Die goue skip met vlerke

Die goue skip met vlerke

Oom Gert Hendriks vertel sy storie... "Op 'n sekere plaas het 'n ander boer gebly. Hy't drie seuns gehet, twee grotes en dan die jongste enetjie."

Eens op ‘n tyd, daar was in ‘n sekere land ‘n koning gewees wat ‘n boodskap uitgestuur het in die hele land van hom. Hy stuur ‘n bevel uit: Iemand wat vir hom kan ‘n goue boot met goue vlerke bring wat kan vlie, kan met sy dogter trou, én nog ‘n deel van sy rykdom erf.

Koning

Die mense van daai land het geprobeer om te dié boot maak of te soek, maar niemand nie.
Op ‘n sekere plaas het ‘n ander boer gebly. Hy’t drie seuns gehet, twee grotes en dan die jongste enetjie. En hulle was houtkappers, hulle was maar arm gewees.
Eendag sê die grote vir sy pa en sy ma, “Ma en pa, ek wil bietjie gaan hout kap.”
Sy ma bak toe vir hom ‘n lekker pannekoek, sit vir hom ‘n botteltjie wyn in, alle lekkernye. Alle lekkernye sit sy vir hom in vir padkos vir die dag in die bos.
Hy gaan nou gaan houtkap. Vat sy byl oor sy skouer, bos toe. Kom daar in die bos, hy’t gekap, so bietjie gekap, toe besluit hy om te eet. Voordat hy eet, dat hy nou sy kossak oopmaak, sien hy hier kom ‘n ou gerimpelde grysaard by hom.
Die ouman vra vir hom, “Kan ek ook van jou kos eet?” Die ouman vra mooi.
Hy sê, “Jou naarheid! Wavanaf kom jy? Maak jou nou uit die voete uit!” En hy gryp daar rond.
En die verminkte ou grysaard verdwyn in die bos, weg is hy.
Die jongman eet toe maar lekker en hy drink van sy wyn. Toe hy nou dronk is, toe wil hy nie meer werk nie, toe gaan hy terug huis toe.

Die tweede keer sê die tweede grootste hy gaan ook bos toe. Nou die grote het hom nie gesê wat het hy teëgekom daar in die bos nie. Die tweede grootste een gaan, hy maak ook sy kossak oop om te eet.
Hier’s die grysaard weer. ‘n Kort mannetjie. Amper met ‘n hoed soos ‘n smurfie of noem hom maar ‘n dwergie, of so iets.
Hy sê, “Wavanaf kom jy, jou naarheid? Gaan weg!”
Die oumantjie is weer hier in die bos in.
Hy eet. Klaar geëet, lê en slaap hy, staan hy op, daar gaan hy huis toe. Hy’t nie hout gekap nie.

Die derde keer toe’s dit nou die kleintjie. Dié kleintjie, sy pa en sy ma is nou nie so ernstig oor hom as oor die twee grotes nie. Want die twee grotes is nou eintlik die ouens wat plan maak vir die hout en al daai dinge. Hulle het nie baie vertroue in hom nie.
Hulle gee hom sommer die brandsels en verbrande brood en suurmelk.
Vat hy sy byl oor sy skouer, hy’s ook nie geworrie nie. Da gaan hy. Kom daar in die bos, daar rondgestaan, voordat die ou wil beginne eet, hier kom die verminkte grysaard weer hier by hom ook.
“Mag ek saam met jou eet?”
Die mannetjie sê vir hom, “Ag oupa, weet jy, die kos van my is nie lekker nie. maar ek gee nie om nie, as jy nie omgee nie, jy kan maar saam my kom eet.”
Hy sê oraait. Hier kom sit die oumantjie langs hom. Maak hy nou die verbrande broodsak oop wat verbrande brood en pap het en suurmelk. Na hulle verbasing, dis nie meer daai goed nie. Die lekkerste nye wat sy broers ook nie eens gehad het nie. Hu! Wavanaf kom die kos nou? Toe eet die verminkte mannetjie saam met die seun. Hulle eet, hulle eet, hulle eet, hulle eet.

Klaar geëet, die verminkte mannetjie sê vir hom, “Luister hier, seun. Jy moet nou aandagtig luister wat sê ek jou. Gaan dáár in die woud. Jy gaan ‘n boom kry daar. Kyk die dikste boom wat jy sien daar. Kap daai boom. En as jy moeg voel, dan hoef jy nie verder te kap nie, dan rus jy ‘n bietjie. Dan kan jy maar ‘n bietjie slaap.”
Oraait, die seun vat sy sak en sy byl en daar gaan hy. Kom daar in die bos. Rondgeloop, gesoek na die boom, gesoek. Uiteindelik kry hy hom. Gekap, gekap, gekap. Hy voel uitgeput. Hy lê so skuins teen die boom. Weg aan die slaap is hy. Hy weet ook nie hoe lank het hy geslaap nie. Toe hy wakker skrik, sien hy op die stam van die boom is ‘n goue skip met vlerke. Hmm! En dié ding?
Binne-in die skip kom ‘n stem uit: “Stuurman van die skip, klim in die skip! En als wat jy oppad kry, moenie verbygaan nie. Laai op. Laai hulle binne-in die skip in en ry saam met hulle.”

Die seun klim in. Binne-in die skip . . . daar vlie die skip. Skip vlie, skip vlie, skip vlie. Nou in die vérte sien hy ‘n man wat spring-spring loop. Sy een been is hier agter sy nek vasgemaak met ‘n tou. Die skip hou stil, hy staan by die man.
“Hallo, ou grootman! Wie is jy?”
“Nee, ek is Gert Goumaak.”
“Maar hoekom is jou een been dan agter jou nek vasgemaak?”
Hy sê, “Ag man, wee’ jy, ek maak hom maar sommer hier agter my nek vas. Ek sien is nie nodig om altyd so vinnig te wees nie. Want as ek op altwee my bene loop . . . een been trap hier en een been trap dwarsoor die wêreld. Nee, ek het nie nodig om altyd so vinnig te wees nie, nou daarom gebruik ek maar net een been.”
“Klim in!”

Daar’s die eerste besoeker. Die twee ry, die twee ry, die twee ry. So gery, so gery, so gery, so gery. Weer na ‘n lang distansie, kry hulle weer ‘n man. Hy lê met sy kop op die grond, sy stêre is hier bo in die lug. Wat gaan met dié man aan? Hoekom is sy kop op die grond en sy stêre in die lug? Hy hou die skip stil bokant die man.
“Ou grootman, hoekom lê jy so?”
Hy sê, “Hê man, wee’ jy, ek wil nie net altyd dinge luister wat baie intelligent is nie, want as ek nou só lê, dan kan ek nou nie luister wat gaan rondom die wêreld aan of wat gaan in die wêreld aan nie. Want dié ore van my, ek hoor orals in die wêreld, daar’s nie ‘n plek wat ek nie hoor nie. daarvoor is my naam Orf Ore.”
“Klim!” Hulle is nou drie binne-in die skip.

Die manne ry. Die manne ry. Hulle gesels. Ry, ry, ry, ry, ry. Weer ‘n hele ent gekom, gery, hier kry hulle ‘n lang, skraal man, met ‘n lang geweer agter sy rug. Hou die skippie bokant hom stil.
“Ja, ou grootman!”
“Hallo manne!”
“Waantoe gaan jy?
“Nee man, ek loop maar bietjie loop en jag. Ek skiet als. Ek skiet groot diere en ek skiet selfs ok muggies ok. Al sien ek hulle of al sien ek hulle ok nie . . . ek skiet nie mis nie, ek skiet raak. Ek’s Roelf Raakskiet.”
“O. Nee, maar dis goed. Klim.” Hy’s in. Die vierde een.

Hulle ry. Hulle ry. Hulle ry. Hulle ry. Vorentoe kry hulle weer ‘n man. Dié man het so groot sak agter sy rug. Hulle kan nie uitmaak wat kan in daai sak wees nie. Hulle hou stil bokant die ou. Hier’s nou ‘n hele span nou in die skip. Goed. Hou bokant dié man stil.
“Ou grootman! Wat maak jy met dié sak?”
Die man lyk baie hartseer. Die man sê, “Wee’ jy, hier is ‘n paar brode in die sak in. Ek is so honger. Ek weet nie wanneer lanklaas het ek ordentlik geëet nie. Nou ek moet maar die paar wat in dié sak is maar dra, tot ek sien wanneer sal ek maar iets kry om te eet.”
“Gmf! Klim!” Die ou klim met die groot sak.

Die manne gaan, die manne gaan, die manne gaan, die manne gaan. ‘n Hele ent gery, kry hulle weer ‘n ou. Dié man, hy’t ‘n sak agter sy rug – maar dié sak is vol stokke. Die skip hou stil bokant hom en vra hulle.
“Ou grootman! Waantoe is jy oppad?”
Hy sê, “Nee man, my naam is Sors Soldaat.”
“Hoe?”
“Ja. Sien jy die sak hier agter my rug? Elke stok wat ek hier uithaal, dit kan een soldaat wees, dit kan ‘n duisend soldate wees, dit kan ‘n honderd soldate wees. Elke stok het ‘n sekere hoeveelheid of meer as te veel soldate in. Daarvoor loop ek maar so.”
“Klim in!”
Daar’s Sors Soldaat ook in. Ai, dis nou ‘n hele weermag hier binnekant. Daar’s nou ses karakters hier binnekant.

Die skip vlie, die skip vlie, die skip vlie. Dit raak donker. Die skip gaan sak voor die koning se paleis. Die oggend wat die koning wakkerskrik, wat hy so kyk, toe sien hy hier staan die goue skip met die goue vlerke wat hy gesoek het. Hy stuur toe van sy bevelvoerders daar na die skip toe.
“Gaan sê vir die stuurman van die skip ek wil hom sien.”
En dié seuntjie gaan toe daar by die koning.
“O! Jý . . . wat so treurig lyk . . . met mý dogter moet trou?! Dit kan nie wees nie! Ek gaan ‘n taak met jou verrig. Jy moet iets doen. Ek wil jou ‘n moeilike taak gee.”
Eerste proef wat die koning hom op stel. Die koning sê, “Wel, ek staan nog by my belofte, maar ek moet jou eers op die proef stel. Ek wil kyk sal jy goed na my dogter sorg. Vanmiddag eenuur as ek eet, dan soek ek my beker vol drinkwater van Toorfantein af. En waar is Toorfantein? Dis anderkant die wêreld.”
Hêl! Hie gat die mannetjie terug na die skip toe. Hy kom toe daar by sy manne. Hy sê,
“Manne! Ons is in gevaar hier.”
“Wat is dit?”
Hy sê vir hulle, “Die koning sê vanmiddag na ete, as hy klaar geëet het, hy soek sy waterbeker vol water. En dít van die water van Toorfantein! En waar is Toorfantein, manne? Dis anderkant die wêreld!”
Oeee, die mannetjie is nou geworrie. Da slaan tien voor een. Daar’s nog nie ‘n plan beraam nie. Da slaan vyf voor een.
Gert Goumaak sê, “Nee man! Dis kleinspeletjies daai. Ek sal gou gaan.”
Het hy die beker van die koning en weg is hy. Hy skep die beker vol anderkant die wêreld by Toorfantein. Hy gaan in, hy sit daar. Hy sit nou daar by die fantein en sê: “Hêl! Ek weet nie waarvoor is die mense so haastig nie.” Daar slaan twee minute voor een. Gert Goumaak sê: “Nee, ek gaan maar gou ‘n bietjie slaap ook.”
Die stuurman van die skip is geworrie hiesô. Dis twee minute nou voor een. Daar slaan een minuut voor een. Die man kom nie uit nie.
Wat gaan aan?
Orf Ore sê, “Wag, ek gat luister wa’s daai man.”
Hy lê so op die grond. Hy sê, “Daai man lê en slaap daar!”
Dit bly nou net so vyftien na twintig sekondes toe voor een. En die koning het gesê eenuur wil hy die water hê.
Roelf Raakskiet sê, “Nee man, los hom. Ek sal hom nou . . . ” Nou hier by die dam van Toorfantein daar’s ‘n windpomp. Roelf Raakskiet sê, “Nee, dis klein katjie se kos daai. Ek sal daai man nou wys daar!” Hy vat sy geweer, daai ou met die lang geweer. En die ou lê aan na die windpomp toe. Gwa! Skiet hy die vlerk raak van die windpomp. Daar spring Gert op. Dis nou die laaste sekonde. Voor eenuur slaan, daar’s die ou. Toe die koning so kyk, hier staan die water. Hêl!
ie koning sê, “Maar hoe de . . . Nee man, dit kan nie wees nie!” Dit is tog so. Nee, ek moet die ouens maar ‘n kans gee. Ek moet hulle weer try. Dié mannetjie wat so snaaks is vir my . . . hy lyk nie na die man vir my kind nie.”

Die koning is nou oraait. So middag stuur hy een van sy wagte daar na die skip toe.
“Gaan sê vir die stuurman van die skip, ek, die koning, sê . . . ek gat môre ‘n paartie maak. Ek gaan brood en kosse en beeste slag. En hulle ses van daai skip hulle moet al daai kos opeet. Die mense van die land sal nie kry nie. Is net vir hulle. Ek gaan ‘n paartie vir hulle . . . brode wat net so groot is soos berge. Hêl! En randjies. Dis koeke! Dis beeste! Dis nie fees nie, dis Kom Kyk. Dis ‘n feestelike ding!”
Hier raak die stuurman van die skip nou weer geworrie. Hoe nou, man? Wil die koning hê ons moet ons doodeet of wat wil die koning hê? Hoe gaan ons die klomp kos opeet? So groot brode soos berge?
Die kokke staan net so rond. Dit word gekook, dit word gebraai, dit word gebak. Dis als aanmekaar. Mm! Dis vreeslik met die manne, jong!
Die stuurman van die skip is geworrie. “Hoe kan die koning wil hê ons moet ons doodeet?”
Hy’s nou eerder meer spyt . . . hoekom het hy nie eerder gebly by die huis as wat hy hom in so ‘n noue ontkoming laat beland het. Hy moet dit maar nou net vat.
“Hoe nou, manne? Hoe nou?”

Dis nie lank nie, hier kom die koning se manne. Nee, die manne kan maar kom. Mense, dis nie kos nie! Dis nie kos nie! Vir ses?! Die brode is so groot soos berge . . .
Boet Baie-eet sê, “Die koning moet nou nie moeilikheid soek nie. Julle moet vir hom sê as hy wil hê ons moet feesvier, dan moet hy tweemaal soveel maak!” Hy sê vir die ander vyf, “Staan julle terug! Dié kos is nie eers genoeg vir mý nie, dan moet ek nog vir julle ook gee.” Dit was nie ‘n halfuur nie, toe’t hy als platgeëet daar.
Die koning sê, “Maar hoe . . .? Is dit mense dié, of wat gaan aan? So klomp kos so gou verslind van ses mans? Dis darem maar te vreeslik!” Die koning besluit: Nee man, ek gaan julle nie daar los nie. Daar moet nog ‘n kans kom. Ek moet julle weer nog ‘n maal try.
Oraait, die manne is terug skip toe. Die koning laat hulle nie toe by die paleis nie. Hulle moet daar in die skip bly, die skip wat hulle mee gekom het . . . daar uit die bos uit. Die manne is weer terug skip toe.
Goed, die volgende dag, so middag, stuur die koning weer van sy manne daar na die stuurman van die skip toe.
Hy sê vir hulle, “Sê vir daai stuurman van die skip daar, ek wil sien hoeveel lyfwagte en hoeveel soldate het hy om my dogter op te pas. Môreoggend. Want ek kan nie my dogter vir sulke mense gee wat ek nie kan sien of hulle soldate het nie, of hulle wagte het nie. Ek wil sien hoeveel soldate het hy.”
Hulle is hier deur en gaan sê hom. Hoe nou? Die stuurman van die skip is al wéér in die noue ontkoming. Hy’s in ‘n verknorsing. Hy neul en kla hier tussen sy manne.
Die aand laat sê Sors Soldaat vir hom, “Nee, gaan slaap julle maar. Ek sal sorg dat daar soldate is.”
Die manne gaan slaap.

Die volgende oggend wat hulle wakkerskrik, toe staan die soldate wat hulle gehet het, hulle staan soos gras op die lawn. En netjiesgeklede soldate, elkeen met ‘n geweer. Die hele kanonne en goete, hulle is net so op die koning se paleis gerig. En die goeters is gelaai.
Toe die koning so deur die venster kyk, hy sê, “Nee, nee, nee, nee! Sê vir daai stuurman van die skip ons sal vanmiddag feesvier. Hy moet net daai kanonne se bekke wegvat. Netnou gaan daai goeters en dan ontplof hulle en dan skiet hulle die paleis plat.” Op daai manier, toe die koning so kyk, toe sien hy, dis soldate reg rondom, net waar hy kyk. Dis soos gras. Net waar hy kyk, is soldate. Sors Soldaat het die hele plek bemors met die soldate. En dis kanonne en dis wapens, hulle is almal net op die paleis gerig. Die koning sê, “Nee. Hmm-mm. Sê vir hom die troue sal vanmiddag wees. So hy moet net daai kanonne en goete wegvat.”
Toe vat Sors Soldaat weer sy stokke en hy sit hulle bymekaar binne-in sy tas.
Die middag . . . toe trou die koning se dogter saam met die stuurman van die skip. Die stuurman van die skip toe gaan haal hy sy ma en sy pa en sy twee broers op die plaas. Hy’t die helfte van die koning se rykdom geëerf en saam met die koning se dogter getrou.
So, daar’s my storie met ses letters.

Die einde

Skrywer/verteller: Oom Gert Hendriks (54) Rysmierbult naby Potchefstroom – soos vertel aan Anneretha Combrink. 2007.
Kopiereg: Kopiereg: Storiewerf