wolf

Die nare slak en die sewe wolwe

Elaine Schiel
Op 'n dag besef ma wolf dat daar nie meer kos in die yskas is nie.

Op ‘n dag besef ma wolf dat daar nie meer kos in die yskas is nie. Sy roep haar sewe klein wolfies nader. 

“Kinders, ek moet woud toe gaan om te jag. As ek weg is, sluit die deur agter my en moet vir niemand behalwe my oopmaak nie. Veral nie vir die nare slak nie,” sê ma wolf.

“Maar hoe sal ons weet as dit die nare slak is, mamma?” vra die slimste wolfie. 

“As iemand klop en in ‘n fyn, sagte stemmetjie praat, nie pote het nie en slym oral mors, weet julle dis die nare slak,” sê ma wolf aan haar sewe kinders.

“Hoekom mag ons nie vir slak oopmaak nie, mamma?” vra een van haar wolfies wat nie té slim is nie.

“Hy sal sy nare slym op julle gooi wat julle sal verlam maak en dan sal die nare slak julle in sy dop sit tot julle versmoor. En wanneer julle eers dood is, sal hy julle een vir een stadig op eet.”Ma wolf is so vasgevang in haar eie storie dat sy vergeet die storie sal dalk die wolfies baie bang maak.

(Tekening deur Emma Swiegelaar)

Een van die kleinste fynste wolfies begin huil en die ander ses wolfies staan styf teenmekaar en bewe.
“Ek is jammer as ek julle bang gemaak het met die storie, maar dis beter dat julle weet,” sê ma wolf kortaf. Sy glimlag effens en verdwyn by die deur uit. Vinnig sluit die wolfies die deur agter haar en maak seker dat die nare slak nêrens sal kan inkom nie.

(Tekening deur Sergio Juries)

‘n Rukkie later, net toe die wolfies bietjie ontspan het, klop iemand by die deur. Die slim wolfie druk sy oor teen die deur en vra, “Wie is dit?”

“Dit is ek, julle ma. Ek het klaar gejag en vir julle elkeen ‘n lekker hasie saamgebring om aan te peusel,” kom ‘n fyn, sagte stemmetjie van agter die deur.

(Tekening deur Daniel Basson)

“Nee, jy is die slak. Jou stem is fyn en sag. Ons sal nie vir jou oopmaak nie,” antwoord die slim wolfie. Hy is al te trots op homself dat hy geweet het dis die slak. ‘n Rukkie later klop iemand weer aan die deur. Weereens vra die wolfie,

“Wie is dit?”

“Dit is ek, julle ma. Maak tog vir my oop,” kom ‘n harde growwe stem van agter die deur. Die sewe wolfies kyk onseker by die venster uit om te sien wie dit is.

Hulle kan niemand voor die deur sien nie, maar daar is ‘n vieslike spoor van slym tot by die deur. Weereens trots op hulself dat hulle geweet het dis die nare slak, sê hulle in ‘n koor, “Jy is klein en los ‘n spoor van slym. Jy het ook geen pote nie. Jy is die slak en ons sal nie vir jou oopmaak nie.”

(Tekening deur Juan van Wyk)

Die wolfies is dalk slim, maar die nare slak het ‘n briljante plan. Hy gaan dorp toe en dreig die poppe-maker om vir hom twee pote te maak. Dan maak hy ‘n sak vol grond bymekaar en keer terug na die wolfies se huis toe. Soos hy seil, strooi hy die grond oor die spoor slym. Hy haal die twee pote uit en sit een op die venster sodat die wolfies dit mooi kan sien. Weereens klop hy by die deur.

“Dit is ek, julle ma. Ek dra swaar, maak asseblief vir my oop?” sê die nare slak in ‘n harde growwe stem. Die wolfies kyk by die venster uit. Daar is geen slymspoor nie. Hulle sien die poot op die venster. Seker dat dit hulle ma is, maak hulle die deur oop.

(Tekening deur Summer Taylor)

Die nare slak seil blitsig in en gooi vinnig sy slym op al die wolfies. Toe al die wolfies verlam is, bêre hy hulle in sy dop. Buite gaan lê hy onder ‘n groot boom om ‘n middagslapie te vat.

(Tekening deur Nicklas Wheeler)

‘n Rukkie later kom ma wolf by die huis. Toe sy sien dat al sewe wolfies weg is en die plek met slym bedek is, hardloop sy buitentoe ontsteld. Sy kry die slak onder die boom. Sy kry ‘n briljante idee en gaan haal ‘n skerp byl in die huis. Sy kap die slak sy dop oop terwyl hy slaap en al sewe wolfies spring uit. Hulle help haar om ‘n paar swaar klippe op te tel en dit in die slak se dop te pak voordat ma wolf dit toeplak met ‘n super-gom. 

Toe die nare slak wakker word, voel dit asof daar ‘n olifant op sy rug sit. Hy kruip na die spruit toe om bietjie water te drink, maar soos hy oorleun val hy in die water en verdrink.

(Tekening deur Douglas Krone)

Die sewe wolfies dans saam met ma wolf langs die spruit, net te bly dat die nare slak weg is.

(Skrywer: Elaine Schiel)

Elaine Schiel
Die storie is geskryf deur Elaine Schiel. Elaine is ‘n Skryfkunsstudent aan die Noordwes-Universiteit (Potchefstroomkampus) 2011.
Kopiereg: Elaine Schiel
2011-03
0
Would love your thoughts, please comment.x