DIE NUUTSTE EN KOELSTE SWARTBESSIE
IS VANDAG HIER TE KOOP!
Vandag is die dag wat Frankie se skerm vir die eerste keer gaan wys dat hy laai. Sy nuwe baas is spoedig op pad na Game in Benoni.
“Kom, mamma! Die nuwe ‘Blackberries’ gaan uitverkoop!” sê Reghardt opgewonde.
“Daar is meer as ‘n duisend te koop, my seun, kalmeer.”
Reghardt se lip tref die vloer byna dadelik. Hy wil só graag sy eerste foon in sy hande vashou. Volgens hom is dit al lankal tyd dat hy ‘n foon kry, hy is immers al elf jaar oud.
Frankie is net so ongeduldig soos Reghardt.
“Hoe lank moet ek nog wag? Waar is my nuwe meester? My rug voel só leeg sonder dáárdie betowerende ‘Blackberry’ battery!”
Frankie is die nuutste Swartbessie op die mark, maar hy het ‘n moeilike vervaardiging gehad. Sy mamma en pappa was die 8520 maak en hulle is oud verklaar. Om oud verklaar te word is die grootste vernedering in die wêreld van selfone. Frankie se pappa kon nie die seer hanteer nie en toe kraak sy skerm. Al die nuwe selfone se pappa’s is gewoonlik daar om hul nuut gebore tegnologie te help, maar Frankie moes die hele proses alleen deurmaak omdat sy pappa nie meer kon sien nie.
‘n Blou sportskar stop voor Game. Reghardt spring uit die kar en hardloop teen ‘n stinkspoed by die winkel se bewegende deure in.
“Wag, seun!” skree sy ma verniet want Reghardt is al by Vodacom se afdeling.
Na vyf minute se wag, wat vir Reghardt soos vyf ure voel, kom sy ma ook by die toonbank aangestap.
“Watter foon is dit presies, stouter?”
Reghardt wys na die glaskas waarin Frankie uitgestal is.
Frankie word wakker toe hy voel hoe hy opgetel word. Is dit ‘n droom? wonder hy.
Skielik word alles swart voor hom en hy word in ‘n vierkantige voorwerp gebêre.
Daar is eers weer lig toe Frankie ‘n mens voor hom sien wat hom noukeurig bestudeer. Frankie voel skoon skaam oor die mens wat so na hom kyk.
Reghardt draai Frankie op sy skerm en plaas díe asemrowende battery in sy ruggie.
Liggies skyn op Frankie se sensors en hy voel die warmte wat deur sy lyfie vloei toe Reghardt sy lewenstoutjie by sy brein se opening insit. Tik-tik wals die ritme deur sy knoppies.
Reghardt sit Frankie neer en gaan by die kamer uit.
“Die mens se duime weet presies hoe om my simkaart te laat dans,” sê Frankie.
“Sommige ander selfone is nie so gelukkig soos jy nie,” sê ‘n onbekende stem.
“Wie praat nou?” vra Frankie en vibreer nuuskierig rond.
‘n Pragtige swart Nokia vibreer na hom toe van agter Reghardt se kussing.
Frankie se geheuekaart oorverhit amper toe hy die wonder van tegnologie sien.
“Wat is jou naam?”
“Louise, en joune?” vra sy skaam.
“Plankie! Nee, ek bedoel Frankie!” sê hy en sy skerm kry ‘n rooi streep. “Hoekom sê jy ander selfone is nie so gelukkig soos ek nie? Ek hoop nie jy verwys na jouself nie, want jy het die gladste skerm wat ek nog ooit gesien het.”
Louise se skerm word helder van skaam wees. “Dankie, maar op die oomblik lyk my uiterlike baie beter as my innerlike.”
“Praat met my, asseblief, my oorfone luister,” sê Frankie en wag rustig.
“My meester is Lelanie, Reghardt se ouer sussie,” vertel Louise.
“Lelanie is sestien jaar,
sy foto my hier en foto my daar,
sy foto my ekstra geheuekaart deurmekaar!”
“Eers neem sy ‘n foto van ‘n eienaardige swart en wit skepsel wat sy haar kat noem. Daarna neem sy ‘n foto van haar rooi naels. Op die volgende foto is sy in iemand se arms. As gevolg van al die prentjies wat ek al geneem het en in my brein moet stoor, sal ek so gou as moontlik vir die selfoonsielkundige moet gaan kuier. My kamera gaan dit nie maak onder hierdie omstandighede nie.”
Frankie se skerm verander blou so vol emosie is hy oor Louise se hartseer storie. Hy wens hy kon haar help.
“Ken jy ‘n selfoonsielkundige wat jou kan help?”
“Ja, maar ek het nie genoeg ‘megabytes’ om haar te betaal nie.”
Skielik storm Lelanie by die kamer in.
“Reghardt, wat soek my foon hier in jou kamer? Moenie weer my selfoon vat nie!” skree sy in die gang af.
Sy gryp vir Louise en klap die kamer deur agter haar toe.
Frankie se flits begin flikker soos hy aan ‘n plan probeer dink om Louise te help.
“My sussie is ‘n pyn! Ek het haar foon gevat omdat haar irriterende ou nie ophou bel nie en ek wil fliek!” roep Reghardt uit toe hy die kamer binnekom.
My geheuekaart het baie spasie, ‘n hele 8GB, dink Frankie. Reghardt het my nog skaars gebruik om liedjies en prentjies te stoor. Ek’t ook baie lugtyd omdat Reghardt op ‘n maandelikse kontrak is.
Frankie vibreer van blydskap toe hy agterkom dat hy definitief vir Louise kan help om die selfoonsielkundige te bel.
“Regardt, Lelanie! Etenstyd!”
Frankie hoor hoe Reghardt en Lelanie se ma hulle roep.
Reghardt hardloop uit die kamer uit om te gaan eet, hy is vreeslik honger.
“Nou is my kans om na Louise toe te gaan en aan te bied dat ek vir die selfoonsielkundige sal betaal,” sê Frankie en vibreer teen die spoed van “Gangnam Style” na Lelanie se kamer.
In Lelanie se kamer hoor hy sagte huilgeluide van bo-op die bed.
Frankie gebruik sy oorfone se toutjie om op die bed te klouter. Eers gooi hy die toutjie dat dit om die bokant van een van die bed se pote draai en vandaar vibreer hy stadig op na Louise.
“Bel gou-gou die selfoonsielkundige hier op my, Louise, ek sal met van my ‘megabytes’ betaal. Ek vat nie nee vir ‘n antwoord nie,” sê Frankie toe hy langs Louise staan.
Louise kyk vir Frankie met ‘n blinkende skerm. “Baie dankie.”
Sy stoor die nommer op Frankie se kontaklys en druk die groen knoppie by dr Samsung se naam.
Louise gesels hele middagete, wat lank was omdat Reghardt hulle se nefies en niggies kom kuier het, met die sielkundige.
Aan die begin van die oproep speel sy ‘n baie hartseer liedjie, maar sê totsiens met ‘n grappige liedjie van Kaptein Skuim.
Frankie is verbaas toe sy die foon neersit en skielik vir hom ‘n liefdesliedjie speel. Sy skerm verander toe sommer Vodacom rooi en hare Heita pienk van verliefdheid!
“Wat het die selfoonsielkundige gesê?” vra Frankie.
“Die selfoonsielkundige het die goeie kant van my moeilike lewe vir my vertel.”
“En wat is die positief van jou lewe, Louise?” vra Frankie opgewonde.
“Lelanie gebruik my kamera vreeslik baie en gesels my knoppies seer, maar sy gooi my nie rond nie, sy krap nie my skerm nie en sy bêre my in ‘n mooi pers selfoonsakkie. Pers is my gunstelling kleur.”
Frankie is baie bly dat Louise beter voel. Hy is so bietjie onsteld omdat hy sy “flash” vir Louise flikker, maar dit lyk nie of sy afgeneem wil word nie. Hy wil haar graag sy skerm se agtergrond maak!
“Frankie, ek sien jy wil baie graag ‘n foto van my neem.”
“O, ek het gedink jy kom dit nie agter nie.”
“Ek kom dit agter want ek wil net só graag jou agtergrond wees, maar eers moet jy jou verlede met my deel.”
Frankie vibreer nader en kyk Louise diep in die skerm. Hy vertel vir haar van sy pappa en hoe hy gedroom het om ‘n meester te kry.
Toe hy klaar sy storie vertel het, vibreer Louise agteruit en draai met haar skerm vir ‘n foto. Van toe af is sy Frankie se agtergrond en hy het dit nooit weer verander nie.
(Skrywer: Enzlia Oosthuizen)