Zinelda McDonald

Kuier by Zinelda McDonald

Zinelda McDonald het onlangs haar eerste prenteboek Die Coolste Ouma op Aarde saam met Marita van der Vyver voltooi. Deon Meiring het met haar gesels oor die opwinding van haar eerste prenteboek en haar werk as illustreerder.

Zinelda McDonald woon in Pretoria. Sy het ‘n honneursgraad in grafiese ontwerp aan die Noordwes Universiteit se Potchefstroomkampus verwerf. Sy het al gedurende haar studies haar unieke styl, gerig op kinderillustrasies, ontwikkel. Sy het al illustrasies gedoen vir talle kinderboeke, handboeke en opvoedkundige gidse onder meer Wiskunde gee my maagpyn en Vis en Tjips van Jaco Jacobs en Peter van der Wind van Carina Diedericks-Hugo. Sy het onlangs haar eerste prenteboek Die Coolste Ouma op Aarde saam met Marita van der Vyver voltooi.  Deon Meiring het met haar gesels oor die opwinding van haar eerste prenteboek en haar werk as illustreerder.

Die coolste ouma op aarde

Hoe het jy ‘n illustreerder geword, was dit toeval of wou jy dit nog altyd doen?

Ek het nog altyd van teken gehou. Ek het ook grafiese ontwerp gaan studeer en een van die opdragte in die vak Illustrasie was spesifiek gerig op kinderillustrasies.  Dit was een van my gunsteling opdragte. Ek het toe nog nie noodwendig gedink ek gaan ‘n illustreerder word nie, maar nadat ek my studies voltooi het, het ek my portefeulje vir uitgewers gestuur en onder andere het Lapa gesê hulle hou van my werk en ek het ‘n pad begin stap saam met hulle.

Het jou opleiding as student jou voorberei of was daar steeds ‘n leerkurwe toe jy in die praktyk begin werk het?

Ja, die deadlines was op universiteit al streng en mens het geleer om hard te werk aan iets om dit op ‘n goeie standaard te kry. Alhoewel die kursus nie noodwendig spesifiek gerig was op kinderboek illustrasie nie, het dit my wel toegerus met die tools om te doen wat ek vandag doen. Tog leer mens ook gedurig iets nuuts in hierdie soort werk omdat mens jouself gereeld moet afvra of dit wat jy doen in voeling is met dit waarvan kinders hou.

Is ‘Die Coolste Ouma Op Aarde’ jou eerste prenteboek?

Ja, dis die eerste prenteboek wat ek doen. Voorheen het ek meer werk gedoen vir bietjie ouer teikengroepe wat steeds illustrasies vereis, maar minder daarvan.  Ek doen ook gereeld omslagontwerp.

Was dit vir jou meer opwindend om ‘n prenteboek te doen?

Ja, die naam ‘prenteboek’ sê reeds baie en mens word uitgedaag om die teks te integreer met die illustrasies.  Daar is ook heelwat ruimte vir eksperimentering.  Een van die voorskrifte van die uitgewer was dat ek moet aandag gee daaraan om dit ‘n eg Suid-Afrikaanse gevoel te gee. Dit was nogal uitdagend, maar ook lekker om regdeur die boek te kyk waar mens iets uniek aan Suid Afrika kon oordra.

Soos jy nou ook genoem het kom daar natuurlik ook uitdagings saam met so ‘n projek, wat was vir jou veral uitdagend van ‘Die Coolste Ouma Op Aarde’?

Die idee dat dit vir so ‘n gevestigde skrywer soos Marita van der Vyver is, is nogal oorweldigend. Tog kan jy maar net soos altyd jou beste gee. Ek het ‘n hele paar voorsketse gedoen vir die uitgewers voordat hulle dit weer aan haar voorgelê het. Die gevoel was daar maar mens moet maar vir enige boek skaaf aan die detail. Aangesien dit my eerste prenteboek was, was dit ‘n nuwe uitdaging, maar die lekker het alles oortref. 

Hoe het jy die projek aangepak? Was daar sekere riglyne wat jy in gedagte moes hou?

Dit het alles begin by ‘n enkele potloodskets van ‘n ‘rock’ ouma om te sien of ek die regte gevoel kon vasvang. Die uitgewers het dit goedgekeur, maar toe begin ons werk aan die fynere details en kleur voorsketse om aan Marita voor te lê. Toe ons haar goedkeuring kry kon ons begin met nog baie beplanning en baie voorsketse om elke ‘cool’ ouma in die boek op ‘n unieke manier uit te beeld. Ek moes ook ‘n rowwe uitleg doen en lettertipes vir die teks kies om dit deel te maak van die illustrasies. Ek en Miemie du Plessis (bestuurder van kinder- en jeugboeke by Lapa) het deur die hele proses ook saamgewerk om die konsepte af te rond.

Waar kry mens die idees vir hoe ‘n karakter moet lyk?

Soms is daar sekere leidrade in die storie soos haarkleur, haarstyl, ouderdom, kleredrag, persoonlikheid ens.  Andersins illustreer ek wat vir my lekker is terwyl ek steeds iets van die storie probeer oordra.

Hoe gaan jy te werk om ‘n unieke styl te ontwikkel?

Ek dink nie mens beplan so iets nie. Dit kom maar net vanself. Enigiets ontwikkel ook maar met tyd. Baie keer ontdek mens ‘n nuwe idee toevallig as mens rondspeel en dan maak jy dit deel van jou werk.

In ‘Die Coolste Ouma Op Aarde’ lyk sekere elemente asof dit uitgeknip is, het dit so toevallig ontstaan?

Dit is nie noodwendig altyd deel van my styl nie, maar ek het ook na baie ander illustreerders se werk gaan kyk vir inspirasie. Party illustreerders het ‘n knip en plak styl wat ‘n vars gevoel is waarvan ek en Miemie baie hou. Ek het besluit om die karakters te laat uitstaan deur hulle eers op ‘n wit agtergrond te plaas, uit te knip en dan op die kleur agtergrond te plaas.

Het jy gunsteling illustreerders na wie jy opkyk?

Ek is mal oor Piet Grobler se unieke, tydlose styl.  Die Britse illustreerder Polly Dunbar het ek eers deur hierdie projek ontdek, maar ek hou baie van haar werk omdat dit so speels is en gebruik maak van gemengde media.

As mense hoor kinderboekillustreerder dink hulle dalk dis lekker en maklik om prentjies te teken. Wat sê jy daarop?

Ek stem saam dat dit waarskynlik ‘n lekkerder werk is as sommige ander werke. Daar is wel baie uitdagings.  Om konsepte te ontwikkel is ook lekker, maar kan soms moeilik wees. As jy vir jouself prentjies teken is dit natuurlik maklik, maar om dit vir iemand anders te doen is nie altyd so maklik nie. As ‘n uitgewer jou byvoorbeeld vra om iets te teken kan hulle dalk alklaar ‘n prentjie in hulle kop hê. Hulle prentjie kan baie verskil van die een in jou kop selfs al gee hulle riglyne.  Soms is mens gelukkig dan werk die eerste illustrasie goed, of dit kan ‘n baie lang proses wees waar mens baie moet verander of selfs van voor af moet begin.

Onderhoud met Deon Meiring. Deon is ‘n musikant en sanger (en oudstudent in Skryfkuns aan die NWU.) Maart 2015.
2015-03-15
0
Would love your thoughts, please comment.x