“Lolla,” sê Dokter Wilna een oggend toe hulle klaar wegkruipertjie gespeel het, “ek het ‘n verrassing vir jou. Ek moet na ‘n kongres toe gaan in ‘n groot stad aan die voet van ‘n plat berg. Jy gaan vir ‘n paar dae by Ouma Lenie kuier.”
Lolla is só opgewonde. Sy is baie lief vir Ouma Lenie. Ouma Lenie is Dokter Wilna se ma. Sy bly in ‘n dorp langs ‘n groot rivier. Dis vir Lolla baie lekker om by Ouma Lenie te kuier, want Ouma Lenie bederf haar vreeslik.
Ouma Lenie is bly om vir Lolla te sien.
“Ag jou liewe ding!” sê sy vir Lolla. “Ons twee gaan só baie dinge doen dat jy nie eers vir Dokter Wilna sal mis nie.”
Ouma Lenie is nie ‘n gewone ouma wat rustig by die huis bly en koekies bak en truie brei nie. O nee, Ouma Lenie is ‘n besige ouma. Sy gaan dorp toe en na haar boekklub toe en sy rangskik blomme. Die lekkerste ding vir Lolla is dat sy oral saam met Ouma Lenie kan gaan. Almal ken vir Ouma Lenie en hulle gee nie om as sy vir Lolla saambring nie. Lolla is ‘n soet hond met goeie maniere. Sy gaan selfs saam met Ouma Lenie kerk toe! Dan lê sy stroopsoet by Ouma Lenie se voete tot die kerk uitkom.
“Lolla,” sê Ouma Lenie een middag, “ek sien hier is nuwe bure langsaan. Ons moet gaan kennis maak.”
Lolla stap saam met Ouma Lenie na die nuwe bure toe. Hulle vat ‘n koek saam om te sê welkom.
“Kom binne,” sê die nuwe buurvrou. “Dis baie gaaf van julle om te kom kennis maak.”
In die sitkamer sit daar ‘n kat op die vensterbank. Lolla ken nie katte nie, maar sy voel hoe rys haar nekhare sommer so vanself. Die kat se hare staan ook alles regop. Lolla trek haar bo-lip op en wys haar tande en knor saggies. Die kat sis en blaas.
“A nee a, julle twee!” raas die nuwe buurvrou. “Julle gaan nie soos twee maaifoedies hier baklei nie. Ons wil in vrede ons tee drink en koek eet. Kom, uit is julle! Madelein! Gaan buite!” raas sy.
Sy boender hulle altwee buitentoe en maak die deur agter hulle toe. Bedremmeld sit Lolla en Madelein op die trappie. Hulle het skoon vergeet dat hulle wou baklei.
Na ‘n rukkie staan Madelein op en stap tuin toe. Lolla stap agterna. Toe Ouma Lenie en die nuwe buurvrou deur die venster kyk, sien hulle net hoe Lolla en Madelein baljaar. Hulle speel jaag-jaag. Na wegkruipertjie is dit Lolla se gunsteling speletjie. Dit word ‘n heerlike middag. Lolla is stokflou gespeel toe sy en Ouma Lenie huis toe stap.
“Lolla,” sê Ouma Lenie, “dit lyk my ons het altwee nuwe vriende gemaak vandag.”
Eendag sê Ouma Lenie: “Lolla, vandag gaan ek salon toe om my hare en my naels te laat doen. Jy gaan ook salon toe – jy gaan na die hondesalon toe!”
Lolla is baie opgewonde. Sy was nog nooit by ‘n hondesalon nie. Dokter Wilna bad haar altyd sommer self.
Die hondesalon is nie baie groot nie. Buite is daar hokke waarin die honde wag om mooigemaak te word. ‘n Vriendelike vrou was vir Lolla dat die skuimbolle so staan. Daar kom ‘n bietjie sjampoe in Lolla se oog, maar die vrou vee dit gou af voor dit haar oog kan brand.
“Jammer, ou kleintjie,” sê sy.
Sy vryf Lolla droog met ‘n sagte handdoek. Daarna blaas sy Lolla met ‘n haardroër droog. Sy knip Lolla se naels en verf dit bloedrooi. Lolla lyk vir haarself tog te mooi.
“Lolla,” lag Ouma Lenie, “ons twee lyk darem deftig, jong! Ons hare blink en ons naels is sowaar dieselfde kleur geverf!”
Lolla geniet die kuier by Ouma Lenie, maar sy begin tog bietjie verlang na Dokter Wilna.
“Lolla, raai wie is hier?” sê Ouma Lenie die volgende dag. En daar staan Dokter Wilna! Dokter Wilna en Lolla is baie bly om mekaar te sien. Lolla waai haar stertjie en dans al rondom Dokter Wilna se voete rond. Dokter Wilna gee haar ‘n stywe druk.
Ouma Lenie het lekker kos gemaak vir Dokter Wilna. Hulle sit en gesels aan tafel en Dokter Wilna vertel van alles wat sy geleer het. Lolla lê langs Dokter Wilna se stoel. Sy weet sy sal netnou van die oorskiet kos kry. Skielik raap Dokter Wilna vir Lolla op en sit haar pens en pootjies bo-op die tafel neer.
Ouma Lenie se oë rek groot. Lolla se oë rek ook groot.
“My liefste Lolla,” sê Dokter Wilna, “ek het só na jou verlang. Jy mag sommer die res van my kos eet.”
“DOKTER WILNA!” sê Ouma Lenie geskok. “’n Mens tel nie ‘n hond op die tafel nie!”
“Maar Lolla is nie ‘n hond nie,” sê Dokter Wilna. “Sy is ‘n prinses.”
“A nee a!” sê Ouma Lenie. “Al was Lolla by die salon en al is sy silwerskoon, hoort sy nie op die tafel nie. Dis onhigiënies! Tel haar af!”
Dokter Wilna knipoog vir Lolla toe sy haar weer op die grond neersit.
Daardie aand droom Lolla sy is ‘n prinses.