek het weggeloop van die huis af want my maatjie wou my nie meer gehad het nie en toe sê Mol dat ek vir mevrou Arend moet soek sodat sy vir my kan sê waar ek ‘n nuwe huis kan kry. Maar ek weet nie waar sy is nie en toe blaf so groot hond agter in die straat vir my en sê ek mag nie hier wees nie. Nou is ek alleen en ek mis my maatjie en ek het nie meer ‘n huis nie want ek kan nie terug gaan nie.”

Tannie Tortel trek hom net dieper onder haar vlerk in en sê, “Ontspan, liefie, ek weet waar om mevrou Arend te kry. Sy gaan net-nou hier verby vlieg oppad na haar nes toe. Sy sal stop vir ‘n koppie tee en dan kan ons haar vra of sy nie weet waar daar vir jou ‘n huis is nie. 
“Kom, jy lyk gedaan. Klim op my rug, dan vat ek jou na my nes toe sodat jy kan rus. My man en kinders is uit vir die dag, so daar is baie plek vir jou om te slaap.”

Vlooitjie klim op tannie Tortel se rug en sy vlieg met hom tot heelbo in die boom. Dit is vir Vlooitjie die lekkerste ding om so deur al die blare en takke te vlieg en die wind deur sy hare te voel. 
Toe hulle by tannie Tortel se nes kom, is Vlooitjie verstom oor hoe groot dit is. Die nes is rond en is van takkies en veertjies gemaak. Aan die een kant is daar ‘n kombuis en eetkamer en aan die ander kant kan hy sien dat hier duiwe bly en slaap. Dis alles baie gesellig en die uitsig is wonderlik! 

Hy kan alles sien wat onder op die grond aangaan. Dit lyk net baie kleiner hier van bo af as van onder op die grond. Die karre lyk soos vuurhoutjieboksies waarmee iemand speel. Hy kan skaars die honde uitmaak, hy hoor net hul geblaf. 
Vlooitjie voel soveel nader aan die hemel hier bo en hy wil glad nie meer huil nie.
Tannie Tortel gee vir hom ‘n toebroodjie en ‘n glas koeldrank. “Jy kan maar ‘n bietjie op die bed gaan lê,” sê sy. 
Voor hy dit kan keer, raak Vlooitjie aan die slaap op ‘n baie sagte bed van vere in tannie Tortel se veilige nes.
Toe tannie Tortel hom wakker maak, kan hy nie glo dat hy in ‘n voëlnes aan die slaap geraak het nie!

“Jy moet wakker word, liefie, mevrou Arend gaan nou hier wees dan moet jy haar vra waar jy ‘n nuwe huis kan kry. Anders moet jy maar hier by my bly. Die twee oudste kinders moet een van die dae vlerke sprei en wegvlieg, dan sal hier ook meer plek wees.”
Vlooitjie is bly om te hoor dat hy welkom sal wees hier, maar hy hoop tog mevrou Arend weet van ‘n mense-huis met ‘n nuwe maatjie waarmee hy kan speel. Terwyl hy nog so sit en dink hoor hy die swiep van groot vlerke en hy weet dat mevrou Arend hier is. 
Mevrou Arend lyk verbaas om te hom sien, maar sy bly stil. Sy groet tannie Tortel en aanvaar die koppie tee wat die duif haar aanbied. 
Terwyl die twee voëls sit en gesels wag Vlooitjie geduldig dat mevrou Arend aan hom moet aandag gee. 

Hy hoor hoe vertel sy vir tannie Tortel dat haar jongste kuiken ook nou uit die nes is en dat sy nie kan wag om weer in netheid en vrede te leef nie. Hy hoor ook dat die Muise getrek het en dat mevrou Muis se skoonfamilie nou in haar ou huis bly. Nog nuus is dat al wat ‘n grondbewoner is, reg maak vir die jaarlikse resies waarin die molle kyk wie die vinnigste en verste kan grou. 
Vlooitjie is verstom – sy ken werklik almal en weet alles!
Uiteindelik kyk die arend vir hom met haar streng oë en vra, “En jy? Wat is jou storie?”

Vlooitjie vertel vir mevrou Arend dat hy weggeloop het en nou na ‘n nuwe huis soek. 
“Weet mevrou Arend miskien van ‘n huis wat ‘n teddiebeer kort?” vra hy.
Mevrou Arend dink so bietjie daaroor na en sê dan, “Ja, ek mag dalk net weet van die perfekte plek vir jou. Laat ek net my tee klaar drink dan kan ons gaan.”
Toe sy haar tee klaar gedrink het, groet sy tannie Tortel en maak reg om weg te vlieg. 
Vlooitjie gee vir tannie Tortel ‘n stywe drukkie om dankie te sê en klim toe op mevrou Arend se rug. 
Vir die tweede keer daardie dag beleef Vlooitjie hoe lekker dit is om op ‘n voël se rug te vlieg. Onder hom stroom die aarde verby in ‘n strook kleur en geluide. Hy kan skaars die huise of mense of karre of velde uitmaak, so vinnig vlieg mevrou Arend. 

Na ‘n paar minute besef Vlooitjie dat hul begin spoed en hoogte verloor. Mevrou Arend land saggies op ‘n groot grasperk voor ‘n groot huis.
“As jy net ‘n bietjie loop tot op die stoep kan jy daar gaan wag vir die meisietjie van die huis om jou te kry. Kyk, daar speel sy by die fontein. Sy gaan net-nou inkom en as sy jou sien sal sy jou optel en in jou nuwe huis invat. Sterkte!”
Nog voordat hy haar kan bedank, styg sy op tot hoog bo die aarde en vlieg weg.
Met sy hart wat woes klop stap Vlooitjie toe tot by die stoep, klim die drie trappies en gaan sit om te begin wag. 

Vlooitjie kyk om hom rond. Hy kan nie veel anders sien as die groen gras en die glasdeur voor hom nie. Hy kan wel agter kom dat daar mense in die huis rond beweeg. 
Ná wat vir hom na ‘n baie lang tyd voel, kom die meisie teen die trappe opgehardloop. Sy stop dadelik toe sy hom sien.
“Ag oulik! ‘n Nuwe speelding! Dankie, Mamma!”

Sy tel vir Vlooitjie op, hou hom styf vas en gaan in die huis in. Sy sit hom die hele aand nie neer nie. Daardie aand slaap Vlooitjie in Debbie se bed. 
Vlooitjie weet nou dat hy die regte ding gedoen het om van Anna af weg te loop want Debbie sal hom nooit vergeet nie. Hy het nou ‘n nuwe huis gekry.

(Skrywer: Vonette Smit)

Vonette Smit
Die storie is geskryf deur Vonette Smit. Vonette is ‘n Skryfkunsstudent aan die Noordwes-Universiteit (Potchefstroomkampus) 2010.
Kopiereg: Vonette Smit
2010-05
0
Would love your thoughts, please comment.x