Die klipvis en die skulpievanger

Rouxne van der Westhuizen
Die onderwaterstad van Suriana is in rep en roer – chaos, eintlik.

Die onderwaterstad van Suriana is in rep en roer – chaos, eintlik.

“Gaan vertel die koning! Iemand, gou, gaan vertel die koning!” skree iemand.

Meerminne swem van die een plek na die ander. Seenimfe roep angstig om hulp in hulle fyn waterdruppelstemmetjies. Die seeperde probeer uit hulle stalle breek. Die visse en ander seediere skree en swem paniekerig heen en weer,  sodat  ’n mens skaars die stad kan sien deur al die borrels wat hulle met hulle sterte opklits.

Maar nie almal is so paniekbevange nie. Op sy kliphuisie se stoep staan ’n klein klipvissie en kyk na die stad. Hy verstaan nie waaroor die vreeslike bohaai gaan nie.

“Ekskuus tog,” vra die klipvis vir ’n krap wat oor ’n klip aangeskarrel kom. “Hoekom is almal in die stad so paniekerig?”

“WEET jy dan nie?!” roep die krap geskok uit. “Die Skulpievanger is weg!”

Die Skulpievanger? dink die klipvis. Die Skulpievanger is dan die ou, wyse towenaar wat in die koraalgrot net buitekant die stad bly. Hy is veronderstel om al die strande op die Aarde op te pas: hy beheer watter seediere aan wal mag gaan, hoeveel skulpies daar op die sand uitspoel en ook hoeveel rotse daar op die strande gevorm word. As die Skulpievanger verdwyn het, beteken dit daar sal baie dinge begin skeefloop op die strande.

Die rotse sal begin verkrummel. Seediere wat nie veronderstel is om uit die water te kom nie, sal sommer op die strande begin rondloop. Die skulpies wat op die sand uitspoel, sal só baie word dat dit onmoontlik sal wees om die sand te sien.

Dit sal chaos op al die strande veroorsaak!

“Goeiste!” roep die klipvis. “Hoekom het niemand nog vir die koning gaan sê nie?”

En net daar wikkel die klipvissie sy vaal stertjie reg, en swem so vinnig as wat hy kan na die paleis in die middel van die stad.

Rouxne van der Westhuizen
Die storie is geskryf en geillustreer deur Rouxne van der Westhuizen. Rouxne is ‘n Skryfkunsstudent aan die Noordwes-Universiteit (Potchefstroomkampus) 2015.
Illustrasies deur Rouxne van der Westhuizen
Kopiereg: Rouxne van der Westhuizen
2015-06
0
Would love your thoughts, please comment.x