
Timmie trap sy fiets en hulle vorder vinnig op die grondpad deur die Grasveld. Die gras is lank, en net Gerrie se nek en die punt van Timmie se stert steek bo dit uit.
“Ek sien iets beweeg!” sê Gerrie skielik, en sy oë is groot.
“Wat is dit?” wil Timmie weet. Hy hou op trap, sit sy fiets versigtig neer en klouter teen Gerrie se nek uit.
“Nee, ek weet nie. Dit kan enigeiets wees!”
Die ding in die gras kom al hoe nader en hardloop al hoe vinniger. Swoesj! hardloop hy uit die gras uit tot in die paadjie en duik weer vinnig weg aan die ander kant. Hy hardloop ’n paar blitsige sirkels om die twee. Uiteindelik kom staan die jong jagluiperd in die paadjie en lag vir hulle.
“Julle moes julle gesigte gesien het!” lag hy effens uitasem.
“Sies vir jou, Fielies!” sê Gerrie vies. “Ek het my amper doodgeskrik!”
Timmie spring van Gerrie se nek af en tot by sy fiets.
“Kyk hierso,” wys hy vir Fielies die babaleeu.
“Jhô!” sê Fielies verbaas. “Waar kry jy dit? Waarnatoe vat julle hom? Kan ek saamgaan?”
“Iemand het hom op die trappies voor my deur gelos. Ons vat hom terug Goue Koppie toe. Ja, kom saam!”
En daar gaan die drie vriende verder deur die Grasveld op pad na die leeupaleis op die Goue Koppie. Timmie ry sy fiets, Gerrie stap rustig langs hom met sy lang bene en Fielies hardloop sirkels deur die gras langs hulle.
***
Uiteindelik sien hulle die drie groot bloekombome. Daar is lekker skaduwee, en hulle besluit om eers te stop en rus want die son is nou hoog en dis baie warm. Terwyl hulle daar sit, kom ’n kekkelende trop tarentale verby getrippel.
“Wat maak julle drie kinders so alleen hierso?” wil hulle weet.
“Ons vat die leeubaba terug huis toe,” sê Timmie.
“Tjie, tjie, tjie!” sê die tarentale. “Dis mos baie ver!”
“Ek gee nie om nie,” sê Timmie.
“Pasop net as julle deur die rivier gaan,” sê die tarentale. “Pê-pê-pê-pasop vir die krokodille. Hulle sal julle met ’n glimlag opeet!”
Die tarentale draf verder onder die bome deur en verdwyn al kekkelend in die gras.
Die drie vriende is nou honger, en elkeen haal die padkos uit hulle rugsakke uit. Timmie eet sy piesangs, Gerrie sy gedroogde blare en Fielies eet ’n lekker vet stuk biltong.
“Dink julle nie die leeubaba is al honger nie?” vra Gerrie bekommerd. Timmie maak die komberse bietjie oop en kyk.
“Hy slaap nog vas,” sê Timmie en haal sy skouers op.
“As hy wakker word kan ek vir hom ’n stukkie biltong gee,” bied Fielies aan.
“Nee man, hy is nog te klein!” sê Gerrie. “Mens moet vir ’n babatjie melk gee.”
“Wat ons waar kry?” vra Fielies.
“Kom ons ry verder voor hy wakker word,” sê Timmie. “Dalk kry ons iemand langs die pad wat weet.”
Die drie vriende ry, stap en draf verder met die pad af na die rivier toe. Hulle hou hulle oë groot oop toe hulle naby die water kom, want hulle wil nie graag die krokodille raakloop nie.
“Hoe ver is dit nog na die Seekoei Kruising toe?” vra Gerrie senuweeagtig. “Ek hou nie van die rivier nie.”
“Dis nie meer ver nie,” sê Timmie. “Kyk, ek sien iets daar in die water!”
Hulle gaan vinnig nader, maar skrik toe hulle sien dis nie ’n seekoei nie.
“Dagsê, kinders,” sê die krokodil wat in die modderwater tussen die riete lê. Net sy kop en ’n stukkie van sy stert steek uit.
Die drie vriende loer na mekaar en begin met groot treë agteruit beweeg.
“Moenie bang wees nie, kinders,” sê die krokodil en glimlag vriendelik. Sy tande blink in die son. “Wat is in die mandjie?”
“Dis die leeuprins,” sê Fielies. “Ons vat hom terug huis toe.”
“O, so?” sê die krokodil en beweeg bietjie nader. “Nou bring bietjie hier laat ek kyk.”
“Uhm…dit word al laat…ek dink nie…” begin Gerrie.
“Ek sal niks maak nie,” glimlag die krokodil weer. “Ek sal julle selfs help om oor die rivier te kom. Ek is baie vinniger as die ou seekoeie.”
“Regtig?” vra Timmie. Hy kyk vir die ander. “Miskien…”
“Is jy laf?” vra Gerrie vies. “Jy onthou wat die tarentale gesê het!”
“Ja, kom ons loop liewer,” stem Fielies saam. Vinnig-vinnig verdwyn die drie terwyl die krokodil kwaad sy reuse stert teen die water slaan.
Hulle hoef nie ver te gaan voor hulle by die Seekoei Kruising kom nie. ’n Groot seekoei kom rustig nader gedryf toe sy hulle op die rivierbank sien staan.
“Kan ek julle help?” vra sy moederlik. “Wat maak julle drietjies hier alleen?”
“Ons vat die leeubaba terug huis toe,” verduidelik Timmie. “Ons moet aan die ander kant van die rivier kom.”

Die seekoei is vriendelik en vat hulle een vir een oor die rivier op haar rug. Gelukkig het sy ’n lekker breë rug, sodat selfs Timmie se fiets daarop kan pas.
“Sterkte verder, kindertjies,” sê die seekoei. “Wees net versigtig, hier is ’n vlakvarkbende hier rond wat altyd moelikheid soek!”
Die drie belowe om versigtig te wees.
“Julle, moet ons nie maar teruggaan nie?” vra Gerrie bekommerd. “Dit raak nou baie gevaarlik.”
Fielies knik sy kop en stem saam.
“Ag nee man!” sê Timmie. “Ons kan nie nou omdraai nie! Ons het al heeltemal te ver gekom.” Die ander twee sug. Hulle pote is al seer en hulle word honger. “Goed dan,” sê Fielies. “Maar dan moet ons gou maak!”
Die drie vorder nou vinnig, want die son sak al. Hulle kan al die Goue Koppie sien toe ’n groep vlakvarke hulle voorkeer. Dis ’n klomp jong mannetjies, en hulle is lus vir moeilikheid.
“En waarnatoe dink julle is julle oppad?” vra een van die vlakvarke, ’n groot vent met dik bene.
“Ons vat die leeuprins terug huis toe,” verduidelik Timmie. Die vlakvarke lag hard en lelik.
“O so!” snork hulle. “Nou laat ons sien hoe lyk Sy Hoogheid!”
“Ons is baie haastig,” sê Fielies. “Ons het nie tyd nie. Kom julle, laat ons gaan!”
Die drie vriende begin beweeg maar die vlakvarkbende wil hulle nie laat verbykom nie. Hulle harte begin woes klop.
“Nie so vinnig nie!” sê die bendeleier en tjoef! steek hy ’n gat in Timmie se fietswiel met sy groot, geel tande.
Timmie is lus om te huil, maar hy sluk sy trane braaf weg.
“Wat wil julle hê?” vra hy.
“Kyk, as dit regtig die prins is, sal die koning mos baie betaal om hom lewendig terug te kry,” sê die vlakvark en lag weer hard. Hy en die res van die bende begin dadelik konkel en planne maak.
Skielik laat sak Gerrie sy lang nek en begin opgewonde fluister. “Julle, ek het nou net ‘n klomp buffels en luiperds gesien, ek wed julle dis die koninklike soekgeselskap!”
“Het hulle ons gesien?” vra Timmie. Hy krul sy stert en hou al vier sy duime vas.
“Ek dink nie so nie,” sê Gerrie en skud sy kop. “Hulle is in die ander rigting oppad.”
“Nie vir lank nie,” sê Fielies en sy stert piets ’n paar keer teen die grond. Dan trek hy soos ’n warrelwind weg, spring bo-oor die vlakvarke en verdwyn in die gras voordat die vlakvarke eers een keer kan snork.
Die varke is nou kwaad, en maak groot geraas. Die babaleeu word wakker van al die lawaai en begin hard huil.
“Maak stil die ding!” raas die bendeleier. Timmie haal die leeubaba uit die mandjie en hou hom vas soos hy sy mamma sien doen het.
“Wat nou?” vra hy benoud. “Ek weet niks van babas af nie!”
“Hy is seker honger,” sê Gerrie en frons. “Ons sal vir hom moet melk kry.”
Die twee gaan sit onder ’n boom en probeer hulle bes om die baba stil te kry. Skielik begin die varke wild skree en hardloop die twee amper onderstebo om weg te kom.
“Dis Fielies-hulle!” roep Gerrie bly. Timmie sit die baba neer en klouter die boom uit, en begin sommer op en af spring op die tak.
Fielies kom breëbors tot by hulle gedraf. Saam met hom is twee groot buffels en ’n luiperd. Drie ander luiperde jaag by hulle verby agter die vlakvarke aan.
“Die is my neef, Jan,” sê Fielies. “Hy is een van die koninklike wagte, en hulle is op soek na die leeuprins.”
“’n Spul jakkalse het hom vanoggend gesteel omdat hulle kwaad is vir die koning,” verduidelik Jan. “Ons soek al heeldag na hom, en toe hoor ons van julle drie wat op pad is.”
“Waar het julle dit gehoor?” vra Gerrie verbaas.
“’n Spul tarentale loop al heeldag rond met die storie. Hulle het ’n meerkat vertel, wat toe ’n blouwildebees vertel het. Die blouwildebees vertel toe ’n swaeltjie en die swaeltjie vertel toe ’n arend en toe kom vertel die arend vir ons. Maar kom, laat ons julle by die paleis kry. Die koningin is al dood van bekommernis.”
***
Die drie vriende gaan toe verder saam met die buffels en luiperds tot by die Goue Koppie, waar hulle die leeubaba teruggee aan die leeukoningin. Sy is so bly dat sy elkeen van hulle sommer ’n lek-soen oor die kop gee. Die koning is ook baie bly en belowe om Timmie se fietswiel vir hom te laat regmaak. Hy stuur ’n sekretarisvoël om die drie diere se mammas en pappas te gaan vertel dat hulle veilig is, en sê hulle kan vanaand in die paleis slaap.
“Ek is trots daarop om sulke brawe diere in my koninkryk te hê,” sê Koning Leeu vir die drie in ’n growwe stem. “Ek sal seker maar dat julle ryklik beloon word, en môre sal my koninklike wag julle vergesel tot by julle huise. Daardie vlakvarke en die sluwe jakkalse gaan almal verban word Woestyn toe, so ons sal nie nog moeilikheid van hulle kry nie.”
Daardie aand raak Timmie met ’n groot glimlag op sy gesig aan die slaap, en droom van hoe hy tot by die huis gaan ry met sy fiets en al sy avonture vir sy ouers en boeties en sussies vertel.