In ‘n neutedop, wie is die Glam-divas? Dit is drie baie kreatiewe graadtienmeisies wat hulle eie funky stileringsagentskap begin. Hulle stileer van partytjies tot skeppings vir die skool se herwinningsbal.
Hoe het jy op die idee vir die reeks gekom?
Vandag se kinders het soveel geleenthede om entrepreneurs te kan wees. My mond hang altyd oop as ek op YouTube sien waarmee die jeug vorendag kom. Ek is dol op tieners en chic lit is definitief een van my gunsteling-genres (om te lees en te skryf). En toe dag ek (terwyl ek een aand weer na Gossip Girl kyk), hoekom nie ‘n positiewe reeks skryf nie oor doodgewone hoërskoolmeisies wat in plaas van negatief wees, moan oor alles, en hulle ouers se geld spandeer, eerder geleenthede aangryp en regtig “wow” dinge doen?
Weet jy, ek dink die politiek in die land kry kinders soms ‘n bietjie onder. As hulle hulle heeltyd aan hul ouers se praatjies moet steur, is daar maar weinig om oor opgewonde te raak. En eintlik kook Suid-Afrika oor van kreatiwiteit en oorspronklikheid. Daar is ‘n energie in die land wat ‘n mens glad nie meer in Europa kry nie. Suid-Afrikaanse kinders het ‘n blink toekoms as hulle dit positief benader.
Humor speel ‘n groot rol in die storie. Watter van die drie hoofkarakters, Talia, Linka of Didi, het jou die meeste laat lag terwyl jy die boek geskryf het?
Ek is mal oor al drie my karakters, maar Didi is regtig ‘n wild card. Sy sien die lewe net eenvoudig op ‘n ander manier as die ander twee. Sy is after all ‘n natural born talent. Miskien is dit omdat sy nie meer ‘n ma het nie en gouer moes leer om vir haarself te sorg. Talia kan weer lekker melodramaties raak – wat ook vir my snaaks is. Lienka is die een wat met haar gematigde persoonlikheid die ander twee bymekaar hou.
Wat word verder vir die Glam-divas geplan? Waarna kan lesers in volgende boeke uitsien?
In die (aanvanklike?) drie boeke kry elke lid kans om die storie vanuit hul perspektief te vertel. Die storielyn verloop chronologies – van die begin van graad tien tot aan die einde daarvan. Ag, in die tweede kwartaal is daar ‘n wonderlike nuwe nare meisie wat behoorlik in die Divas se slaai kom krap. Didi verloor haar hart op ‘n onmoontlike liefde, terwyl Talia nie ‘n idee het wat met haar hartstogtelike liefde aan die gang is nie. Verder reël die Glam-divas ‘n paartie wat woes verkeerd loop – met erge gevolge!
Romanse speel ‘n belangrike rol in Talia, nes in die Klub 17-reeks wat jy vroeër gepubliseer het. Wat is vir jou romanties?
‘n Mens is seker nooit weer so verlief soos wanneer jy jonk is nie. Oei, daai kloppende hart as HY by jou verbyloop …
Nou is romanse beslis vir my ‘n bietjie anders as romanse toe ek ‘n tiener was. Nou is dit vir my al romanties as my liewe ou man in die aand by Den Bosch-stasie in die kar klim met ‘n bakkie Chinese prawns wat ons skelmpies op pad huis toe eet voor die kinders snuf in die neus kry …
Alle grappies op ‘n stokkie – ek dink vroue van alle ouderdomme hou van ‘n sjarmante, effe geheimsinnige man met verkieslik sakke vol geld. ‘n Ou wat lyk asof jy baie tyd in sy geselskap sal moet deurbring om sy troubled soul te kan deurgrond! En natuurlik val vroue ook altyd vir bad guys – iets wat hier in Nederland ‘n baie groot probleem geword het, want bad guys is gewoonlik net mooi dit: bad news! Baie meisies beland daardeur in die vrouehandel hier by ons. Die wonderlikste ding is, egter, as Mr Right op jou voorstoep staan maak dit glad nie saak hoe “broody” hy is of hoeveel geld hy het nie. Dan word jou eie liefie al daai dinge waaroor jy al die tyd gedroom het.
Jy en jou gesin woon deesdae in Nederland. Hoe kry jy dit reg om so oortuigend oor Suid-Afrikaanse tieners te skryf?
Gelukkig het ek een tiener in Suid-Afrika grootgemaak en het ek nog baie, baie kontak met oulike tieners daar. Baie meisies kom kuier vir my ná matriek terwyl hulle au pair in Nederland. Hulle stories is altyd vir my baie kosbaar. Ek lees soveel Afrikaans as wat die tyd my toelaat. Verder boer ek op Facebook en YouTube om my vinger op die pols van die algemene dinge van die jeug te probeer hou.
Tieners in Suid-Afrika is ook nie soveel anders as tieners in Nederland of Australië of Kanada nie. Daar is baie meer dinge wat tieners homogeen maak as wat hulle dalk self dink. Buiten die feit dat almal ongeveer na dieselfde TV-programme kyk en na dieselfde musiek luister, is tieners se behoeftes tog maar om verstaan te word, om liefgehê te word en om in veiligheid die vryheid te kry om die wêreld te kan ontdek.
Ek het op die oomblik twee tieners in die huis en hulle is vir my ‘n bron van inspirasie. Ek weet wel dat Nederlandse tieners baie groter monde het as Suid-Afrikaanse tieners en altyd gesag bevraagteken – iets wat jou dalk duur te staan kan kom in ‘n Afrikaanse skool. O ja, en hier dra hulle nie skooldrag nie. Dit is nogal ‘n nadeel vir ‘n ma se beursie.
Jy is nie net ‘n skrywer nie, maar word ook allerweë beskou as ‘n kenner van kinder- en jeugliteratuur. Wat is vir jou die vereistes vir ‘n goeie kinder- of jeugboek?
Dit is vir my van kardinale belang dat die skrywer sy “beste boek ooit” geskryf het en nie “sommer gou ‘n kinderboek” nie. Jeug- en kinderliteratuur is net so geregtig op literêre meriete as hogere literatuur. Mense moenie dink kinders en wat hulle lees, is minderwaardig nie. Dit maak my altyd kwaad as skrywers ‘n jeugboek misbruik om ‘n preek af te steek. Grrrr, ek gril vir sulke ooglopende lessies in storieboeke. Deesdae is kinders baie meer media-wys as wat my generasie ooit was. As ‘n boek nie hulle aandag kan hou nie, gaan hulle dit nie lees nie. Dit beteken dat ‘n skrywer onderwerpe moet kies wat kinders aanspreek en seker maak dat dit vanuit ‘n kind se belewingswêreld vertel word. Ek hou van humor in stories.
En wat irriteer jou wanneer jy ‘n (swak) kinderstorie lees?
Soos ek reeds gesê het, as dit prekerig is. Verbeeldinglose stories kan my ook diep bedroef maak. As ‘n skrywer nie sy verbeelding kan gebruik nie, moet hy liewer boeke vir volwassenes skryf! As dit duidelik is dat die skrywer nie met ‘n opregte hart skryf nie.
Watter boeke het jy in jou kinder- en tienerjare gelees?
Ek was lank, lank gelede ‘n kind en tot in standerd 4 was daar nie TV nie. Ek het soos ‘n maniak gelees. Ek het letterlik al die (fiksie)boeke in die skool se biblioteek gelees en omtrent alles in die dorpsbiblioteek – wat toevallig in ons huis was.
My lys sal bitter lank wees as ek alles neerskryf, maar hier is ‘n kortlys van enkele skrywers wat diep spore in my leeslewe getrap het: Roald Dahl, Elsabe Steenberg, Helena Lochner, C.J. Langenhoven, M.E.R, H.S. van Blerk, Chris Barnard, PH Nortjé, Sita, die hele Keurboslaan- en Maasdorp-reeks, Nancy Drew, Famous Five, wonderlike, wonderlike vertalings deur A.P. Brink van klassieke kinderboeke en die Afrikaanse Kinderensiklopedie.
In die hoërskool het my kamermaat in die koshuis (wat Engels was) my bekend gestel aan Georgette Heyer en Victoria Holt. Ons het saam miljoene vrystories (soos my Pa dit altyd genoem het) verslind. Ek het ook Agatha Christie, Daphne de Maurier en al die Driekie Beukese en Tryna du Toits wat ooit geskryf is, gelees.
Deesdae is my lys met gunsteling-kinderboeke nog langer. Toe ek jonk was, kon ek nie wag om grootmensboeke te lees nie – nousedae kan ek nie wag om nuwe jeugromans onder oë te kry nie.
Afgesien van skryf en lees, wat is jou ander belangstellings?
Ek hou baie van tuinmaak. Maar ek kry dit altyd weer reg om ‘n bos te bou eerder as ‘n beskaafde, gehoorsame tuin met rye blommetjies en ‘n skoon paadjie. Verder is ek baie lief vir kleremaak: Dit sal die lesers deeglik agterkom in die Glam-divas-boeke.
Ek hou daarvan om foto’s te neem en as ek genoeg tyd het, maak ek graag sulke foto-filmpies met musiek – ‘n nadraai van my TV-loopbaan. Nog ‘n nadraai van my TV-loopbaan is dat ek vrek oor TV kyk. Veral nuus en baie stadige speurstories – ek hou van ooms soos Wallander, Inspector Morse, Inspector Lynley en die speurders van Midsomer Murders.
En ek hou daarvan om na kuns, teater en museums te gaan kyk. Ek speel tennis en beoefen die loopsport Nordic walking. Dit is soos ski, maar op die gewone grond en sonder ski’s – oukei, eintlik is dit glad nie soos ski nie. Die res van my gesin is verslaaf aan ski, maar ek het al legendariese plase vir myself op die ski-hange gekoop. Nou beoefen ek eerder Nordic walking.