Rillers: ‘n genre in eie reg

Inleiding

Die tekstipe, rillers, is een van die mees merkwaardige en kontroversiële genres wat fiksie betref. So meen Gelder (2000) in die voorwoord van The Horror Reader (uitgegee deur Routledge). Gelder (2000) is verder van mening dat rillers ‘n verskeidenheid van maniere aan die leser bied om sy/haar wêreld te sien en te klassifiseer: wat is boos en wat is goed; wat is bonatuurlik en wat is normaal; wat kan gesien word en wat moet verberg bly.

Na aanleiding hiervan sal hierdie werkstuk poog om ‘n studie van die genre/tekstipe, rillers, vir die ouderdom agt tot twaalf jaar te maak. Sodoende sal daar gepoog word om die moontlikhede vir die skrywer met die skryf van hierdié genre aan die lig te laat kom. Ondersoek sal ingestel word na die aard en kenmerkende konvensies van die tekstipe, die hantering van skeppingselemente en die teikenleser. Daar sal deurgaans na gepubliseerde tekste verwys word as voorbeelde. Laastens sal twee tekste in hierdié genre bespreek word.

Aard en kenmerkende konvensies van rillers

Rillers gaan gepaard met spanning, opwinding en die bonatuurlike. ‘n Riller het die vermoë om die leser daarvan terselfdertyd te walg en te fassineer (Gelder, 2000:4). Rillers vir die teikenouderdom (8 – 12 jaar) is betreklik kort en dramaties, die atmosfeer is meesleurend en die karakters is dinamies (Thom, 1999:104). Verder impliseer ‘n riller die bestaan van twee wêrelde – die natuurlike wêreld en die bonatuurlike wêreld (Todorov, 2000:15).

Met aanvang van die riller word karakters geskets soos wat hulle in hulle natuurlike wêreld omgaan. Die normale roetine/optrede van karakters in hulle natuurlike wêreld word dan versteur deur die bekendstelling van ‘n geheimsinnige karakter, ‘n bonatuurlike wese of bonatuurlike gebeure. So word die hoofkarakter in The Twitch (uitgegee deur Penguin Books) deur Guy de Maupassant ontwrig deur die bekendstelling van die geheimsinnige pa en dogter wat agterdog wek met hulle eienaardige optrede. In Die Waterding(uitgegee deur Human & Rousseau) deur Francois Bloemhof gaan die verskyning van ‘n bonatuurlike wese gepaard met die bekendstelling van die geheimsinnige karakter, Bart.

Na aanleiding van die bonatuurlike gebeure staan die hoofkarakter dan voor ‘n kruispad – hy/sy moet kies tussen ‘n natuurlike en ‘n bonatuurlike verduideliking vir die gebeure (Todorov, 2000:19). Meermale sal die hoofkarakter poog om ‘n natuurlike verduideliking vir die gebeure te soek. In sy/haar soeke kom die karakter tot die besef dat daar geen natuurlike verduideliking vir die gebeure te vind is nie. So ‘n voorbeeld is Kind van die donkerte (uitgegee deur Tafelberg) deur Robert Hill. Die hoofkarakter ontdek ‘n wese wat in ‘n donker grot woon. Hy poog dan om ‘n natuurlike verduideliking daarvoor te vind, maar kom tot die gevolgtrekking dat die wese slegs deur die bonatuurlike verklaar kan word.

Hierna gaan die hoofkarakter, soms met behulp van ander karakters, deur ‘n spanningvolle dog opwindende proses om ‘n oplossing te vind en sodoende van die bonatuurlike wese/omstandighede los te kom. So ‘n voorbeeld isGreen-Eyed Ghost Cat (uitgegee deur Piccadilly Press) deur Michael Grater. Tub en sy twee vriende is saam met ‘n angswekkende ou vrou en haar spookagtige kat in ‘n kamer vasgekeer en moet ‘n plan beraam om van hulle ontslae te raak. Dit is juis in hierdie gedeelte van die riller waar die spanning ‘n hoogtepunt bereik. Die spanning bou deur die loop van kort hoofstukke op en elke hoofstuk eindig op ‘n senutergende hoogtepunt sodat die leser oombliklik moet begin lees aan die volgende hoofstuk. Die Grillers-reeks deur R.L.Stine is so ‘n voorbeeld. Volgens Steyn (1999:42) is die Grillers-reeks so geskryf dat geen hoofstuk onhanteerbaar lank is nie en dat feitelik elke tweede hoofstuk eindig op ‘n naelbyt-oomblik wat sorg dat die jong leser eenvoudig onverwyld voortlees.

Na die oorwinning oor die bonatuurlike eindig die riller gewoonlik met ‘n verrassende slot. Net wanneer dit lyk asof dinge in die natuurlike wêreld van karakters na die realistiese vlak beweeg, neem die bonatuurlike weer oor (Thom, 1999:104). So ‘n voorbeeld is Kamer 13 (uitgegee deur Human & Rousseau) deur Francois Bloemhof en Secret Terror (uitgegee deur Penguin Books) deur Pete Johnson. Na die oorwinning oor die slymerige monster in Kamer 13 lyk dit of alles weer die volgende dag van voor af gaan begin, aangesien dit wil blyk dat die monster sy kloue in ‘n volgende slagoffer geslaan het. In Secret Terror wil dit blyk dat die hoofkarakter ontslae geraak het van die vreesaanjaende spinnekop, maar sy kom later tot die besef dat die spinnekop eintlik in haar hare rondkruip.

Hantering van die skeppingselemente

Wat die riller betref is die hantering van die skeppingselemente, plot, karakter, plasing en vertelinstansie so aangepas om die spanning van die verhaal te versterk.

In kinder- en jeugboeke word plot so hanteer dat die gebeure en intrige wat om die hoofkarakter verdig die fokus van die leser rig (Greyling, 2011:28). In die geval van die riller is dit ook die geval. Die sentrale storielyn gaan om die hoofkarakter se stryd met die bonatuurlike. Karakters gaan tot aksie oor en die plot word dus deur karakterhandeling voortgestu. Hierdie storielyn is swaar belaai met spanning aangesien gebeure dramaties uitgebeeld word en kort op mekaar volg. Die spanning bereik aan die einde van elke hoofstuk ‘n hoogtepunt om sodoende die aandag van die leser te behou. ‘n Lewendige plot met die verslaning van die bonatuurlike as klimaks is dus kenmerkend aan die riller. Volgens Steyn (1999:42) is die Grillers-reeks ‘n voorbeeld hiervan aangesien R.L. Stine daarin slaag om die spanningsdraad telkens op die regte oomblik ‘n plukkie te gee. Battleground (uitgegee deur Penguin Books) deur Stephen King is ‘n verdere voorbeeld. Elke aksie van die hoofkarakter lei tot ‘n reaksie deur bonatuurlike. Hier is die plot dus lewendig aangesien gebeure vinnig op mekaar volg.

In kinder- en jeugboeke is die hoofkarakters hoofsaaklik jong karakters. Hierdie jong karakters beleef die gebeure eerstehands en volwassenes word op die agtergrond geplaas (Greyling, 2011:28). Soos reeds vermeld word daar in die skryf van rillers van dinamiese karakters gebruik gemaak. Karakters vol beweging, krag en energiek is nodig om handeling voort te dryf. Die karakters in rillers is dus karakters wat oorgaan tot aksie en teenoor die bonatuurlike optree. Hierdie optrede van die karakters dra by tot die spanning en opwinding van die riller. Verder moet hierdie karakters geloofwaardig wees sodat die jong leser homself in hierdie karakter kan raaksien en identifikasie vergemaklik word. So is die karakter van Lana in Die waterding deur Francois Bloemhof ‘n dinamiese karakter. Sy gaan tot aksie oor en besluit om uit te vind waarom Bart so geheimsinnig is. In ‘n Oog vir ‘n pop (uitgegee deur Perskor) deur Anita C. du Plessis is die karakter van Mitzi ‘n karakter waarmee die jong leser kan identifiseer, aangesien sy worstel met dieselfde probleme waarmee kinders van die teikenouderdom worstel.

Wat plasing in rillers betref, word daar ten opsigte van tyd en ruimte nie breedvoerig uitgebrei nie. Die fokus is hoofsaaklik op die gebeure en karakters. Ten opsigte van ruimte word daar wel sekere toegewings gemaak sodat daar ‘n byna spookagtige, oftewel onheilspellende atmosfeer geskep word. In Green-Eyed Ghost Cat deur Michael Grater heers daar ‘n byna donker atmosfeer wat heel gepas is, aangesien die verhaal in die middel van die nag afspeel.

In kinder- en jeugboeke word die gebeure deur die jong karakters beleef en deur hulle perspektief aangebied (Greyling, 2011:28). Wat rillers betref is daar selde sprake van ‘n ek-verteller. Die gebeure word deur ‘n eksterne verteller vanuit die hoofkarakter se perspektief vertel. So word die leser direk by die karakter se omstandighede betrek, aangesien hy/sy bewus is van die karakter se gevoelens. Dit is dus vir die leser moontlik om direk by die spanning betrokke te wees.

Die teikenleser

Soos reeds vermeld poog hierdie werkstuk om ‘n studie te maak van die tekstipe, rillers, vir die ouderdom agt tot twaalf jaar. Wat die teikenleser betref moet daar op taalgebruik, lengte van verhale, kompleksiteit van die plot en belangstellings van die spesifieke ouderdomsgroep gelet word. Wat taalgebruik betref, kan daar vermeld word dat die taalgebruik in rillers vir hierdie ouderdom betreklik eenvoudig is. In Kamer 13 en Die Waterding deur Francois Bloemhof word daar byvoorbeeld van kort en kragtige sinne gebruik gemaak. Die verhale, asook die hoofstukke is betreklik kort om sodoende die aandag van die leser te behou.

Vir die jonger leser (8 – 9 jaar) sal ‘n boek byvoorbeeld uit 52 bladsye bestaan, soos in die geval van Green-Eyed Ghost Cat deur Michael Grater.

Vir die ouer leser (10 – 12 jaar) sal ‘n boek byvoorbeeld uit 64 – 88 bladsye bestaan, soos is nie geval van Kamer 13 deur Francois Bloemhof en ‘n Oog vir ‘n pop deur Anita C. du Plessis.

Wat die plot betref, kan daar vermeld word dat gebeure slegs om die hoofkarakter sentreer. Alhoewel daar in rillers telkemale ‘n kinkel in die kabel is, is daar selde sprake van ‘n sub-plot. Wat die belangstellings van die teikenleser betref, word gebeure en karakters in rillers so geskep dat die teikenleser daarby aanklank vind. Die teikenleser se belangstellings moet in die gebeure en karakters weerspieël word sodat hy/sy daarmee kan identifiseer.

‘n Voorbeeld hiervan is die Grillers-reeks. Volgens Steyn (1999:42) slaag R.L. Stine, skrywer van die laasgenoemde reeks, daarin om in ‘n kind se kop te klim en hy verstaan dus hoe hulle dink, wat vir hulle belangrik is, wat hulle goed laat voel, met watter soort probleme hulle worstel en wat vir hulle snaaks is. Die teikenleser geniet dit om rillers te lees, aangesien dit dien as ‘n vorm van ontlading en ontspanning. Hulle geniet die spanning en bonatuurlike gebeure omdat hulle weet dat hulle veilig is – met die toemaak van die boek kan hulle terugkeer na die werklikheid. So geniet die teikenleser dan ook die onverwagsheid wat met rillers gepaard gaan.

Laastens moet die spanning en uitbeelding van die bonatuurlike van so ‘n aard wees dat die jong leser daardeur aangelok word en sy verbeelding daardeur geprikkel word. Rillers is dus bedoel vir die jong leser met sterk senuwees en ‘n vrugbare verbeelding (Thom, 1999:105).

Moontlikhede vir die skrywer

Wat die skryf van rillers betref, is die moontlikhede vir die skrywer eindeloos. Die skryf van ‘n riller gee aan die skrywer se kreatiwiteit vrye teuels. Met die skep van ‘n bonatuurlike situasie, oftewel wese kan die skrywer sy verbeelding laat gaan. Sodoende kan hy iets ongewoon, dog oorspronklik skep en sy eie stempel daarop afdruk. Die skep van gebeure waardeur spanning aangedryf word, die skep van dinamiese karakters waardeur handeling voortgestu word en die skep van ‘n “spookagtige” atmosfeer is ‘n uitdaging vir die skrywer se kreatiwiteit. Alhoewel die bogenoemde take ‘n uitdaging bied, is dit steeds ‘n opwindende vooruitsig vir die skrywer. Die skep van hierdie opwindende gebeure en karakters kan vir die skrywer net so ‘n opwindende belewenis wees as wat die lees daarvan vir die leser is.

Verder is die tekstipe, rillers, ‘n onuitputbare bron vir die skrywer. Deur hierdie genre te bestudeer, kan die skrywer homself vergewis met die hantering van spanning, die skep van opwindende gebeure en die skep van dinamiese karakters. Hierdie kennis kan die skrywer toepas in sy ander kreatiewe skryfwerk aangesien spanning, opwindende gebeure en dinamiese karakters noodsaaklik is vir enige geslaagde aksie- of avontuurverhaal.

Bespreking van verhale

Na aanleiding van die bogenoemde inligting sal twee verhale in die genre, naamlik Kind van die donkerte (uitgegee deur Tafelberg) deur Robert Hill (1990) en Kamer 13 (uitgegee deur Human & Rousseau) deur Francois Bloemhof (1998) bespreek word.

Kind van die donkerte deur Robert Hill

Met die aanvang van Kind van die donkerte word Nicolaas se alledaagse lewe en roetine in die natuurlike wêreld geskets. Wanneer hy soos gewoonlik in die omgewing van die nabygeleë grot in sy boomhuis gaan speel, sien hy ‘n vreemde wese by die ingang van die grot. Nicolaas se normale roetine word dus versteur deur hierdie vreemde wese. Hierdie vreemde wese verskrik Nicolaas, maar tog is hy geïnteresseer daardeur.

Nicolaas is ‘n dinamiese karakter aangesien hy dadelik tot aksie oorgaan. Hy poog om ‘n natuurlike verduideliking vir die bestaan van menslike wesens in grotte op te spoor. Hy kom egter tot die slotsom dat daar geen natuurlike verduideliking kan wees nie – die wese moet van bonatuurlike oorsprong wees.

Nicolaas gaan dan deur ‘n proses belaai met spanning waar hy op gereelde basis kontak maak met hierdie bonatuurlike wese. Hy poog om hierdie wese te help om vanuit die grot te ontsnap. In hierdie deel van die vertelling eindig ongeveer elke tweede hoofstuk op ‘n naelbyt-oomblik sodat die leser onmiddellik wil aanhou lees om uit te vind wat volgende gaan gebeur. Die spanning bereik hier dan ook ‘n hoogtepunt aangesien Nicolaas self in die grot beland en as vermis aangemeld word. Hier gaan die sentrale storielyn dus om die hoofkarakter se omgang met die bonatuurlike.

Nicolaas ontdek nog vele meer van hierdie bonatuurlike wesens in die grot. So eindig die boek dan met ‘n onverwagse slot. Nicolaas kom tot die besef dat hy hierdie bonatuurlike wese glad nie van hulp kan wees nie. Hierdie wese het ‘n “familie” en moet daarom eerder in vrede gelaat word. Nicolaas gaan vir ‘n laaste maal die grot binne om die bonatuurlike wese te gaan groet. Die boek eindig dan met die toemaak van die grot sodat geen persoon weer daarin kan beland nie.

Wat plasing in hierdie boek betref, word daar ‘n redelik breedvoerige beskrywing van ruimte aangetref. Veral in terme van die beskrywing van die grot slaag die skrywer daarin om ‘n donker atmosfeer te skep. Teksture en reuke word ook breedvoerig beskryf en die leser kan byna hierdie dinge saam met die hoofkarakter ervaar.

Wat die vertelinstansie in Kind van die donkerte betref, word die gebeure vanuit Nicolaas se perspektief vertel en hy tree ook as ek-verteller op. Om hierdie rede voel die leser baie na aan die hoofkarakter en kan hy/sy byna die gebeure deur Nicolaas se oë beleef.

Wat die teikenleser betref, sal Kind van die donkerte vir die meer belese leser geskik wees. Die lettertipe is betreklik klein en die boek bestaan dan ook uit meer as 80 bladsye. Die taalgebruik getuig ook daarvan dat hierdie boek vir ‘n meer gesoute leser geskik sal wees. Hierdie boek sal dus geskik wees vir die leser van 11-12 jaar.

Kamer 13 deur Francois Bloemhof

Met die aanvang van Kamer 13 word Bennie se daaglikse roetine in die natuurlike wêreld geskets. Met aanvang van ‘n nuwe skoolkwartaal beleef Bennie ‘n bonatuurlike gebeurtenis een van die klaskamers. So word ook Bennie se lewe in die natuurlike wêreld versteur deur hierdie bonatuurlike gebeurtenis. Hy kan nie meer skool toe gaan sonder om aan hierdie gebeure te dink nie.

Bennie is ‘n dinamiese karakter aangesien hy tot aksie oorgaan en ‘n verduideliking vir die bonatuurlike gebeure probeer vind. Hy stel ondersoek in na die onheilspellende geskiedenis van die klaskamer en vra baie vrae in hierdie opsig. Hy kom tot die slotsom dat daar geen natuurlike verduideliking vir die vreemde gebeure kan wees nie.

Bennie gaan deur ‘n proses belaai met spanning as hy probeer om die oorsprong van die bonatuurlike gebeure op te spoor en sodoende te ontsnap daarvan. Hy en ‘n vriend breek een aand in die klaskamer in om te bepaal wat dit is wat daarin skuil. In hierdie deel van die vertelling eindig ongeveer elke tweede tot derde hoofstuk op ‘n senutergende oomblik sodat die leser noodgedwonge moet voortlees. Die spanning bereik hier dan ook ‘n hoogtepunt as Bennie en Robert ‘n slymerige monster agter die panele in die klaskamer ontdek. ‘n Geveg ontstaan en die twee vriende werk saam om die monster te verslaan. Hier gaan die sentrale storielyn dus om die hoofkarakter se stryd om die bonatuurlike te verslaan.

Nadat Bennie en Robert die monster verslaan het, lyk dit asof dinge na normaal terugkeer. Dit is egter nie die geval nie. Kamer 13 eindig dus met ‘n verrassende slot as Bennie opmerk dat sy onderwyser ook deur die slymerige monster geïnfekteer is voordat hulle dit kon verslaan. Dit word dus aan die einde van die boek gesuggereer dat die hele proses weer van voor af gaan begin.

Wat plasing in Kamer 13 betref, word dat daar ten opsigte van tyd en ruimte nie breedvoerig uitgebrei nie. Die skrywer slaag wel daarin om met die ruimtelike beskrywings wat daar wel voorkom ‘n onheilspellende atmosfeer te skep. Hierdie atmosfeer versterk wanneer die karakters hulself in die bose klaskamer bevind.

Wat die vertelinstansie word die gebeure vanuit die hoofkarakters se perspektief aangebied. Daar word van ‘n eksterne verteller gebruik gemaak. Die leser is deurgaans bewus van karakters se gevoelens. Dit is dus vir die leser moontlik om direk by die hoofkarakter betrokke te wees en die gebeure saam met hom te beleef. Aangesien die leser deurgaans bewus is van die karakter se gevoelens, is dit moontlik om self ook die spanning en vrees van die karakter aan te voel.

Wat die teikenleser betref, sal Kamer 13 vir die jonger leser geskik wees. Die lettertipe is betreklik groot, die taalgebruik is eenvoudig en die boek bestaan uit slegs 62 bladsye. Hierdie boek is dus geskik vir die leser van 8-10 jaar, maar tog ook vir 10-12 jariges.

Sintese

Om saam te vat, wil dit blyk dat rillers ‘n genre is waar dit in hoofsaak gaan om spanning. Die onderskeie skeppingselemente word dan ook so ingespan om by te dra tot die spanning in die vertelling. Verder bied hierdie genre vele moontlikhede vir die skrywer aangesien die skep van spanning en die bonatuurlike ‘n uitdaging is vir die verbeelding. Laastens kan daar vermeld word dat die teikenleser geniet om rillers te lees, aangesien dit dien as ‘n vorm van ontlading – hulle kan die spanning geniet, aangesien hulle weet met die toemaak van die boek kan hulle terugkeer na die normale wêreld. Die teikenleser geniet so ook die onverwagsheid van die slot van hierdie boeke. In hierdie verband kan daar verwys word na die woorde van Stine (soos aangehaal deur Steyn, 1999:42): “My boeke is soos ‘n dol pretparkrit. Baie vinnig en opwindend. Jy dink nog jy gaan in een rigting, dan trek jy al weer in ‘n ander koers. Hulle fop jou. Rafel jou uit. Maar jy weet jy’s altyd veilig.”

Bibliografie

BLOEMHOF, F. 1997. Die waterding. Kaapstad: Human & Rousseau. 60 p.

BLOEMHOF, F. 1998. Kamer 13. Kaapstad: Human & Rousseau. 64 p.

DE MAUPASSANT, G. 1994. The twitch. . (In Horowitz, A., ed. The Puffin book of horror stories. London: Penguin Books. p. 57-64.)

DU PLESSIS, A.C. 1991. ‘n Oog vir ‘n pop. Johannesburg: Perskor. 89 p.

GELDER, K. 2000. The horror reader. London: Routledge. 413 p.

GRATER, M. 1984. Green-eyed ghost cat. London: Piccadilly Press. 52 p.

GREYLING, F. 2011. Skryfkuns: die skryf van kinder- en jeugliteratuur (SKRK 221). Potchefstroom: NWU. 2 p. (S29/28.)

HILL, R. 1990. Kind van die donkerte. Kaapstad: Tafelberg. 82 p.

JOHNSON, P. 1994. Secret terror. (In Horowitz, A., ed. The Puffin book of horror stories. London: Penguin Books. p. 13-24.)

KING, S. 1994. Batlleground. . (In Horowitz, A., ed. The Puffin book of horror stories. London: Penguin Books. p. 25-42.)

STEYN, L. 1999. Gryp ‘n griller. Taalgenoot, 68(1/2):42-43, Jan.-Feb

THOM, R. 1999. Jeugboekkroniek. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 39(1):100-107, Mrt.

TODOROV, T. 2000. Definition of the fantastic. (In Gelder, K., ed. The horror reader. London: Routledge. p. 14-19.)

Liana de Beer
(Lianda is ‘n tweedejaar Skryfkunsstudente aan die Noordwes-Universiteit)
Oktober 2011
0
Would love your thoughts, please comment.x