Toe die klipvis by die paleis aankom, swem hy dadelik na die groot troon waar die Seekoning sit.
“U Majesteit, iets vreesliks het gebeur. Die Skulpievanger is weg! Niemand weet waar hy is nie!”
“Ek weet,” sê die koning. “Daar begin al klaar te veel sand op die strande ophoop soos die rotse verkrummel, en daar het al baie walvisse en jellievisse probeer om aan wal te gaan… Ek moet dadelik my soldate stuur om hom te gaan soek, anders gaan al die strande permanent beskadig wees!”
Die koning roep sy beste soldate bymekaar, maar die klipvissie kry skielik ’n blink plan.
“Laat ék hom gaan soek, u majesteit!” smeek hy.

“Jy?” vra die koning verbaas. “Maar jy is dan net ’n klipvissie – hoe gaan jy die Skulpievanger kry, én hom dan nog terugkry in Suriana voor dit te laat is?”
“Ek wil graag gaan, u hoogheid. ’n Klipvissie se lewe is maar vaal en oninteressant… ’n Goeie avontuur, en boonop so ’n belangrike een, is net wat ek nodig het om vir die hele stad te wys dat klipvisse ook belangrik kan wees! En ek weet klaar waar om te begin soek. Laat ek hom opspoor, asseblief u majesteit?”
“Nou maar goed dan,” sê die Seekoning uiteindelik. “Jy mag gaan. Maar op een voorwaarde: jy moet die Skulpievanger voor sonsondergang terugbring, anders gaan dit te laat wees – vir ál die strande in die wêreld!”
Die klipvissie is baie bly dat die koning ingestem het, en vir ’n tweede keer vandag wikkel hy sy vaal stertjie reg, en spring weg om met sy groot soektog te begin.
Hy swem eerste na die Skulpievanger se grot toe. Dis ’n reuse grot, byna groot genoeg vir ‘n walvis om in te pas! Die klipvissie swem versigtig in die donker grot in, om baie hoeke en draaie totdat hy in die vertrek kom waar die Skulpievanger gewoonlik werk.
Hy kan byna sy oë nie glo nie!
Die groot vertrek is beeldskoon! Orals langs die kleurvolle koraalmure styg pragtige borrelfonteine na bo, en seegrasversierings hang orals van die dak af. In die middel van die grot is daar ’n reuse, blink perlemoenskulp. Dis waarin die Skulpievanger al die strande van die wêreld kan sien.

Die klipvissie kyk vir ’n paar minute lank in die grot rond. Dit is deel van sy blink plan: om die grot te deursoek vir leidrade. Dit sal hom dalk ’n idee gee oor waarheen die Skulpievanger verdwyn het…
Skielik sien hy ’n kaart op die tafel in die hoek van die grot raak. Dit lê oop, en toe die klipvissie nader swem, sien hy dat daar ’n helder rooi sirkel om die eiland van Hawaii getrek is.
“Kan dit wees waarheen die Skulpievanger gegaan het?” wonder die klipvissie. Hy besluit dat hy eerste daar sal soek.
Die klipvissie wikkel sy vaal stertjie reg… Maar voordat hy kan wegspring om die Skulpievanger in Hawaii te gaan soek, hoor hy ’n aaklige lag vanuit ’n donker hoek in die grot.
Vreesbevange sien die klipvissie hoe twee geel oë hom vanuit die donker aangluur. Dan kom ’n groot, glibberige grys lyf met baie arms stadig uit die skaduwee uitgegly…
Dis ’n reuse seekat!
