Het jy al agtergekom dat daar altyd ‘n sokkie in jou kas is wat nie ‘n maatjie het nie? Dis nie die wasmasjien wat dit opeet, of jou maatjie wat dit steel nie, nee… Daar gebeur iets baie meer wonderbaarliks daarmee as dit. Jy mag my dalk nie glo nie, maar ek het dit met my eie oë gesien! Wag, laat ek jou eers vertel…
Het jy al agtergekom dat daar altyd ‘n sokkie in jou kas is wat nie ‘n maatjie het nie? Dis nie die wasmasjien wat dit opeet, of jou maatjie wat dit steel nie, nee… Daar gebeur iets baie meer wonderbaarliks daarmee as dit. Jy mag my dalk nie glo nie, maar ek het dit met my eie oë gesien! Wag, laat ek jou eers vertel…
Ek het reggemaak vir skool soos enige ander oggend.
“Karlie! Karliiieee!”
“Ek kom Mamma!”
Waar is my simpel sokkie? Ek het hom nog gisteraand gesien en nou is hy weg! Waar kan hy wees..?
“Karlie kom nou! Jy is baie laat! Jy sal nou skool toe moet hardloop!” roep my ma van die kombuis uit.
“Ek kom, ek kom!”
Vinnig hardloop ek by die voordeur uit.
“Watter sokkies het jy dan aan..?” vra my ma soos ek by die deur uitvlieg, maar ek kry nie kans om haar te antwoord nie. My onderwysers moet maar net verstaan dat ek vandag pienk blommetjie sokkies moet dra.
My tas en my poniestert wip op en af soos ek hardloop, af met die straat en verby die woud.
Op pad skool toe stap ek altyd verby ‘n woud, ‘n woud wat my ma altyd sê ek moet van wegbly, want daar’s gevaarlike goed daar binne. Watter gevaarlike goed weet ek nie rêrig nie, maar sy sê dit so kwaai dat ek liewers daar uitbly.
Ek hardloop so vinnig verby die woud dat ek nie eers die boomwortel sien uitsteek in die pad nie. Karplaks! Val ek gesig eerste op die grond.
Maar… reg voor my neus, lê ‘n sokkie! Maar nie sommer enige sokkie nie, dis my sokkie! Die een wat ek vanoggend gesoek het! Hoe op aarde het hy hier gekom? Ek staan op, skud my rok reg, en tel hom op.
Soos ek opkyk sien ek nog ‘n sokkie, en nog een, en nog een! Ek sien ‘n sokkie van my ma, ‘n sokkie van my pa, een lang kous van my broer, en my ouma se sykous. Verder is daar nog baie sokkies wat in ‘n ry weg verdwyn verder in die woud in. Dis ander mense se sokkies daardie. Hoekom lê die buurt se sokkies in die woud? Dit lyk asof dit na êrens heen lei. Verder in die diep, donker, gevaarlike woud in…
Ek kyk rondom my om te sien of iemand daar is, en daar is nie. Dalk kan ek vinnig gaan kyk waarnatoe lei toe sokkies? Almal sal nogal bly wees om hulle sokkies weer te sien. Veral Ouma Santie. Sy kla omtrent elke dag van haar sykous wat weg is.
Stadig vat ek ‘n tree vorentoe, en toe nog een. Toe ek weer sien hardloop ek vêr in die woud in agter die sokkies aan wat my al hoe dieper en dieper in die woud in lei. My tas wip so op en af op my rug soos ek hardloop en my skoolskoene raak vol grond. Die woud is dan so mooi! Hoe kan so gevaarlik plek vol blommetjies en paddastoele wees?
Ewe skielik hou die lang ry sokkies op. Hoe kan dit net so ophou? Ek kyk agter my.
Daar lê nie ‘n enkele sokkie agter my nie… Maar daar is voetspore?
Die sokkie wat ek nou net gesien het is weg. Wat gaan aan..? Ek hoor ‘n geritsel in die bosse langs my en ewe skielik besef ek ek is in die middel van die diep gevaarlike bos! En ek kan nie uit nie! Wat sal almal dink as hulle uitvind ek is gevang met sokkies??
Daar is ‘n gefluister rondom my, en daar is takkies wat verweg kraak.
Wat moet ek doen, wat moet ek doen?!
Onder my voete voel ek iets beweeg en ewe skielik maak die grond onder my oop en sluk my in!
AAAAAHHHHHHHH!!!
PLOF!
Het ek nou regdeur die grond geval..? Ek lê nou op iets sags, dit is… sokkies?
Ek voel rond met my hande en orals voel ek net sokkies. Ek sit op ‘n enorme hoop van dit! En dit ruik bietjie snaaks… soos voete? Ag duh.
Ver in die hoek van die kamer hoor ek ‘n deur oopkraak, en ‘n lig wat inskyn van buite. Ek hoor fluisterstemme wat van buite die deur af kom. Hulle klink kwaad. Wat gaan met my gebeur?? Ek sit stokstyf gevries op die hoop sokkies. Ek haal skaars asem.
Daar steek ‘n voet uit by die rand van die deur, maar dis nie ‘n gewone voet daai nie. Die voet is enorm! Dis vol wollerige hare, en die toonnaels is dik en geel, met krake in. Wie sal sulke voete hê..?
Stadig stap hy in, en ek kan nie my glo wat ek sien nie. Ek knip ‘n paar keer my o om seker te maak ek sien reg. Die mensie wat voor my staan, is nie ‘n mens nie… hy, hy lyk soos ‘n tipe dwergie, maar hy is nie? Hy lyk asof hy ‘n honderd jaar oud kan wees, met ‘n draderige baardjie wat tot by sy knieë hang. Hy’t ‘n vet, koëlronde neus, en hy lyk asof hy nie langer kan wees as ‘n klaskamer stoel nie! Hy waggel nader met sy pokkel lyfie, en hoe nader hy kom, hoe beter sien ek sy ligte groen vel. Sy geel oë is stip op my gefokus. Hy stop voor die hoop sokkies waarop ek sit.
“Wie is jy, kind? Hoe het jy ons gevind?”
Hy praat met my!
“Uuhm… uuhh…”
Ek hap na lug, en kry niks gesê nie.
“Hierdie moet seker ‘n groot skok vir jou wees. Jy het seker nie eers geweet trolle bestaan nie?”
Trolle? Is dit wat hy is? ‘n Trol?
Ek moet seker nou iets sê…
“Uhm…nee?”
Ek hoor ‘n kwaai gefluister van agter die deur.
“Baie van die trolle hier is baie ongelukkig omdat jy ons hier gevind het. Hulle is bang dat jy vir grootmense gaan sê van ons, en dan gaan hulle ons hier kom uithaal. Dit gaan die einde van ons wees. Jy sal nie vir die grootmense gaan vertel van ons nie, sal jy?”
Ek skud my kop vinnig heen en weer. Ek waag nie eers om my oë te knip nie.
“Nou maar goed,” sê die trol met sy sagte, diep stem, “stap saam met my kind. Ons gaan jou nou huis toe vat.”
Ek gly stadig van die groot hoop sokkies af, met my tas nog op my rug.
Hoe weet ek of ek hierdie trolle kan vertrou? Ek moet seker maar net. As hulle iets aan my doen, gaan my ouers vir my begin soek en hulle gaan my dalk hier kry. Dit is nie wat die trolle wil hê nie.
Ek staan langs die ou trol en hy steek sy hand vir my uit.
Maar… sy klere? Dit is gemaak van sokkies! Sy hemp en sy broek en alles wat hy dra is sokkies wat aanmekaar vasgewerk is!
Ek vat sy hand, en voel hoe grof en dik dit is. Stadig stap ons na die deur toe. Soos ons deurstap sien ek trolle orals. Groot trolle, klein trolle, vroutjie trolle en baba trolle. Groot, vet maer, harig en nie-harig. Elke liewe tipe trol waaraan jy kan dink. En almal se klere is gemaak van sokkies!
Ek kyk orals en orals sien ek tente wat van elke tipe sokkie gemaak is. Ek is amper seker ek het nounet nog ‘n sykous van Ouma Santie gesien op iemand se dak.
Hulle het selfs kerse van die sokkies gemaak deur dit in was te druk en te brand, en dit is hoe hulle ondergronds sien. Hierdie trolle lewe van ons mense se sokkies!
“Uhm, hoekom gebruik julle sokkies..?” vra ek versigtig.
“Dit is maar hoe trolle dit nog altyd gedoen het” sê die ou trol. “Ons ken nie ‘n ander manier nie.”
“O.”
Reg dan, wie is ek om te oordeel?
Ons klim op met ‘n stel rots trappe en ons kom bo by die woud uit.
Die ou trol draai na my toe en kyk baie ernstig na my.
“Jy moet onthou om vir geen mens van ons te vertel nie! Nie vir jou ma, jou juffrou of jou beste maatjie nie!”
Ek skud my kop heen en weer. Wie gaan my in elk geval glo as ek sê ek was in ‘n ondergronde dorp vol trolle wat ons sokkies steel?
“Sien jy die ry paddastoele?” vra die trol terwyl hy met sy groen vinger wys na dit.
“Ja?”
“Volg net dit, dan sal jy terug by die pad kom.”
Ek kyk ver in die diepte in en sien dat die ry paddastoele hou vir lank aan, ek kyk terug en die trol weg. Ek kyk verward om my rond, maar hy is weg.
Lank na dit het ek amper gewonder of ek nie die trolle opgedroom het, of my net verbeel het nie. Dit het so vinnig gebeur! Maar ek weet wat ek gesien het. Ek het toe vir niemand vertel van die trolle nie, behalwe vir jou. So as jy weer ‘n sokkie verloor, weet dit was nie jou skuld nie… Moet net vir niemand sê nie, dis ‘n geheim…
SSSSSJJJJJUUuuuuuttt…
(Skrywer: Tehilla Joubert)