Timmie is ’n klein blouapie met ’n krulstert en ’n blou fiets met ’n rooi mandjie. Hy bly saam met sy mamma en pappa en drie boeties en sussies in ’n boomhuis in die woud.
“Eendag,” sê Timmie altyd, “eendag gaan ek nog op my fiets klim en ver ry en baie avonture hê!”
“Goed, my kind,” sê Mamma Aap altyd en glimlag en skud haar kop.
“Moenie simpel wees nie, man,” sê Tina altyd en trek ’n gesig. “Jy kan dit mos nie doen nie.”
“Vat my saam, vat my saam!” skree Treintjie en Toontjie altyd en spring op en af.
“Julle is almal nog heeltemal te klein,” sê Pappa Aap altyd en lees sy koerant verder.
Maar Timmie luister nooit na een van hulle nie. Hy sit net en dink aan alles wat hy in sy rooi mandjie en groen rugsak gaan pak as hy eendag met sy fiets gaan ry.
***
Eendag is Timmie alleen by die huis. Pappa is by die werk en Mamma, Tina en die tweeling is Vrugtemark toe. Skielik hoor Timmie ’n klop aan die deur. Hy loer versigtig deur die loergaatjie en vra “Wie is daar?” maar niemand antwoord hom nie.
Nuuskierig maak hy die deur op ’n skrefie oop. ’n Bondeltjie geel en rooi lappe lê onder op die trappe. Timmie krap sy kop. Hy spring die trappies vinnig af en gryp die bondeltjie onder sy arm vas, dan spring hy hulle weer twee-twee op tot binne-in die huis en maak die deur agter hom toe.
Hy sit die bondel op die tafel neer en kyk skewe-kop daarna. Hy steek stadig ’n poot uit, maar toe grom die bondeltjie. Timmie skrik so groot dat hy tot bo-op die kombuiskas spring.
“Wat kan dit tog wees?” wonder hy hardop. Hy is baie nuuskierig, soos apies maar is. Hy skraap al sy moed bymekaar en klouter van die kas af. Hy draai die lappe los en dan gaan staan sy stert skoon regop van verbasing.
“Dis dan ’n leeubaba!”
’n Klein leeutjie lê ewe rustig en slaap in die lappe. Om sy poot is ’n goue seël met die koninklike simbool op. Timmie besef dadelik: die leeubaba is dan die prins! Maar hoekom is hy hier?
Timmie gaan sit sommer op die grond en dink aan hierdie penarie. Hy sien sy fiets langs die deur staan en kry ’n idee. Hy gaan die leeubaba terugvat! Dan sal almal sien hy is nie te jonk om alleen te gaan fietsry nie.
Timmie se hart klop nou woes van opgewondenheid en vinnig gooi hy ’n paar piesangs, ’n waterbottel en ’n padkaart in sy rugsak. Hy draai die prinsie weer versigtig toe sodat hy nie wakker word nie en sit hom in sy fiets se mandjie.
Timmie ry vinnig met sy fiets deur die woud, met die leeubaba voor in die mandjie en sy rugsak op sy rug. Toe hy net buite die woud is, hoor hy iemand sy naam roep. Dis sy beste vriend, Gerrie die kameelperd. Timmie draai sy fiets en stop langs Gerrie waar hy by ’n doringboom staan en blare eet.
“Waarnatoe is jy oppad?” vra Gerrie en buig sy lang nek om die mandjie te beloer.
“Ek gaan die leeuprins terugvat na sy huis toe,” sê Timmie trots. “Iemand het hom voor ons huis se deur neergesit.”
“Haai!” sê Gerrie en sy oë rek groot. “Maar dis mos baie ver! En wat as jy verdwaal?”
“Ek het ’n padkaart. Wil jy saamkom?” vra Timmie.
“Ok,” sê Gerrie nadat hy ’n oomblik gedink het. “Laat ek net vir my gaan padkos inpak.”
En daar gaan die twee vriende met die leeubaba verder op die pad na die paleis toe: Timmie ry op sy fiets en Gerrie draf langsaan. Koning Leeu en sy familie bly op die Goue Koppie in die bosveld. Soos hulle ry beduie Timmie vir Gerrie hoe die pad lyk.
“Ons gaan nou hier deur die Grasveld, dan kom ons by drie groot bloekombome. Daar draai ons regs en loop tot ons by die rivier kom, by die Seekoei Kruising. Dan loop ons weer links deur die Klipveld tot in die Bosveld en dan sal ons die Goue Koppie van daar af sien.”
“Is dit nie gevaarlik nie?” vra Gerrie, en rek sy nek om te kyk of hy nie gevaar in die gras kan sien nie.
“Miskien,” sê Timmie, en sy oë blink van die avontuurslus.
***