“Ka-doef!”
Die stilte word verbreek deur Katryn wat vinnig in die gang af hardloop met haar ma kort op haar hakke. Katryn se parmantige bokstertjies wip op en af en haar sproetgesiggie kyk bang op na haar ma.
“Ek is baie jammer, Mamma,” pleit Katryn. “Ek sal dit nooit weer doen nie. Belowe!”
“Katarina, ek het jou al hoeveel keer gewaarsku om nie in die kombuis te kom speel as ek daar besig is nie, en kyk nou, daar laat val jy die koek vir vanaand se funksie.”
Katryn weet dat haar ma baie naby aan trane is en dat haar pa se hele loopbaan van vanaand se funksie afhang.
“Maar, Mamma,” bepleit Katryn haar saak. “Dis nie my skuld nie.” Sy huil amper.
“Nie? Nou wie se skuld is dit dan?”
Katryn soek vinnig vir ‘n antwoord terwyl sy met haar toon in die sagte mat boor. “Dit was… dit was Wagter se skuld! Hy het vir my gesê hy is honger en dat hy net ‘n klein happie van die koek wil hê.”
Arme Wagter lê onskuldig in sy hondehok terwyl hy die petalje aanskou.
“Dis genoeg, Katryn,” sê haar ma moedeloos. “Gaan speel eerder buite.”
Stadig stap Katryn na buite. “Sien jy nou, Wagter, hulle is liewer vir jou as vir my,” fluister Katryn terwyl die trane een vir een oor haar wange rol. Arme Wagter klap maar net sy oë toe en begin verder snork.
“Dis reg!” skreeu Katryn. “As hulle my nie wil hê nie, dan… dan loop ek sommer weg!”
Katryn maak die klein hekkie wat na die berg toe lei, oop.
Katryn se huis is aan die voet van ‘n groot berg geleë. Haar pa vertel haar altyd van al die diere wat in die berg woon. Haar ma waarsku altyd: “Dit is nie ‘n plek vir kinders nie, Katryn.”
Wel, vandag is dit, besluit Katryn daar en dan. Sy begin vrolik huppel net soos Heidi in die berge terwyl haar bokstertjies vrolik in die wind waai. Om haar word die plantegroei al hoe groener en die bome al hoe hoër. Sy verkyk haar aan die mooi pienk en pers blommetjies wat hier en daar hulle gesiggies tussen die groot varings uitsteek. “Dit lyk soos ‘n prentjie,” fluister Katryn met verwondering.
Dit is nie lank nie of sy hoor ‘n geritsel in die takke. “Is daar iemand daar?” vra sy in ‘n bewerige stem.
“Swoesj-swoesj…” hoor sy die blare teen mekaar skuur. Die volgende oomblik voel sy ‘n natterige mengsel op haar kop neer plons en vee stadig met haar hand daaroor.
“Ag sies! Dis voëltjie bollie!”
“Ek verkies die term houtkappe mis,” kom ‘n krakerige stem bo uit die takke.
“Wie is dit? Wie het dit gesê?” vra Katryn verskrik.
“Joehoe, hier bo jou.”
Toe Katryn opkyk sien sy ‘n pragtige voël met die mooiste skakerings van rooi en oranje vere wat helder in die sonlig blink. Die haartjies op sy kop staan penorent. Dit laat Katryn effens glimlag. Ewe skielik besef sy iets. “Jy…jy kan praat,” stamel sy.
“Natuurlik kan ek!” antwoord die Houtkapper. “Het jy gedink ek is dom?”
“Nee, maar my ma sê dan dat diere kan nie praat nie.”
“Jou ma het dan nie ‘n verbeelding nie. Sê my wat is jou naam?”
“Ek is Katryn, en jy?”
“Katryn,” fluister die Houtkapper, “dis ‘n mooi naam. Waar is my maniere heen? Ek is Toktokkie.”
“Dis ‘n vreemde naam,” antwoord Katryn.
“Ag, dis omdat ek glo altyd ‘n tok-tok- tok geluid maak as ek aan die bome kap,” antwoord die Houtkapper. Hy vlieg rats oor Katryn se skouer en gaan sit op die laagste tak bokant haar se kop. “Tok-tok-tok,” hoor Katryn die geluid. Toe sy opkyk sien sy hoe die Houtkapper sy bekkie heen en weer teen die stam van die boom kap.
Katryn skaterlag. “Dis baie mooi, Toktokkie! Sê my hoekom het ek dit nog nooit gehoor nie?”
“Seker omdat jy nooit luister nie,” antwoord Toktokkie slim.
Nog voordat Katryn kan antwoord, tref ‘n aaklige reuk haar. “Sies, wat ruik soos Wagter se poefies?”
Toktokkie bly so ‘n oomblik met sy snawel in die lug staan.
“Ag, dit is net Stinkie,” antwoord Toktokkie.
Die volgende oomblik sien Katryn ‘n groot ronde bolletjie mis wat stadig na haar toe gerol word. Toe die bolletjie mis naby genoeg is, sien sy die klein kewertjie agter die bolletjie mis wat besig is om sy vrag te stoot.
“Wat is jy?” vra Katryn vir Stinkie.
“My ma sê ek is ‘n… ‘n muiskruier,” antwoord Stinkie in sy skik.
“’n Miskruier, Stinkie,” antwoord Toktokkie.
“Dis mos wat ek gesê het, Tokkie-tok.”
Katryn kan haar lag nie verder inhou vir die koddige Stinkie se antwoorde nie en begin skaterlag. Dis nie lank nie of haar lagbui verander in ‘n huilbui. Arme Katryn kan haar trane wat oor haar sproetgesiggie rol, nie meer langer keer nie.
Dit is Stinkie wat eerste probeer om haar te troos. “Jy hoef nie bang te wees vir my nie, ek mag dalk stink maar, ek sal jou nie byt nie.”
Nou huil Katryn nog harder..
“Sien jy nou!” raas Toktokkie met Stinkie. “Ek het jou al hoeveel keer gesê jy moet gaan bad want jy ruik na bollie! En nou laat jy haar oë sommer traan van jou vuilheid.”
“Dis nie julle nie,” sê Katryn so tussendeur die snikke. “My ma het my weggejaag. Ek dink nie sy het my meer lief nie.”
Toktokkie vlieg nader en hop-hop tot by Katryn.
Stinkie los sy bolletjie mis en kruip tot onder haar voete. “Jy kan in my huisie kom slaap,” troos hy.
“Ag, haar kleintoontjie sal nie eers in jou huisie pas nie! Nee, sy kan by my kom slaap,” sê Toktokkie beslis.
“En hoe dink jy moet sy daar bo in die takke kom? Vlieg?”
“Ek wil in my eie bed slaap,” snik Katryn.
“Nou wat het jy gedoen dat jou ma so kwaad is vir jou?” wil Toktokkie weet.
“Ek het per ongeluk my ma se koek laat val wat sy spesiaal vir vanaand se funksie gemaak het.”
“Koek? Waar is die koek?” vra Stinkie wat net die helfte van die gesprek gehoor het, en eweskielik baie lus geword het vir die koek.
“Stinkie, jy luister ook altyd net halfpad,” betig Toktokkie hom en draai weer na Katryn. “Nou hoekom het jy haar koek laat val, Katryn?”
“Sommer, want ek was honger en die versiering het baie lekker gelyk. Hoe moes ek geweet het dit gaan uit my hande gly?”
“Ai, kindjie,” antwoord Toktokkie simpatiek. “Jou ma het maar net hard gewerk aan daardie koek en dit is hoekom sy kwaad is vir jou.”
“Is nie,” stry Katryn hardkoppig, “sy wil my nie meer hê nie.” Katryn snik terwyl die trane weer van voor af oor haar sproetgesiggie rol. Haar twee bokstertjies hang verlep langs haar gesig, terwyl haar modderige vingertjies patrone in die sand teken.
“Moenie huil nie, Katryn! Ons sal jou help,” antwoord Stinkie dapper.
“Maar hoe, Stinkie?” vra Katryn.
Stinkie begin op en af loop terwyl hy sy bolletjie mis voor hom stoot. Lank loop hy so, hard besig om aan ‘n plan te dink. Toktokkie gaan sit op Katryn se hand en begin saggies die droë modderstukkies van haar vingers af te pik.
“Ek het dit!” skreeu Stinkie so hard dat Toktokkie amper van Katryn se hand afval en in Stinkie se bolletjie mis beland.
“Wat is dit Stinkie?” vra Katryn opgewonde.
“Ek weet hoe jy jou ma se kwaaigeit kan wegvat!”
Katryn val plat op haar knieë en tel Stinkie in haar vuil hande op. “Vertel my asseblief, Stinkie.”
“Ons gaan vir jou ma ʼn nuwe koek maak!” sê Stinkie baie in sy skik.
“En waar beplan jy om die bestanddele vir die koek te kry?” wil Toktokkie by Stinkie weet.
“Maar ons het tog als wat ons nodig het Tokkie-Tok. Ons gaan ‘n miskoek maak!”
“Dis ʼn wonderlike plan, Stinkie!” roep Katryn bly uit, min gepla oor die feit dat die koek eintlik ‘n miskoek is.
“Wel, dis seker nie ‘n slegte plan nie,” antwoord Toktokkie, kwaad vir homself omdat hy nie eerste aan die plan gedink het nie.
En so begin Katryn, Stinkie en Toktokkie aan die miskoek werk. Katryn gaan haal al die los sand wat sy kan kry en meng dit met ‘n bietjie bergwater sodat dit net so sag soos deeg is. Stinkie rol sy bolletjie mis tot in die modder en daarna begin Katryn die mis met haar hande in die modder in te meng.
“Daar kort nog iets,” sê Katryn ingedagte.
“Ek weet,” antwoord Toktokkie. Die volgende oomblik beland daar klomp wit en swart blertsies voëltjie mis in die miskoek.
“Dis perfek!” kraai Katryn van geluk.
Nadat die deeg mooi geknie is, plaas Katryn een van Stinkie se bolletjies mis op die miskoek.
“Wag,” skreeu Toktokkie van bo af, terwyl hy in die takke in verdwyn. ʼn Rukkie later verskyn hy met ‘n bloedrooi bessie in sy bekkie, en plaas hy die bessie bo-op die bolletjie mis.
“Dis pragtig! My ma sal mal wees hieroor.”
“Nou, waarvoor wag jy kindjie? Gaan vat dit vir jou ma sodat sy nie meer vir jou kwaad hoef te wees nie,” antwoord Toktokkie wys.
“Maar hoe kan ek ooit vir julle dankie sê?” vra Katryn terwyl sy Stinkie amper dooddruk in haar hand.
“Ag, wat is ‘n paar stukkies mis tussen vriende,” antwoord Stinkie sag. “Onthou net om vir ons te kom kuier, Satyn,” weerspreek Stinkie hom alweer.
“Maar natuurlik sal ek. Julle is dan my maatjies!” Katryn gee Stinkie ‘n soen wat hom amper binne in haar mond laat beland, en gee vir Toktokkie ʼn drukkie wat al sy vere deurmekaar maak.
Diep gelukkig huppel Katryn die paadjie af na haar huis toe, terwyl haar bokstertjies parmantig langs haar kop rond bons.
“Jy is toe nie so dom soos ek gedink het nie, Stinkie,” sê Toktokkie terwyl hulle Katryn agterna staar.
“Dankie, Tokkie-Tok, ek dink ook so.”
Toe Katryn by die huis kom, sluip sy suutjies by die agterdeur in en plaas die miskoek op die kombuistafel. Nog voor sy kon wegloop kom haar ma die kombuis binne.
“En dit?” vra haar ma.
“Dit is vir Mamma,” antwoord Katryn. “Ek is baie jammer oor ma se koek en ek wil nie hê mamma moet vir my kwaad wees nie, en toe bak ek vir ma ʼn nuwe koek.”
“My kind, dit was nie nodig nie. Mamma is baie lief vir jou! “ antwoord haar ma en gee Katryn ‘n stywe drukkie. Hierdie woorde laat Katryn sommer bly voel en net voordat sy by die kombuis uit huppel hoor sy haar ma hardop praat: “Ek wonder hoe sy hierdie miskoek kon gemaak het?”
Katryn glimlag terwyl sy aan haar avontuur saam met Stinkie en Toktokkie dink, en antwoord diep gelukkig, “dit is my geheim.”
(Skrywer: Jana Snyman)