Die sussies staan buite Sneeuwitjie se deur.
“Dink jy sy gaan die koekies eet?” vra Nadine.
Emily glimlag. “Ek sê jou wat, ons kom môre terug dan sal ons uitvind. Ons bring môre sommer ook iets anders saam om te verkoop, maar doodgaan sal sy doodgaan. Al is dit die laaste ding wat ek oor seker is.”
Sneeuwitjie sit die ketel aan en maak die pakkie koekies oop.
Oumense is eintlik so oulik. Hoeveel moeite het hulle nou nie gedoen om die koekies te bak vir hulle ouetehuis nie?’ dink sy hardop.
Sneeuwitjie vat ’n koekie en doop dit in haar tee. Tot haar verbasing word die tee groen. ’n Klein stemmetjie in Sneeuwitjie waarsku dat sy liewer nie die koekies moet eet nie. Sy bêre dit onmiddellik in die kas en wag vir die boeties om huis toe te kom. Vincent is baie slim met plantsoorte en allerhande kosse wat goed is vir jou of nie. Hy sal haar kan sê of daar iets fout is met die koekies.
Die aand kyk Vincent lank na die koekies. Hy gooi ’n paar chemiese stowwe daarop en dan kyk hy verlig na haar. “Ek is so bly jy het nie die koekies geëet nie. As jy dit sou eet sou jy nou dood gewees het.”
“Wil hulle my so graag dood hê? Dit is tog nie as of ek en die prins meer gaan trou nie.” vra Sneeuwitjie ontsteld.
“Dink jy dit was die prinsesse?” vra Theo.
Sneeuwitjie knik haar kop. “Ek kan nie dink dat dit iemand anders sal wees nie.
Die volgende dag is die boeties weer by die werk. Weereens waarsku hulle haar om vir niemand oop te maak nie. Die keer belowe sy om vir niemand oop te maak nie.
Skaars is hulle weg of daar is weer ’n klop aan haar deur.
“Hallo, is iemand dalk tuis?”
Sneeuwitjie antwoord nie.
Die stem word al hoe dringender. “Asseblief maak oop. Die nare prinsesse wil my doodmaak. Ek weet nie waar anders om skuiling te vind nie,” roep die benoude meisiestem van buite af.
Dadelik maak sy die deur oop. “Kom in. Hulle wil my ook dood maak. Dit is hoekom ek die deur gesluit hou. Jy sal veilig wees hier.”
Sneeuwitjie maak tee vir die meisie. Toe sy omdraai om die suiker uit die kas te haal, gooi die meisie vinnig iets in Sneeuwitjie se tee.
Toe Sneeuwitjie ’n slukkie van haar tee vat, begin sy verstik. Die meisie begin lag. “Ek het vir jou gesê ek sal jou nog kry my liewe skoonsussie. Nou gaan jy doodgaan en ek gaan die volgende koningin word,” lag die meisie.
Net voor Sneeuwitjie haar oë toemaak, sien sy dat die meisie eintlik Emily is, wat haarself net vermom het.
Die sewe boeties is baie hartseer toe hulle haar kry.
“Ai Sneeuwitjie, hoekom het jy nie vir ons geluister nie?” huil Freddie.
Kobus tel haar op en lê haar op haar bed neer. “Ek dink nie sy is dood nie. Sy slaap net baie vas. Ek het al baie daarvan in boeke gelees. Net ’n soen van haar ware liefde sal haar wakker kry.”
Theo glimlag. “Die prins! Ons moet hom dadelik aan die hande kry. As hy haar soen sal sy dalk wakker word.”
Die boeties stuur ’n e-pos aan die kasteel en verduidelik die hele situasie. Hulle kry baie vinnig ’n antwoord wat sê dat die prins op pad is.
’n Paar dae later daag die prins op. “Google maps het ons in ons kanon in laat verdwaal,” maak die prins halfhartig verskoning.
Hy loop na Sneeuwitjie. Hy streel eers oor haar hare. Dan haal hy sy vlos uit en maak sy tande skoon. Daarna spuit hy bietjie Aquafresh mondsproei in sy mond en smeer bietjie lip ice aan.
“Gaan jy haar nou soen of nie?” vra John gefrustreerd. “Werklikwaar, sy het klaar flou geval ek is seker jou asem kan dit nie erger maak nie.”
Hy wil nog iets sê, maar Vincent druk sy mond toe.
Die prins kyk na die boeties asof hulle die is wat mal geword het. Dan gooi hy sy mantel oor sy skouer, lig Sneeuwitjie se kop met sy een hand op en soen haar saggies. Niks gebeur nie. Die prins kyk onbegrypend na haar. Dan soen hy haar weer, en weer, en weer.
“Nee wat. Sy is dood,” sê die prins. Dit klink nie of hy eers ’n bietjie hartseer is nie. Hy en sy diensknegte ry daar weg.
Die boeties staan verslae agter. “So dan is dit nou dit?” vra Kobus. “Sy is dood. Hoe maak ons nou?” Hy begin huil.
Pieter sug. “Ek stel voor ons hou maar begrafnis. As die prins se soen haar nie eers kon wakker kry nie, wat sal?”
Pieter loop na haar toe en soen haar op haar voorkop. Dan gaan haar oë oop. Sneeuwitjie glimlag vir hom.
“So dan is jy nou my prins?” vra sy en sit regop. “ ’n Doodgewone mens word in my oë my held.”
Kort daarna is Sneeuwitjie en Pieter getroud. Die stiefsussies het haar in vrede gelaat, omdat hulle geweet het sy nie meer koningin kan word nie. Almal, selfs die prins en sy sussies was by die troue gewees. Sneeuwitjie se ma was baie gelukkig met die keuse wat haar dogter toe gemaak het, en hulle het lank en gelukkig in hulle huisie gebly. ’n Huisie wat vir hulle soos ’n kasteel was.
(Skrywer: Melindi Fourie)