Die klipvis en die skulpievanger

Rouxne van der Westhuizen
Die onderwaterstad van Suriana is in rep en roer – chaos, eintlik.

“Wat maak jy hier?” vra die klipvis geskok. “Hierdie is die Skulpievanger se grot!”

“Ja,” sê die seekat met ’n aaklige grynslag. “Maar die Skulpievanger is nie hier nie. Dis hoekom ek besluit het om bietjie self te kom kyk hoe werk hierdie wonderlike perlemoen van hom!”

Die klipvissie stoot sy bors uit, en lyk glad nie bang nie – al bewe sy vaal stertjie effens.

“So, dis jý wat met die skulp gepeuter het! Dis natuurlik hoekom al die strande besig is om uitmekaar te val. En jy weet ook seker waar die Skulpievanger is!” sê die klipvis.

Die seekat lag weer op sy grillerige, bose manier.

“Ek weet nie waar hy is nie! Hy was weg nog voor ek hier aangekom het. So, die perlemoen was heeltemal onbewaak toe ek bietjie met hom begin speel het. Maar nou,” sê hy terwyl hy sy lippe aflek, “is ek sommer honger… ek dink dis tyd vir ’n bietjie klipvis-vleis!”

Hy wriemel sy grys lyf deur die water, maar die klipvis is te rats vir hom. Met ’n swiep van sy vaal stertjie is die klipvis tussendeur die seekat se agt arms verby, oor sy kop en onderdeur sy lyf, sodat hy heeltemal verward is vir ’n oomblik. In daardie kort oomblik glip die klipvissie vinnig by die grot se opening uit en swem so vinnig as wat hy kan na die diepsee toe.

“Ek sal nou die Skulpievanger móét kry,” sê die klipvissie vir homself. “Anders gaan daardie bose seekat vir ewig die wêred se strande vernietig!”

So vinnig as wat sy vinne kan beweeg, swem hy oor die bodem van die oseaan na Hawaii toe. Hy sal moet gou maak as hy die Skulpievanger voor sonsondergang terug by Suriana wil kry…

Sommer vinnig kom die skulpvis by die eiland aan. Eers wonder hy hoe hy na die Skulpievanger gaan soek as hy nie uit die water kan gaan nie… Maar toe onthou hy dat die seekat mos met die Skulpievanger se perlemoen gepeuter het sodat enige seedier op die land kan loop.

Hy haal diep asem, en swem tot in die vlakste water. Toe begin hy op sy stertvinne loop, uit die water uit op die sand!

“Skulpievanger!” roep hy terwyl hy al langs die strand loop. Hawaii is ’n pragtige eiland met baie palmbome en blou, blou lug. Die strand hier het ook nog nie begin om uitmekaar te val nie.

“Skulpievanger! Waar is jy?” roep hy weer. Dan sien hy ’n figuur op ’n lêstoel naby die water lê…

“Dankie tog, ek het jou gekry!” roep die klipvissie verlig uit terwyl hy naderhardloop. Die Skulpievanger lê gemaklik agteroor, met ’n snaakse sonbril op sy oë, terwyl hy elke nou en dan lemoensap uit ’n lang glas deur ’n strooitjie suig.

Hy kyk verras op toe die klipvissie oor die sand aangehardloop kom.

“Grote griet, vriendjie… waar kom jy vandaan?” vra die Skulpievanger verbaas.

“Van Suriana!” antwoord die klipvissie. “Almal daar is op soek na jou. Die rotse op al die strande is besig om in sand te verander, en al die seediere begin nou op die land rondloop. Dis als daardie boseseekat se skuld! Jy moet dadelik terugkom!”

“Liewe land, wat vertel jy my dan nou?! Ag, as ek tog net die skulp nie so lank op selfbeheer gelos het nie…

“Jy sien, klipvissie, die groot perlemoenskulp waarin ek al die strande van die wêreld kan sien, gebruik ek ook om die strande op te pas. Ek het ’n nuwe funksie van die skulp ontdek: ek kan hom op selfbeheer sit, en dan hou hy vanself al die strande in stand terwyl ek niks hoef te doen nie. Toe ek dit uitvind, het ek besluit dat ek hom vir ’n rukkie op selfbeheer gaan hou terwyl ek ’n bietjie met vakansie gaan.

“Jy weet, ek is so oud soos die see self, en in al my jare van harde werk het ek nog nie een keer ’n vakansie gehad nie. Toe dink ek, as die perlemoen dan self vir ’n rukkie die werk kan doen, kan ek mos ’n bietjie ontspan… Maar duidelik werk die selfbeheerfunksie nie so goed soos wat ek gedink het nie!”

“Nee, Skulpievanger. Die hele Suriana is angsbevange, want al die strande in die wêreld is besig om een vir een agteruit te gaan! U moet dadelik terugkom en die seekat keer, voor die son ondergaan!”

En daar trek die klipvissie weer weg: hy spring met ’n boog terug in die see in, met die Skulpievanger agterna, en swem blitsvinnig terug in die rigting van Suriana. Op die horison begin die son al klaar om stadig te sak…

Rouxne van der Westhuizen
Die storie is geskryf en geillustreer deur Rouxne van der Westhuizen. Rouxne is ‘n Skryfkunsstudent aan die Noordwes-Universiteit (Potchefstroomkampus) 2015.
Illustrasies deur Rouxne van der Westhuizen
Kopiereg: Rouxne van der Westhuizen
2015-06
0
Would love your thoughts, please comment.x