“Rupert, wat is 6×6?”
Rupert sit asof versteen. Sy gedagtes ver weg. Beslis nie by juffrou en maalsomme nie. Waar hy by sy tafel sit, kan hy sien dat die frons op haar gesig al hoe groter word.
“Ses en dertig, juffrou?” Hy antwoord met ’n piepstemmetjie, wat dit laat klink of hy ’n vraag aan haar stel.
“Ja, Rupert, jy is inderdaad reg. Probeer tog om op te let in die klas.”
Rupert vat sy potlood en begin ’n leeu te teken. Hy hoop dat die leeu lewendig wil word.
***
Maalsomme. Deelsomme. Boonop begin die atletiek vanmiddag. Pouse sit Rupert onder die boom, toe Evert en ’n paar vriende nader gestap kom.
“Haai, Rupert, gaan jy weer vanmiddag laaste kom?” vra Evert terwyl sy vriende uitbars van die lag.
Die grap van die jaar. Dit was laas jaar. Die jaar wat Rupert besef het hy moet ook hardloop, toe sy klasmaats reeds oor die wenstreep was.
Dankie tog verlos die skoolklok vir Rupert van Evert en sy vriende. Evert is goed met maalsomme en die vinnigste op die atletiekbaan. Rupert sug en vat ’n laaste hap van sy toebroodjie.
***
Stefan is in die baan langs Rupert. Rupert hoor hoe Evert grappies maak terwyl hy in sy rigting kyk.
“Seuns, onthou net die eerste drie kwalifiseer,” sê meneer Viljoen.
“Merke, gereed.”
Hierdie keer vlieg Rupert op en hardloop soos blits. Is hy tog nie voor nie?
“Rupert!!!” Hy stop net daar. En draai om. Almal staan en lag vir hom. Koponderstebo stap hy terug. Valse wegspring.
Rupert smyt sy skooltas neer in sy kamer. Hy hoor hoe Maria sing in die kombuis.
“Maria, daardie getalle maak my mal!”
Maria klik net haar tong, terwyl sy aangaan om aartappels te skil.
“Maria, ek kan ook nie hardloop nie,” sê Rupert.
Die ou vrou met die sagte oë hou op met skil. Sy kyk Rupert stip in die oë. “Jy kan tog goed swem,” sê Maria. “En stories vertel wat lewendig word.”
“Ja, maar ek wil ook vinnig hardloop. En weet wat 6 x 6 is.”
“Jy sal wel sien, wat jy sal sien,” sê Maria.
Rupert kry sy handdoek en kies koers in die rigting van die swembad. Met ’n boog duik hy in die water. Die water is koud, maar lekker. Skielik hoor hy ’n gefluit, wat sy ore laat tuit.
Frrrrrrrrrrrrrrrrrrr
“Rupert, kom help tog gou hier.”
Sy hele lyf versteen. Want in die hoek van hulle tuin, staan die grootste leeumannetjie denkbaar. En dis hy wat met hom praat.
Verbaas vryf hy oor sy oë. Kan dit wees?
“Kom sit die leer regop teen die muur. Die ander diere wil ook oorklim.”
Die res!
“Moenie bang wees nie, ek sal jou niks maak nie.”
Niks!
Rupert stap stadig nader aan die muur. Glimlag die leeu sowaar vir hom?”
“Wat op aarde maak jy in ons tuin?” kry hy die woorde uit.
“Wat bedoel jy met wat maak ons hier? Jy wil ons mos hier hê. Jy teken ons altyd as jy in die klas sit.”
Rupert lyk verbaas. Diere in pare. Soos Noag se ark wat juffrou by die skool gelees het. Die verskil? Dit gebeur in Rupert-hulle se agtertuin.
Doofff Doofff
Een na die ander klouter die diere oor die tuinmuur.
“Ek weet nog nie wat maak julle in ons tuin nie?”
“Ontspan Rupert, ons kom hardloop in julle tuin.”
“Hardloop?”
“Ja, ons hardloop ons jaarlikse wedloop hierdie jaar by julle.”
Leeu hou ’n fluitjie na Rupert toe uit.
“En dit?”
“Toe, jy moet ons laat wegspring.”
Al die diere staan in ’n reguit ry. Rupert knip sy oë. Hy droom beslis nie. Hierdie diere is regtig. En hulle is hier. Sy bene voel jellierig.
“Hallo, Rupert,” sê die uil.
“Hallo, Rupert,” sê die rooibok.
Leeu draf tot net voor die swembad, waar hy ’n wenstreep met sy poot uitkrap op die gras.
“Merke, gereed.”
Jy kan ’n speld hoor val. Al die diere se ore is gespits.
“Gaan!”
Dit is ’n geskarrel soos min. Luiperd se gesig vertrek van inspanning. Uil maak woeste geluide. Rooibok hardloop kop omlaag. Maar ystervark wen. Eerste oor leeu se wenstreep.
En hullle duik in die swembad. Een na die ander. Uil, rooibok en luiperd.
Plons!
“Rupert, kom swem saam. Die water is lekker.”
Huh?! hy knyp homself op sy arm, maar hy verbeel homself nog steeds nie.
“Ek is nou daar,” antwoord Rupert.
“Kyk hoe swem ek.” Almal kyk na die ystervark, wat spog met sy passies in die water.
Na ’n ruk klim Rupert doodmoeg uit die swembad.
“Dankie dat jy ons jy ons laat tuis voel het.” Leeu sit sy poot op Rupert se skouer.
Rupert kyk leeu in die oë. “Dis ’n plesier, julle moet weer kom kuier.”
“Dis reg so. Ons moet nou gaan, dit word laat.”
En toe, net so vinnig soos hulle verskyn het, verdwyn die diere weer oor die muur.
***
“Rupert, gaan jy vandag vir ons sê wat 8 x 8 is?” Juffrou kyk na Rupert.
“Ek weet nie, juffrou.”
Voordat juffrou kan antwoord, kyk Rupert weg. En begin ’n olifant teken.
(Skrywer en illustreerder: Marnus Kok)