Nelia Engelbrecht is ‘n vrou met wonderlike skryfvermoëns in ‘n verskeidenheid van genres. Die skrywer was eers ‘n joernalis maar het haar passie in kreatiewe skryfwerk gevind. Nelia vind dat fiksie baie makliker is om te skryf as feitlike stories. Joernalistiek het haar ingeperk omdat net beskikbare materiaal gebruik mag word. Sy is baie meer gelukkig om haar eie inhoud te skep.
Ek as skryfkunsstudent het Nelia geraadpleeg oor hoe om sukses te bereik as skrywer. Kortverhale is my keuse genre en aangesien Nelia 65 kortverhale al gepubliseer het, het ek haar raad ter harte geneem. Volgens haar is die belangrikste element van enige verhaal die karakters.
“Jy moet hulle goed ken voordat jy begin skryf. Jy moet hom of haar sien en hoor in jou kop.” Nelia beskou hierdie as die kern tot haar wenresep. Verder vertel sy dat sy haar karakters visualiseer terwyl sy skryf. Sy sien hulle aksies voor haar geestesoog afspeel soos ʼn film. Sy sien haar karakters loop en praat en dan word sy hartseer as daar iets sleg met hulle gebeur. “Kinderkarakters maak my altyd hartseer. As hulle swaarkry, trek ek saam met hulle swaar.”
Ek weet dat elke karakter ontwikkeling of groei moet ondergaan in ʼn verhaal, maar hierdie kan gekompliseerd raak in ʼn kortverhaal. Nelia se antwoord is dat verskillende gebeure karakters lei tot ontwikkeling. In kortverhale is daar net plek vir een of twee treffende gebeure wat die karakter tot insig lei. Hierdie gebeurtenisse gee die karakter die motivering om anders op te tree.
Verder waarsku Nelia my dat die ouderdom van karakters baie belangrik is vir die teikengehoor, veral as dit kom by skryf van tienerverhale. Sy beveel aan dat die karakters in jou verhaal twee tot drie jaar ouer as jou teikenleser moet wees. Hulle respekteer hierdie karakters en wil graag soos hulle wees.
Nelia glo ook dat die skrywer baie aandag moet gee aan die teikengehoor. “Ken jou teikenmark. Luister hoe hulle praat en lees ander stories van dieselfde genre. Leer by die kenners.” Sy vertel haar ervaring in 1994 toe sy ʼn storie ingestuur het vir publikasie. Die storie was afgekeur en hulle raad aan haar was om kenners se werk te lees. Sy het dit gedoen en ontdek dat “warm” verhale die mode was. Sy het daarna ʼn paar sulke verhale geskryf en dit gepubliseer.
Uit nuuskierigheid het ek Nelia aangemoedig om verder te vertel van haar vroeë skryfervaringe. Sy het die Sarie Nasionale kortverhaalkompetisie in 1999 gewen. Daarna het sy ʼn klomp verhale vir tydskrifte geskryf. Dit het vir haar baie ervaring en geleenthede gegee. Dit was vir haar maklik om te skryf vir ‘n tydskrif omdat daar vasgestelde strukture, woordtelling en temas is wat gevolg moet word. Sy sê dat al die liefdesverhale gelukkig moet eindig waar die paartjie by mekaar uitkom. Die uitdaging is egter hoe om daardie gelukkige einde op ʼn kreatiewe manier te benader.
Daarna het sy vir boekklubs geskryf en Lapa uitgewers het drie van daardie boeke gepubliseer.
Ek vra toe vir Nelia oor die Kinderboektoekening wat sy in 2009 gewen het vir Pandora se boks. Haar antwoord daarop was dat kinderboeke absoluut haar gunsteling genre is om in te skryf. Sy was lus om ʼn boek te publiseer en toe bied Lapa uitgewers ‘n werkswinkel aan oor die skryf van kinderboeke. Franci Greyling het dit aangebied en vir al die deelnemers ‘n baie interessante uitdaging gestel. Sy het vir elkeen R40 gegee en gesê hulle moet in die brein van ʼn kind klim en dan besluit wat om met die geld te koop. Hierdie het haar aangespoor om kinderverhale te skryf.
Nelia noem dat daar wel beperkinge betrokke is om tienerverhale te skryf. Alhoewel die karakters baie eerlik kan wees, is daar sekere vloekwoorde en temas wat vermy moet word. Hierdie is veral belangrik as skole die boek moontlik wil gebruik. Nelia sê dat uitgewers baie hulpvaardig is en dat hulle die skrywer die geleentheid sal gee om die boek “ skoon” te maak indien skole daarin belangstel.
Nelia skryf ook graag haar tienerverhale in die eerste persoon. Sy voel dit plaas haar dieper in die karakter se skoene en dan kan sy die storie met meer emosie vertel. Dit help ook om karakters van mekaar te onderskei. Hulle taalregister is duideliker asook hulle gevoel teenoor hulle familie en vriende.
Hierdie jaar het Nelia ‘n nuwe tienerverhaal gepubliseer getiteld: Die vierletterwoord. Hierdie boek het sy ingeskryf vir die Sanlam Kompetisie in samewerking met Tafelberg uitgewers. Sy was wel net ‘n finalis, maar Tafelberg het van die verhaal gehou en besluit om dit te publiseer. Die tema van die boek is “hoop” wat dan die vierletter woord verteenwoordig.
Verder raadpleeg ek Nelia oor die saamstel van ‘n kortverhaalbundel. Sy het toe geantwoord dat sy nie werklik ‘n kenner op die gebied is nie omdat haar kortverhale in ander mense se bundels gepubliseer word. Sy is egter van mening dat dit interessant sal wees om ʼn bundel saam te stel waar die hoofkarakter van een verhaal weer verskyn as ‘n bykarakter in ‘n ander verhaal en anders om. Sy sê dit sal help om die verhale saam te bind om die bundel te vorm.
Al het Nelia so groot liefde vir kreatiewe skryfwerk het sy nie heeltemal haar joernalistieke skoene weg geskop nie. Sy werk by die NWU se Institusionele kantoor waar sy verantwoordelik is vir korporatiewe publikasies. Sy werk aan die jaarverslae en ‘n profielboekie oor die universiteit wat regoor die drie kampusse versprei word. Sy werk ook aan die Alumni-tydskrif wat twee maal per jaar verskyn
Laastens vra ek haar of daar ‘n toekoms is vir kortverhale. Sy lag en antwoord: “Nie as jy ‘n lewe daarvan wil maak nie. Jy gaan altyd ‘n ander loopbaan moet hê tensy jy Deon Meyer is.” Sy verduidelik dat jy in Suid-Afrika skryf vir die liefde van die saak en dat jy net sal geld maak as jy aan ‘n klomp kompetisies deelneem en tydskrifverhale skryf.
Haar laaste advies aan my was dat ek ‘n dik vel moet ontwikkel en moet leer uit kritiek. Sy sê dat mens nie moet moedeloos word nie en jou ore oë moet oop hou want interessante stories idees kom van die mense rondom ons.