“…Amakeia had belowe
toe haar nonna sterwend was,
om die hulpelose kindjie
tot hy groot was, op te pas…” lees my pa in ’n sagte stem, en gee dan die Verseboek vir my.
“…Liefd’ryk sorg sy vir die wit kind,
tot vir hom die lewenslig
straal uit aia Amakeia’s
vrind’lik-troue swart gesig…” fluister ek terug, en gee weer die Verseboek vir my pa.
As kind, en steeds vandag, speel verhale ‘n groot rol in my lewe; snags, langs my bed. Op pad Kaap toe. Langs die vuur. Op treinritte van George af Knysna toe… Verhale het my graag gevolg, en my gunsteling boek het gereeld in my oor gefluister. Hierdie boek was my skaduwee, ‘n gas by my tee-partyties, my bewaker, my aardse god en selfs, as ek mooi gevra het, het hierdie boek my ge-abba.
“…en wanneer sy omdraai en jou oog vang, verander jy in ‘n soutpilaar!”
“’n Soutpilaar!” skreeu ek.
“Ja, my kind. ‘n Soutpilaar!” sê my pa met groot oë.
Hierdie verhale kom almal uit een boek uit; hierdie boek staan bekend as my ma se beter helfte en my boetie se pa. Ja, my gunsteling boek noem ek ‘pappa’. Alhoewel hierdie verhale mondelings aan my oorgedra was, het ek binnekort dieselfde belangstellings in avonture, tragedie en drama ontwikkel. Nog voor ek myself kon vind, het ek ‘n kind van die wêreld geword. Dit alles, sonder om ‘n voet by my pa se studeerkamer uit te sit.
Ek het op roekelose avonture saam die Broers Grimm gegaan. Saam met Terry Pratchett het ek in ‘n wêreld wat plat is,en wat rondgedra word op ‘n skilpad se rug, groot geword. Ek was deel van al Oscar Wilde se toneelstukke… In Die Kleine Prinsie was ek die Rosie, en saam met ‘n haas wat van sy sinne beroof is, was ek in Kammaland. Vir ‘n hele dag het ek saam Moomin, Sniksnaf en Stinkie in Moovalei gewoon, waar ons die Goue Vis probeer vang het. Op ‘n vreemde dag was my naam Alice, op ‘n Somersdag Ariel, en op ‘n Wintersnag was my naam Sneeuwitjie.
“I knew who I was this morning, but I’ve changed a few times since then”- Lewis Carrol, Alice’s adventures in Wonderland
Alhoewel ek daagliks deur metamorfose gegaan het en my naam ‘n paar keer verander het, het al hierdie verhale ‘n hoed vol verbeelding aan my geskenk. So ook het ek myself leer ken.