Jongmense aan die woord oor die wonderwêreld van lees
Onthou jy …
‘n wêreld waar jy enige iemand kan wees…
‘n wêreld waar alles moontlik is…
‘n wêreld, net vir … lesers?

Die jong lesers en aspirantskrywers saam met Fanie Viljoen – Sept 2012
“As ek terugdink aan my leeservaring as kind, was dit ‘n wonderlike wêreld. Om na jou verbeeldingswêreld te ontsnap en in jou gunsteling heldin te verander het my oë oopgemaak vir ander moontlikhede. Ek het, reeds as kind, besef dat daar meer is as net dit wat jy rondom jou sien.” (Ilza van Zyl)
“Boeke was nooit vir my om emosioneel weg te vlug nie, dit was my reisgenoot dit het my weggeneem na verre plekke wat ek moontlik nooit sou by uitkom nie. Ek kon nie wag om ‘grootmens’ boeke te lees nie, deesdae kan ek nie wag om kinderboeke te lees nie” (Jaco Lubbe)
“Ek het myself nooit ingesien as een van die karakters nie, maar eerder die stil vriend wat geweet het wat orals aangaan. Elke karakter was vir my te werklik om hulle te vervang met myself. Selfs nou nog, die karakters in goeie boeke raak lewendig voor my oë. Hulle is hulle eie mense met hulle eie persoonlikhede, voorkeure en geheime – ek het net die voorreg om hulle te ontmoet.” (Monique Louw)
“Hierdie eerste ervarings as kind het my later laat besef dat daar ‘n hele nuwe wêreld vir ‘n mens oopgaan tussen die buite blaaie van ʼn storieboek. Storieboeke kan jou laat vergaat waar jy is en jou neem na plekke waar jy nog nooit voorheen was nie. Hierdie besef was te danke aan my pa omdat hy vir ons gelees het.” (Danielle Versteeg)
“Op laerskool was my gunsteling leesplek op die bank in die sonnetjie. Die wêreld kon om my vergaan en ek sou onbewus wees daarvan want ek was in ‘n ander wêreld. Laat laerskool en vroeg hoërskool het ek boeke soos Tipex dit uit, Breinbliksem, Skilpoppe, en Vlerkdans opgeslurp. En later op hoërskool het ek Dis ek Anna, Thula-Thula en Swartskaap gelees. Die karakters en die wêrelde wat ek deur my kinderdae leer ken het, het van my gemaak wie ek is. Dit het my verryk en nuwe horisonne laat sien. Daar is darem niks soos om na ‘n lang dag te ontsnap na ‘n ander wêreld nie, ‘n wêreld wat jy leer ken en leer waardeur soos net jý kan.” (Elizna Jansen van Rensburg)
“Boeke help my om die wêreld en sake in ‘n ander perspektief te sien.” (Eske Cilliers)
“Boeke soos Dis ek, Anna was een van my gunsteling boeke. As ‘n kind wat groot geword het met twee wonderlike ouers in ‘n groot huis is ek baie bevoorreg en nie altyd bewus van die realiteite van die lewe nie – die feit dat nie almal so bevoorreg soos ek is nie. Hierdie boek het my oë oopgemaak na die realiteit. Ek het meer geleer en was definitief baie dankbaar vir alles wat ek het.” (M.C. Botha)
“Op my eie het ek ‘n literêre wêreld ontdek en in dié wêreld was ek in beheer. Ek kon lees en skryf wanneer ek wil en ek was mal daaroor. Lees het my van kleins af ontwikkel in die selfstandige persoon wat ek is en het my kennis en verbeelding verbreed” (Rozeldi Trollip)
“Ek was nog altyd lief vir boeke en het soveel gelees as wat ek kon. Die leeservarings was nog altyd spesiaal, omdat ek baie sterk kan visualiseer wat ek lees en as ʼn boek my fassineer lees ek in so ‘n mate dat ek van alles rondom my vergeet en net die wêreld wat in die boek geskep word, beleef.” (Tanya Heydenrych)
“As ek eers begin lees vergeet ek van tyd en al word my oë moeg lees ek net verder. Ek was ‘n regte boekwurm en is steeds as ek genoeg tyd maak om te lees.” (Carina Bester)
“Deur die lees van al my stories deur die jare voel dit omtrent asof ek reg oor die wêreld gereis het en in alle tydperke gelewe het. Dis regtig ‘n besonderse voorreg om te kan lees.” (Alicia Ehlers)
“Die woorde in boeke bied ontvlugting van die harde werklikheid, en dit leer jou nie net om te droom nie maar ook belangrike vaardighede soos spelvermoë en woordeskat aan.” (Petronell Vorster)
“Hierdie herinneringe voel asof dit ‘n leeftyd terug gebeur het, maar nietemin laat dit my met ʼn warm gevoel van geluk en vrede en smag om weer met die huppelende klop van ‘n kind se hart te lewe.” (Juanet Le Roux)