Woltruitjie

Zeldri Nel
Eendag lank, lank gelede was daar 'n klein huisie in die middel van die woud.

Eendag lank, lank gelede was daar ‘n klein huisie in die middel van die woud. In hierdie huisie het ‘n dogtertjie saam met haar ma gewoon. Rooi was haar gunsteling kleur. Sy het elke dag rooi aangetrek, maar haar gunsteling uitrusting was ‘n rooi trui wat haar ouma vir haar gebrei het. Sy het amper elke dag haar rooi trui gedra en as gevolg daarvan het haar mamma haar Woltruitjie genoem.

Op ‘n dag terwyl Woltruitjie nog heerlik buite gespeel het, roep haar mamma haar.

“Woltruitjie,” het haar ma geroep. “Kom tog vinnig hier. Ek wil hê jy moet hierdie bottel heuning vir Ouma vat.”

Woltruitjie het vinnig haar rooi truitjie aangetrek, die bottel heuning gegryp en vinnig by die deur uitgehardloop.

“Versigtig wees!” het Woltruitjie se ma agterna geroep. “Moenie met vreemde mense praat nie en moet ook nie so hardloop nie! Net nou val jy en breek die bottel heuning.”

Woltruitjie het die bottel heuning styf onder haar arm vasgeknyp en deur die woud begin loop. Naby ‘n brug, wat oor ‘n klein stroompie geloop het, het Woltruitjie besluit om vir haar ouma ‘n paar waterlelies te pluk. Skielik het ‘n groot oom met ‘n baie vet neus onder uit die brug uit gekom.

“Wel wat het ons hier,” het die oom met ‘n diep stem gesê. “ ‘n Lekker stukkie… geselskap.”

“Ek mag nie met jou praat nie,” het Woltruitjie uitgeroep. “Ek wil net ‘n paar van hierdie waterlelies pluk, dan gaan ek weer loop.”

“Waarheen is jy op pad, Dogter?” het hy belangstellend gevra.

“Na my Ouma. Sy woon in Rietbosrand in ‘n klein kliphuisie net so entjie hiervandaan.”

“Maar dan loop jy heeltemal die verkeerde pad. Die mooiste waterlelies is aan die einde van hierdie stroom. Ek sal jou verduidelik hoe jy daar kan kom.”

Terwyl Woltruitjie blomme gepluk het aan die einde van die stroom, het ‘n dogtertjie haar vanuit ‘n boom geroep.

“Hallo!” het die dogtertjie met lang goue krulhare geroep. “Kan jy my dalk help? Ek woon alleen hier in die woud, maar die storm het my huisie heeltemal verwoes. Ek weet nie waar ek vanaand sal kan slaap nie.”

“Ek is eintlik op pad na my ouma toe om vir haar hierdie heuning te vat,” het Woltruitjie geantwoord. “Maar jy kan saam met my na my ouma toe loop. Sy is die slimste vrou in die hele wêreld. Sy sal jou kan help.”

Na ‘n rukke verdeel die paadjie waarop Woltruitjie en Krulkoppie deur die woud geloop het.

“Weet jy watter pad gaan Rietbosrand toe?” het Woltruitjie vir Krulkoppie gevra.

“Nee, maar ek dink ons moet die regterkantste paadjie kies,” het Krulkoppie selfversekerd gesê.

Terwyl die meisies saam-saam deur die woud gewandel het, het die woud al kouer geword. Die mis het laag in die lug gehang en die wind het deur Woltruitjie se rooi trui gesny. Skielik het die groot ou oom met die vet neus agter een van die bome uitgeklim.

“Het jy vir jou ouma mooi waterlelies gepluk?” vra die oom slinks.

“Ja, dankie…”

“Hardloop!” skree Krulkoppie. “Dit is die nare trol! Hy gaan ons opeet! Hardloop! Hy eet kinders!”

Woltruitjie en Krulkoppie het so vinnig gehardloop dat Woltruitjie se voet aan ‘n boomstomp vasgehak het. Die bottel heuning het deur die lug getrek en in fyn stukkies gebreek.

“Nee!” het Woltruitjie uitgeroep. “Dit was vir my ouma.”

“Moet nie nou bekommer nie, hardloop!” het Krulkoppie geskree.

Die meisies het vir hulp geskree, maar niemand het hulle kom help nie. In die verte het Krulkoppie ‘n huisie se liggies gesien.

“Kom! Daar is ‘n huisie.”

Die meisies het vinnig in die huisie ingehardloop en teen die deur gesit sodat die nare trol nie die deur sou kon oopmaak nie. Woltruitjie en Krulkoppie het lank teen die deur gesit totdat hulle niks meer buite gehoor het nie.

“My mamma is seker al dood van bekommernis,” het Woltruitjie gesê. “En nou is my ouma se heuning ook nog stukkend.”

“Moet nie bekommer nie,” het Krulkoppie probeer om vir Woltruitjie gerus te stel. “Hierdie mense sal binnekort terug wees en dan kan hulle ons help om by jou ouma se huisie te kom. Daardie nare trol het jou aspris van die pad probeer weglei. As ek jou nie gekry het nie het hy jou al lankal opgeëet.”

Terwyl Woltruitjie en Krulkoppie vir die huisie se eienaars gewag het, het Woltruitjie besluit om net so bietjie te rus op een van die bedjies. Die eerste een was heeltemal te hard. Die tweede bedjie was weer heeltemal te sag. Die derde bedjie was net reg. Woltruitjie het vir net so paar minute haar ogies laat rus. Sy was doodmoeg na die ver hardloop.

“Ek hoor stemme,” het Krulkoppie vir Woltruitjie gefluister.

Skielik het die stoel, wat Krulkoppie voor die deur gesit het, omgeval. Drie, groot, bruin bere het die huisie binnegestorm.

“Wat soek julle in ons huis?” het Pappa Beer kwaai gevra.

“Ek is jammer, Oom,” het Krulkoppie probeer verduidelik. “Die nare ou trol in die woud het my en my maatjie probeer vang, toe hardloop ons na hierdie huisie om te probeer wegkruip.”

“Julle arme goedjies,” het Mamma Beer gesê.

“En nou is my ouma se heuning ook gebreek, want ek het geval toe die trol ons jaag.”

“Moet nie bekommer nie,” het Mamma Beer gesê. “Ons het sommer baie heuning, maar eers moet ons vir julle twee iets gee om te eet.”

Nadat Krulkoppie en Woltruitjie vir die Beer familie hulle hele storie vertel het, het die bere vir Woltruitjie verduidelik hoe om tot by haar ouma se huisie in Rietbosrand te kom. Hulle het vir Woltruitjie twee bottels heuning gegee en vir Krulkoppie ‘n paar skoene omdat sy nie skoene gedra het nie.

“Onthou nou,” het Mamma Beer saggies gesê. “Hierdie is towerskoene wat ek by ‘n groot groen heks gekoop het. As jy ooit in gevaar is, moet jy die skoene drie keer teen mekaar stamp en aan ‘n plek dink waarheen jy wil gaan, die skoene sal jou dan daarheen vat. Met hierdie skoene sal julle veilig by Woltruitjie se ouma uitkom.”

 Daarna het Krulkoppie saam met Woltruitjie na haar ouma se huisie geloop.

“Mooi loop, meisies!” het Mamma Beer agterna geroep. “Bly op hierdie paadjie en onthou: Stamp die skoene drie keer teen mekaar as julle in gevaar is.”

Die bere het die meisies so mooi verduidelik hoe om tot by Woltruitjie se ouma se huisie te kom dat Woltruitjie sommer vinnig die pad herken het.

“Dankie tog,” het Woltruitjie gesê. “Van hier af ken ek die pad.”

Terwyl Woltruitjie en Krulkoppie by die Beer familie was, het die nare trol vinnig tot by Woltruitjie se ouma se huisie geloop.

“Ouma, ek is hier,” het die trol in sy beste dogtertjiestem gesê.

Toe Woltruitjie se ouma die deur oopmaak, het die trol haar gegryp en buite in die stoorkamer toegesluit. Hy het vinnig van haar klere aangetrek en met ʼn hoed op sy kop die koerant begin lees.

Toe Woltruitjie-hulle by haar ouma se deur kom, het sy vinnig aan die deur geklop.

“Ouma,” het Woltruitjie geroep. “Ek is hier en ek het ‘n maatjie saamgebring.”

“Kom in, my kind,” het die trol in sy beste ouma stem geroep. “Ek is so bly jy het vir my jou maatjie ook saamgebring.”

Woltruitjie het vinnig die heuning op die tafel neergesit en saam met Krulkoppie by haar ouma op die bank gaan sit.

“Ouma,” het Woltruitjie gevra. “Hoekom is jou lyf so groot?”

“Sodat ek meer kan eet, my kind.”

“Maar, Ouma, hoekom is jou neus so groot?”

“Sodat ek beter kan ruik, my kind.”

“Maar, Ouma, hoekom is jou mond so groot?”

“Sodat ek jou vinniger kan eet, my kind!”

Die trol het Ouma se hoed afgehaal en Woltruitjie met sy groot hand nader gegryp. Skielik het Krulkoppie onthou van die skoene wat Mamma Beer vir haar gegee het. Krulkoppie het Woltruitjie se hand gegryp en toe die skoene drie keer teen mekaar gestamp. Sy het gewens dat hulle terug was by die Drie Bere wat hulle kon help en  ziem zalla biem toe staan Woltruitjie, Krulkoppie en die trol in die Drie Bere se huisie.

Pappa Beer het die trol na die woud geneem en in ‘n groot ysterhok geplaas sodat hy nooit weer iemand kon seermaak nie. Mamma en Baba Beer het saam met Woltruitjie en Krulkoppie vir Ouma gaan soek. By Ouma se huisie het Woltruitjie vir Ouma hoor roep in die stoorkamer. Mamma Beer het die slot oopgebreek en vir Ouma veilig uitgehaal. Woltruitjie het vir Ouma ‘n koppie tee gemaak met die Bere se heuning en vir Ouma alles vertel wat daardie dag met hulle gebeur het.

Daardie aand het Woltruitjie se ma haar kom soek by haar Ouma se huisie. Sy was so bly om te sien dat haar dogtertjie veilig was omdat sy haar dood bekommer het oor haar. Krulkoppie het by Woltruitjie-hulle gaan bly omdat sy nie ‘n familie gehad het nie en sy en Woltruitjie het sommer vinnig net soos sussies geword.

Woltruitjie, Krulkoppie en Baba Beer het beste maatjies geword en almal van hulle het lank en gelukkig saamgewoon in die donker woud sonder die nare trol wat kindertjies vir middagete eet.

Zeldri Nel
Die herskrywing van sprokies is geskryf deur Zeldri Nel. Zeldri is ‘n Skryfkunsstudent aan die Noordwes-Universiteit (Potchefstroomkampus) 2016.
Kopiereg: Zeldri Nel
2016-10