Sneeuwitjie slaan haar kamerdeur gefrustreerd toe. “Niemand verstaan my nie! Ek is lief vir hom, daarom sal ek met hom trou.” Sy lê op haar bed en snik. Na ’n rukkie kom haar ma by die kamer in en gaan sit langs haar op die bed.
“Sneeuwitjie, ek wil net die beste vir jou hê. Die prins is ’n baie lui en nare mens. Om met hom te wil trou is net nie ’n goeie idee nie. Daar is baie visse in die see, jy sal nog iemand baie beter kry.”
“Nee, Mamma. Elke meisie droom tog van die dag wat ’n prins haar gaan vra om te trou. Nou het my prins, ’n regte prins my gevra om te trou! Hoekom mag ek nie?”
Haar ma sug. “Ek kan jou nie keer om met hom te trou nie, maar asseblief my kind, wees tog net versigtig.”
’n Paar dae later is al Sneeuwitjie se goed gepak. Sy en haar ma het ’n ooreenkoms aangegaan dat sy eers ’n rukkie by die prins in die paleis moet gaan bly voor sy haar finale besluit oor die trouery neem.
Die prins is egter vir ’n paar dae weg op besigheid, maar hy het haar belowe dat hy so gou as moontlik by die paleis sal wees. Die bediendes is baie gaaf en laat haar baie tuis voel. Sy bly in ’n baie groot kamer met 24uur kamerdiens.
‘Dit is die lewe,’ dink Sneeuwitjie toe sy op haar bed gaan lê met ’n glasie sjampanje in die hand. Alles is perfek. Daar is wel een ding wat haar so bietjie pla, en dit is die prins se twee sussies. Hulle is vreeslik naar met haar en laat haar nie juis tuis voel nie. Die prins se sussies raak elke dag al hoe wreder met haar. Hulle het haar al begin beveel om in die oggende hulle beddens op te maak en om in die aande die bediendes te help met die skottelgoed.
Toe die prins uiteindelik by die paleis opdaag, doen hy nie juis moeite om vir Sneeuwitjie te laat welkom voel nie. Hy lê heeldag in sy kamer en Play station speel. Hy is tog vriendelik met haar en hy het haar gevra om te trou, maar hy het nog nie eens agter gekom dat sy soos ’n slaaf werk nie.
Sneeuwitjie is baie ongelukkig. ‘Ek moes maar liewer vir my ma geluister het,’ dink sy een aand toe sy weer die skottelgoed was. Dan hoor sy hoe haar aanstaande skoonsussies in die sitkamer net langs die kombuis praat.
Sneeuwitjie sluip stilletjies nader en luister na die gesprek.
“Ons kan nie dat sy bo ons aangestel word nie, Emily. Sy gaan koningin word en dan gaan ons nog net prinsesse bly.”
“Nadine, ek het ’n plan. Kom ons stuur vir haar ’n mandjie vol vrugte, maar dan sit ons gif in een van die appels. Sy sal doodgaan en ons sal weer kans staan om koningin te word,” stel Emily voor.
“Ek dink dit is ’n baie goeie plan. Ons doen dit sommer môre, nog voor die verlowingspartytjie begin.”
Sneeuwitjie weet dat sy nou in groot moeilikheid is en so gou as moontlik uit die paleis moet padgee. Sy gaan sit buite in die tuin en dink baie hard aan wat sy nou gaan doen. Dan sien sy vir Jagter wat die vleis vir die volgende dag se verlowingspartytjie bring. Sneeuwitjie glimlag, want sy het haar idee gekry.
“Ekskuus tog, meneer. Ek het u hulp nodig.”
Die jagter glimlag vir haar. “O aanstaande koningin noem net en ek sal u help.”
Sneeuwitjie vertel hom van die lui prins en sy sussies se bose plan.
“Ek wil hê u moet nog ’n hasie of iets skiet en dan sy hart vir die sussies wys. Vertel hulle dat ek dood is.”
Die jagter stem in en Sneeuwitjie begin dadelik hardloop. Sy wil huis toe gaan, na haar ma toe. Sy wil haar ma vertel dat sy reg was. Ma’s weet altyd die waarheid.
Sneeuwitjie is so ingedagte terwyl sy hardloop, dat sy nie agterkom sy het die verkeerde paadjie in die woud gekies nie. Sy kom af op ’n ou huis. Sy klop aan die deur, maar niemand maak oop nie. Toe sy die deur saggies oopstoot, snak sy na haar asem. ‘Verseker net mans wat hier bly,’ dink sy kwaai. Oral op die vloer lê ongestrykte klere, die skottelgoed raak al amper die dak en al sewe beddens is onopgemaak.
Sneeuwitjie klik haar tong. “Goeiste maar mens kan moes nie so leef nie,” sê sy hard-op. Sy rol haar moue op en begin alles mooi aan die kant maak. Dan maak sy deeg aan en bak ’n lekker broodjie.
Die broodjie is net uit die oond, toe kom hulle daar aan. Sewe dodelike aantreklike mans. Toe hulle by die huis aankom, gaan staan hulle vir ’n oomblik stil. Hulle kyk na die vloer, dan na die wasbak, dan na die broodjie en uiteindelik na Sneeuwitjie.
Sneeuwitjie glimlag. “Hallo, julle is seker die mense wat hier bly? My naam is Sneeuwitjie…”
“Wat het jy met ons huis gedoen?” val die een haar baie ontsteld in die rede. “Jy het weke se werk vernietig!” Hy klink baie naby aan trane. Hy hardloop na die tafel waar daar ook baie klere en sjokolade papiere gelê het. Hy wys ontsteld na die tafel. “My klere-sjokolade berg. Dit… dit het net hier gestaan. Ek werk al weke daaraan.” Hy gryp sy kop vas en hardloop na die wasbak. “Hier… net hier het my borde en koppies berg gestaan, as ek nog twee koppies bygesit het, sou ek die genius world book of records gehaal het. JY!” Hy wys na Sneeuwitjie. “Jy het alles vernietig!”
Een van die ander mans slaan hom hard op sy blad. “Ontspan toe. Dit is regtig nie so erg nie.”
“Nie so erg nie? Nie so erg nie, Pieter? Sy het alles vernietig!”
“Ja toe nou, dit het jy al gesê.” Dan kyk Pieter na Sneeuwitjie. “Jy het omtrent hard gewerk om ons plek so aan die kant te kry. My naam is Pieter. Ek en my ses jonger boeties bly hier. Jy het al vir John ontmoet,” hy wys na sy boetie wat by die tafel, met sy hande in sy hare sit en huil. “en die res se name is Kobus, Vincent, Theo, Freddie en Nelis.” Elkeen lig sy hand op as Pieter sy naam noem.
Sneeuwitjie vertel hulle haar hele verhaal en die boeties stel dadelik voor dat sy nog ’n rukkie by hulle bly. “Net-nou kom een van die sussies agter dat jy nog lewe. Hulle sal jou weer probeer doodmaak,” sê Vincent. “Skryf ’n brief vir jou ma, sodat sy kan weet jy lewe en dan bly jy nog ’n rukkie by ons.”
Nelis bou vir haar ’n bed en sommer baie gou voel sy tuis by hulle.
Elke oggend as die boeties uit die huis loop waarsku hulle Sneeuwitjie om vir niemand oop te maak nie. Dan gaan hulle werk toe. Sneeuwitjie bly by die huis en maak seker dat die huis netjies bly en dat John nooit weer een van sy ‘vullisberge’ begin nie.
Nuus het net ongelukkig ’n manier om baie vinnig te versprei, en kort voor lank vind die prins en sy sussies uit dat Sneeuwitjie nog lewe. Die prins beveel sy knegte om haar te kry en haar terug te bring paleis toe. “Ek wil met haar trou! Kry haar!” blaf hy vir sy knegte en speel dan verder play station. Die sussies besluit dat hulle ook vinnig ’n plan sal moet maak om haar te kry voor hulle boetie doen.
Sneeuwitjie sing vrolik saam met die liedjie op die radio. Dan is daar ’n klop aan die deur. Sneeuwitjie skrik so bietjie, maar vat die kannetjie pepperspray wat Theo vir haar gegee het, styf vas. Sy loop tot by die voordeur.
“Wie is daar?” vra sy en probeer haar bes om die bang uit haar stem te hou.
“Ons is twee ou vroutjies wat koekies verkoop. Sal jy dalk belangstel? Ons verkoop dit as fondsinsameling vir ons ouetehuis.”
Sneeuwitjie maak die deur oop en glimlag vir die twee ou vroutjies. “Wat se koekies het julle alles daar?”
“Soetkoekies, niks anders nie.”
“Ek sal drie pakkies vat. Dankie julle.” Sneeuwitjie vat die drie pakkies. Iets is vir haar vreemd. Dit lyk of die twee ou tannies nog wag vir iets. “Het ek julle nie genoeg betaal nie?” vra sy huiwerig.
“Nee-nee, hierdie is genoeg geld.” Hulle kyk haar nog steeds aan asof hulle wag.
Sneeuwitjie knik haar kop. “Nou goed dan. Lekker dag verder.” Sy maak die deur toe.