Wat het gemaak dat jy begin skryf en boonop kinderfiksie wat bekend is as een van die moeilikste genre’s waarin mens kan skryf?
Ek is baie lief vir lees en van kleintyd af probeer ek om ook my eie stories vas te vang. As grootmens dwaal ek steeds gedurig in die kinderboekafdeling van die biblioteek en boekwinkels rond. Kinderboeke beskryf die wêreld in die oortreffende trap, en ek moet erken ek hou van die prentjies. Dit is waar dat dit moeiliker is om vir kinders te skryf, net soos wat dit moeilik is vir party grootmense om met kinders ‘n lang gesprek te voer. Die wêreld van ‘n kind is vol verassings: alles kan gebeur! (Selfs pratende honde wat goed is met karate.) Nogtans is dit ‘n logiese en ordelike wêreld, en mens moet dit met verantwoordelikheid betree as jy daaroor wil skryf.
Die Speurhond Willem-reeks is tot ‘n groot mate gebaseer op die werklikheid. Nie net is die hoofkarakter, Willem, ‘n ware hond nie, maar die stories self is op werklikhede, soos die renostertroping in Suid-Afrika in die boek Speurhond Willem en die wilddiewe, gebaseer. Is dit waar jy jou inspirasie kry vir hierdie boeke, die werklikheid?
Die werklikheid is interessant genoeg. Dit is nodig dat kinders die wêreld leer ken en verstaan soos dit regtig is, miskien net met iemand wat hul hand vashou en dinge verduidelik met ‘n grappie en ‘n goeie skoot kameraadskap. ‘n Storie gegrond in ware gebeure gee ‘n goeie kans om die redes wat lei tot ‘n probleem te verduidelik. Mens kan dan ‘n oplossing voorstel deur hoofkarakters ‘n lekker aktiewe rol te laat speel om ‘n gelukkige einde te bewerkstellig. My stories se gelukkige eindes bly egter altyd bietjie uitgestel: Swiffervalk, Brummel en Uranus Draak kom sover keer op keer nog weg en maak weer hul verskyning in die opvolgboeke van Anna en Willem. Dit is wat reekse so lekker maak, en dit is ook mos hoe die lewe regtig werk: daar is altyd ‘n volgende episode. Hopelik!
Speurhond Willem en die wilddiewe gaan oor die onlangse kwessie van renosterstropings in Suid-Afrika en Anna Atoom en die seerower se dolk gaan spesifiek oor die bewaring van die planeet. Wat is jou motivering agter die boeke? Wil jy graag hierdeur kinders aanspoor om meer aktief betrokke te raak by natuurbewaring?
Die natuur en bewaring lê my na aan die hart. Die outjies in die ouderdomsgroep waarvoor ek die boeke skryf (so agt tot tien jaar vir Speurhond Willem, terwyl Anna se drie boeke mik na tien tot dertienjariges) gaan in hulle toekoms vele krisisse moet uitsorteer wat ons op die oomblik steeds besig is om te skep. Oorbevolking, die uitputting van natuurlike bronne, voedsel en watertekorte… Hoe gouer hulle bewus word van die oorsprong van hierdie moeilikhede, hoe beter sal hulle eendag kan help om dit op te klaar. Ons hoop lê immers altyd by ons jeug: so baie gaan afhang van die bekwaamheid van die geslag mense wat op die oomblik nog kinders is.
Professor Sabatina Atoom, Anna se ma in Anna Atoom en die seerower se dolk, is ‘n wetenskaplike wat daarna streef om mense te waarsku teen aankomende natuurrampe en ook om die ekologiese stelsel teen die mens beskerm. Jy is die hoof van Geneeskundige Mikrobiologie by die Universiteit van Stellenbosch en doen dus navorsing wat nie net ‘n groot invloed op ons eie lewenskwaliteit het nie, maar ook op die hele ekologiese stelsel. Het jou werk as patoloog oor infektiewe siektes gedien as inspirasie vir hierdie boek? Hoe het dit jou gehelp om aktuele kwessie in ‘n reistog van seerowers, aktiviste en boewe te omskep?
My werk met infektiewe siektes en die evolusie van patogene wat steeds groot probleme vir ons samelewing veroorsaak (soos tuberkulose, byvoorbeeld, en ander organismes wat weerstandig is teen antimikrobiese behandeling) laat my verseker diep dink oor ons interaksie met die natuur. Daar is baie te sê daaroor: in medisyne probeer ons om die gesondheid van gemeenskappe te bevorder, maar daar moet ook met aandag gekyk word na die volhoubaarheid van ander belangrike behoeftes soos energie, kos en water. Elkeen van ons het ‘n invloed, en dus ‘n verantwoordelikheid, op die ekosisteem van ons planeet.
My storieskrywery is dalk wel teen hierdie ernstige agtergrond, maar dit op sigself is loutere pret. Kinders wil immers nie net die donker kant sien nie!
Baseer jy jou karakters op werklike mense in jou eie lewe en wat met hulle gebeur op jou eie lewenservaringe?
Ek probeer dit vermy, maar dit is nie so maklik nie. Verseker word die stories ingekleur met my eie lewensondervinding, veral my eie reiservarings en hoe ek dinge waarneem. Ek ondervind die wêreld om my as ‘n ongelooflike vermaaklike plek, en ek hoop dat hierdie opwinding deursypel in my karakters se avonture. Ek skryf vir my eie kind en die ander kinders wat ek goed ken, en probeer so die verhale mik vanuit ‘n invalshoek wat hul aandag gevange sal hou.
Wat kan ons verder van Anna Atoom verwag? Is daar nog avonture van Anna waarna die leser kan uitsien?
Anna se storie is nog ver van klaar. Alhoewel ek haar gebruik om haar ouderdomsgroep bewus te maak van die wonder van die wetenskap, en hoe die wêreld daardeur verbeter kan word, is daar heelwat gesinsdrama in haar lewe waarmee meeste van ons onsself waarskynlik kan assosieer. Haar pa bly noodgedwonge ver van hulle af, haar ma is altyd besig. In die tweede boek, so tussendeur die werk om die wêreld al weer van ‘n dreigende ekologiese ramp te red, maak Anna vrede en vriende met haar irriterende kleinboetie, en daar is ook die dreigende opgewondenheid van tiener-romanse op die horison. In die derde en laaste boek in haar reeks… Ek wil nog nie te veel uitlap nie, maar dit sal darem lekker wees as haar hele familie weer herenig kan word, en as mens vir eens en altyd ontslae kan raak van die gekonkel van ‘n gevaarlike wetenskaplike soos Uranus Draak…