Lolla gaan see toe

Riëtte Bester
“Kyk net die tyd! Ons sal moet wikkel, Lolla, as ons voor donker by die see wil wees,” sê Dokter Wilna.

“Lolla! Lolla!” roep Dokter Wilna na die worshondjie terwyl hulle wegkruipertjie speel, “Waar is jy?”

Dokter Wilna gewaar ’n swaaiende stertjie wat agter die bank uitsteek. Sy kruip stadig nader en woerts gryp sy rats vir Lolla agter die bank uit en begin haar magie te kielie. Lolla geniet díe aandag sommer baie, al het Dokter Wilna haar wegkruipplek so vinnig gevind.

Kyk net die tyd! Ons sal moet wikkel, Lolla, as ons voor donker by die see wil wees,” sê Dokter Wilna toe sy op haar horlosie kyk. Sy skarrel weg om al die bagasie in die motor te laai terwyl Lolla opgewonde agterna draf.

Nou toe, Lolla, is jy reg om te gaan?” sê-vra Dokter Wilna toe die motor klaar gepak is en sy seker gemaak het dat hulle niks vergeet nie. Lolla gee ’n blaf om Dokter Wilna te antwoord. Haar hele lyfie bewe van plesier by die gedagte dat sy vir die heel eerste keer see toe gaan gaan. Sy kan nie wag om op die warm sand in die sonnetjie te lê en bak nie, en natuurlik om in die see te swem!

Die rit is lank van hul huis in die stad na die see, maar Lolla gee nie om nie: Dokter Wilna draai die venster oop sodat sy haar kop by die ruit kan uitsteek as sy op haar agterbeentjies staan. Dis pure plesier vir die klein brakkie; haar tong hang uit en haar ore wapper in die wind. Lolla verkyk haar aan die veranderende landskappe waardeur hulle ry. Dis so anders as die stad. Daar is oop grasvelde, mielielande, koeie, berge en ’n klomp riviere en stroompies.

Kort-kort stop hulle om brandstof in te gooi. Dan kan hulle bene rek en Lolla kan water drink en bietjie rondsnuffel.

“Foei tog,” fluister Dokter Wilna toe sy ’n slapende Lolla uit die kar uit dra ná die dag se lang rit – Lolla is pootuit. Dokter Wilna glimlag en dra die slapende Lolla en hulle bagasie in hulle woonstel in. Môre is nog ’n opwindende dag wat vir Lolla voorlê.

Lolla word wakker met ’n klam, souterige briesie in haar neus; sy gaap en rek haarself uit, nog baie deur die slaap. Sy gewaar Dokter Wilna wat op die stoep van die woonstel staan en eers toe sy buite kom, besef sy waar sy is. Sy is mos uiteindelik by die see!

“Goeiemôre my hondekind,” groet Dokter Wilna met ’n glimlag toe sy Lolla se voetjies oor die teëls hoor aangeskarrel kom, “Is jy reg vir strand toe gaan?” ’n Vrolike blaf gee Dokter Wilna haar antwoord.

Lolla verwonder haar aan al die nuwe belewenisse op die strand: die warm sand onder haar pote, die see-briesie wat haar neus kielie, die geluid van mense wat baljaar in die water… Wat hoor Lolla daar? Kan dit wees? Die geblaf van ander honde? Nou is Lolla sommer baie bly.

Dokter Wilna lê uitgestrek op haar strandhanddoek en lees ’n boek. Sy loer oor haar boek en glimlag toe sy Lolla sien speel met een van die ander honde op die strand.

Lolla en die lewensredder se gawe labrador speel al te lekker op die strand. Die twee jaag meeue en hardloop deur die vlak water. Toe hulle honger raak kry hulle elkeen ’n sappige rooiworsie wat Dokter Wilna by een van die smouse op die strand gekoop het.

Die labrador hardloop ná middagete  na die lewensredder se wagtoring en kom terug met ’n tennisbal in sy mond. Hy is reg vir nog kaskenades met sy nuwe maatjie. Lolla is mal oor bal speel.

Oe jitte! Daar rol die bal die see in voor die twee honde-vriende kan keer! Lolla hardloop agterna, sy sal die bal gaan haal.

Die water is heerlik koel en Lolla geniet die speletjie nou sommer vreeslik. Die gety trek die bal al dieper die see in, saam met Lolla. Haar kort beentjies voel nie meer die sand onder haar nie. Nou raak Lolla bang – sy is nou al baie ver van die strand af. Sy probeer omdraai en terugswem, maar tevergeefs: die gety is te sterk. Lolla blaf benoud om hulp na haar vriend op die strand.

“Lolla? Waar is jy?” vra Dokter Wilna toe sy die rumoer by die water gewaar.

Die gawe labrador blaf hard om die lewensredder se aandag te trek.

“Help!” roep Dokter Wilna toe sy Lolla in die see gewaar.

“Help asseblief!” roep Dokter Wilna al harder toe Lolla al kleiner en kleiner word soos sy dieper die see ingetrek word. “Help! My hondekind verdrink!”

Die lewensredder en sy labrador draf die see in toe hulle sien wat gebeur. Hulle is net betyds by Lolla. Haar kort beentjies is al baie moeg van die water trap en sy sukkel om haar kop bo die water te hou. Kort-kort slaan ’n brander water in haar bek in.

“Toemaar, ek het jou,” paai die lewensredder toe hy met Lolla begin terugswem.

“My liewe Lolla,” prewel Dokter Wilna toe die gawe lewensredder Lolla vir haar aangee, “moet my nooit weer so laat skrik nie.”

Sy draai Lolla se bewende lyfie in ’n warm handdoek toe.

Lolla het groot geskrik. Sy sal beslis nie weer so iets probeer doen nie, besluit sy uitgeput toe sy in Dokter Wilna se arms aan die slaap raak.

Daardie aand droom Lolla sy is ’n meerhond.

Riëtte Bester
Die storie is geskryf deur Riëtte Bester. Riëtte is ‘n Skryfkunsstudent aan die Noordwes-Universiteit (Potchefstroomkampus) 2015.
Illustrasies deur Riëtte Bester
Kopiereg: Riëtte Bester
0
Would love your thoughts, please comment.x