Vanwaar die naam Siobhán en sy eksotiese spelling?
Ek het die naam al voorheen gehoor en eendag ‘n straat in Bellville gesien wat “Chavonne” genoem is, maar die eksotiese spelling het ek die eerste keer op ‘n TV-program gesien toe ‘n onderhoud met so iemand gevoer is en haar naam onderaan die skerm geplaas is. Dit was ‘n groot verrassing om te sien ‘n mens spel dit so en dit het my bygebly.
Hoekom die sirkus?
Die sirkus trek mos ‘n mens se aandag: al daardie sterk mans, mooi vroue en die narre, almal in kostuums. Dis ‘n droomwêreld vir die toeskouer hoewel ‘n mens natuurlik kan dink dat dit harde werk moet wees om self daar te werk. Siobhán het behoefte om by so iets aan te sluit en haar identiteit aan iets nuut te koppel as wat sy tot dusver geken het.
Jy noem dat die skryfpad na Siobhán omtrent ‘n reis was. Wat was die grootste struikelblokke en hoe lank het jy aan die boek geskryf?
Die boek self het gou gekom, maar ek moet sê die agtergrond en plan en karakters het ek lank in my kop gehad voor ek begin skryf het. Die sirkuskamp in die boek se ekwivalent in die werklike lewe was eintlik ‘n skoolkamp wat ek in 1983 by Wellington bygewoon het. Natuurlik het ek heelwat verander aan wat ek daarvan onthou het, maar die essensie is nog daar. Ek het my leeswerk voor die tyd gedoen sodat ek net hoef te tik en nie halfpad op te hou om eers weer navorsing of beplanning te doen nie. Daar was vir ‘n verandering nie groot struikelblokke in die skryf self nie en ek dink dis omdat ek voorberei het voor ek begin werk het.
Jou boek word opgedra aan Klein-Piet en Colombine – karakters uit die werklikheid?
Dis ‘n geheim!
Alet en Greer is unieke karakters. Hoe is hulle gebore?
Hulle is gebaseer op mense wat ek geken het. Alet het ek geken toe ek nog baie jonk was, Greer toe ek al in my veertigs was. Dit verklaar miskien waarom Greer meer volwasse is.
Hoe vereenselwig jy so akkuraat met die jeug? Wat behels jou navorsing as dit by die dinge van ‘n tiener kom?
Ek weet nie of ek so akkuraat is nie. Wat baie help, is dat my vrou skoolhou en my gereeld van tieners vertel en wat hulle doen en sê. Verder lees ek jeugfiksie soos SE Hinton se boeke. Haar eerste werk is The outsiders en dis ongelooflik. Maar ek dink die belangrikste om te onthou is dat tieners soos enige mense drome en ambisie het. Hulle wil iets hê, partykeer iets konkreet soos ‘n prys vir ‘n prestasie, partykeer iets groot soos volwassenheid. Die vraag is natuurlik of volwassenheid die moeite werd is om na te streef. Maar dis uit so ‘n vraag dat ‘n skrywer moontlik ‘n storie kan maak. Ek moet ook noem dat ‘n skrywer ver kom met ‘n goeie redakteur. Aldré Lategan het aan die manuskrip geskaaf het en dit meer tienervriendelik gemaak het. Sy ken jeugfiksie baie goed en het my handige raad gegee.
Die insident by die rodeo en die beseerde perd, is baie emosioneel vir Gerswin. Kan jy met so ervaring identifiseer?
Daar is op ‘n stadium onwettige rodeo’s in Suid-Afrika gehou en ek het nuusberigte gesien oor hoe die perde swaarkry. Ek het my probeer indink hoe ek sou reageer as ek dit moes aanskou. Wat ek wel beleef het, is eendag toe ‘n perd op ‘n plaas my van veraf ‘n kyk gee, tussen ander perde naderkom en aan die mou kom trek met sy mond. Dit was nogal roerend, hoewel ek na die tyd gedink het die perd wou seker iets te ete by my kry.
Waar skryf jy die lekkerste?
Dit wissel maar. Gewoonlik sit ek voor die rekenaar in ons spaarkamer. Maar dit help ook om iewers te moet wag en niks anders kry om te doen as om iets op my foon te tik nie.
Wat doen jy as jy nie skryf nie?
Ek het hierdie jaar weer vir ‘n korrespondensiekursus ingeskryf. Verder lees ek. Ek het my voorgeneem om baie minder boeke te lees wat ek voel ek moet lees en eerder te kyk na dié wat ek wil lees.
Waarna kan lesers volgende uitsien uit die pen van Jaco Fouché?
Daar is die moontlikheid van nog ‘n jeugverhaal in 2016. Dit sal ‘n seun as verteller hê.