Net betyds kom die klipvis en die Skulpievanger by die groot koraalgrot aan. Hulle swem vinnig na die vertrek waarin die seekat langs die groot perlemoenskulp staan, en die Skulpievanger is dadelik baie kwaad.
“Hoe durf jy by my grot inkom en al my strande deurmekaarkrap!” roep die Skulpievanger.
Die seekat skrik toe hy die Skulpievanger sien.
“Nee! Jy is veronderstel om weg te wees! Ek is nou die nuwe baas van hierdie grot, én die strande – ék wil die nuwe Skulpievanger wees!” sê die seekat, en soos blits gryp sy een glibberige poot na die groot perlemoen.
“Hy wil die perlemoen steel!” roep die klipvissie verskrik uit. “Ons moet iets doen!”
Die seekat steek die perlemoen onder een van sy arms in, en swem na die grot se opening toe. Maar net voordat hy uit die grot kan vlug, swem die klipvissie skielik reg voor sy oë in. Met ’n groot gewikkel van sy vaal stertjie, klits die klipvissie duisende borrels voor die seekat se gesig, sodat hy hoegenaamd niks kan sien nie.
“Nou, Skulpievanger!” roep die klipvis.

Dadelik gryp die Skulpievanger die perlemoen onder een van die seekat se wriemelende arms uit.
“Ek sal julle terugkry hiervoor!” skree die seekat woedend, maar sy oë traan só van al die lugborrels dat hy skaars kan sien, en hy draai blitsvinnig om en verdwyn by die bek van die grot uit.
“Ons het dit reggekry, Skulpievanger! Hy is weg” roep die klipvissie bly.
Die Skulpievanger glimlag breed terwyl hy die groot perlemoen weer op sy plek in die middel van die grot gaan sit.
“Ja, hy sal nie sommer vinnig weer terugkom nie,”sê hy.
“Nou is dit tyd dat ons weer al die strand in die wêreld regmaak.”
Met ’n swierige swaai van sy hand, beweeg die Skulpievanger sy vingers oor die bokant van die skulp…
En skielik is die hele grot gevul met ’n helder blink lig.

“Kyk,” sê die Skulpievanger tevrede terwyl hy na die perlemoen wys.
Die klipvissie swem nader, en sy oë rek groot toe hy sien wat in die skulp is:
Die een na die ander flits die beelde van pragtige strande regoor die wêreld verby. Die klipvis sien verwonderd hoe die rotse weer begin opbou, die klomp skulpies op die sand weer terugspoel in die see in, en al die seediere weer vinnig na die water toe skarrel.
“Daarsy! Als weer reg,” sê die Skulpievanger tevrede.
“Hoe wonderlik!” sê die klipvis.
“Wonderlik, inderdaad,” sê ’n vriendelike stem agter hulle.
Toe hulle omdraai, sien hulle dat die Seekoning en ’n paar van sy soldate by die grot ingekom het. Die koning glimlag breed.

Die Skulpievanger lyk verleë. “Ek is jammer oor al die moeilikheid, u majesteit. Ek het nie gedink dat iemand die perlemoen sou probeer oorneem nie…”
“Dis glad nie nodig om jammer te sê nie, Skulpievanger,” sê die koning vriendelik. “Dit was hoogtyd dat jy ’n vakansie neem vir al jou jare se harde werk. En jy het mos nie geweet dat dinge so verkeerd sou loop nie. Niemand het geweet van die seekat se nare planne nie”
Die koning draai na die klipvissie.
“En jy, klein klipvissie, kan baie trots wees op jouself! Ek is baie bly ek het jou gestuur om die Skulpievanger te gaan soek. Jy het uitgevind wie die strande probeer vernietig het, die Skulpievanger gekry én die seekat betyds gekeer toe hy die perlemoen wou steel!”
“Ag, dit was sommer niks nie, u majesteit,” sê die klipvissie verleë.
Die koning haal ’n pragtige medalje uit sy sak.
“Hierdie medalje is nou joune – omdat jy die held van die dag is, en al die strande in die wêreld nou weer lyk soos hulle moet!”
Die koning hang die medalje om die klipvissie se nek. Die klipvis voel baie trots, en glimlag breed vir die Skulpievanger en die koning.
Wie sê ’n vaal ou klipvissie kan nie op groot avonture gaan nie?
