Essie se ongewone oor

Lisa Boonzaaier
Essie kyk uit oor die veld wat uitgestrek voor haar lê. Soos sy kyk, soek sy haar ma tussen die kraalbosse, maar sy kan haar nêrens sien nie.
Essie

Essie kyk uit oor die veld wat uitgestrek voor haar lê. Soos sy kyk, soek sy haar ma tussen die kraalbosse, maar sy kan haar nêrens sien nie. In die brandende son, gooi haar een skewe oor so bietjie skaduwee oor haar pienk gebrande snoet. Die granietklip waarop sy staan begin om haar voete te brand en sy besluit om ʼn draffie terug na hul holte te vat. Die holte is nie veel om oor te praat nie, maar dit is hulle huis. Die fyn sand is gemaklik genoeg en dit hou hulle droog. Soos sy in die uitgetrapte paadjie af huppel, probeer sy om in die spore van die groter erdvarke te trap, maar haar pootjies is nog te klein en sy trap die helfte mis.

“Essie!” hoor sy haar ma roep. Sy vergeet dadelik van die groter erdvarke se spore en hardloop in die rigting van haar ma se stem. Haar ma staan en wag vir haar in die opening van hul holte met ʼn breë glimlag. Haar pels is stekelrig en haar oë al dof. Die veld is al so droog van die onuithoubare hitte, en dit veroorsaak dat die kos maar min is. Voor haar ma se pote is twee bobbejaanvoetblare waarop daar ʼn paar uintjiewortels lê. Sy gaan sit langs haar ma en kyk na die wortels.

“Dink Mamma die rysmiere sal weer terugkom?” vra Essie haar ma met ʼn stem vol hoop.

“As die reën kom, sal die rysmiere ook kom, my Essie,” sê Snoetsie sag. Sy weet dat die son nog lank gaan brand, maar sy wil nie Essie se hoop wegvat nie. Hulle val weg met die uintjie wortels, en dis skaars ʼn paar sekondes en die wortels is als op. Essie lek haar lippe met smaak af. Vandag het die wortels lekkerder gesmaak as gewoonlik, miskien is dit net omdat sy so honger was.

Na middagete gaan vat haar ma ʼn middagslapie. Sy is gedaan van die hitte en sê vir Essie om met die ander klein erdvarkies in die riviersand te gaan speel. Ongelukkig is Essie nie baie bly om dit te hoor nie. Sy gee ʼn diep sug en gaan sit onder die taaibos langs die holte se gat. Die ander erdvarkies verstaan haar nie. Hulle sê dat sy nie ʼn regte erdvark is nie omdat haar oor nie soos ʼn regte erdvark s’n lyk nie. Hulle kyk altyd so snaaks na haar, en elke keer as sy saam met hulle wil speel, dan beweeg hulle na die ander kant van die rivierbank. Tog besluit sy om gehoorsaam aan haar ma te wees. Sy kry uiteindelik haar moed bymekaar en loop so stadig as wat sy kan in die rigting van die rivierbank.

Die dag se hitte put vir Essie uit, en sy voel hoe haar moed begin sak soos sy al hoe nader aan die rivierbank kom. Na ʼn stap wat te lank en swaar gevoel het, sien sy uiteindelik die ander klein erdvarkies. Hulle speel met ʼn bal in die middel van die rivier se loop. Die bal is amper so groot soos wat hulle is en is gemaak van vleilandriete wat inmekaar gevleg is. Essie is skaars oor die rivierbank toe hulle vir haar begin lag.

“Kyk wie is hier, dis ou skewe oor!” skreeu die een in haar rigting.

“Ja! Sy is nie eens ʼn regte erdvark nie, wat maak sy hier?” sê ʼn ander een.

Essie se hart klop al hoe vinniger en sy voel hoe haar trane agter haar ooglede brand.

“Ek is ʼn regte erdvark,” fluister sy so sag dat sy dit self amper nie eens kan hoor nie.

Die ander erdvarkies lag vir haar en speel verder met die vleirietbal.

Snoetsie kyk verward na haar dogtertjie wat uit nêrens onder haar blad kom inkruip.

“Wat is nou fout, my Essie?” vra haar ma bekommerd. Essie huil so erg dat sy nie eens kan praat nie. Haar ma druk haar styf teen haar bors vas en sing vir haar ʼn liedjie om haar te kalmeer. Na ʼn tydjie van troos, raak Essie darem rustig.

“Hulle was weer lelik met my, Mamma, hulle sê ek is nie ʼn regte erdvark nie en dat my oor snaaks lyk.”

“Ai my Essie-kind, jy moenie na sulke nare woorde luister nie. Jy is perfek nes jy is,” troos haar ma haar verder.

“Maar Mamma, ek het nie eens een vriend nie, almal hardloop vir my weg!”

Sy druk haar voorkop saggies teen Essie s’n en maak haar oë toe.

“Essie…” fluister sy in haar dogtertjie se oor,” … solank jy jouself is, is jy perfek, en moet nooit dat iemand anderster vertel nie. Om anders te wees is soms ʼn goeie ding.” Sy glimlag vir haar ma en vee haar trane met haar stowwerige pootjies af.

“Kom ek en jy gaan kyk of ons nie ʼn paar rysmiere kan kry nie.”

Essie se hartseer is sommer heeltemal weg toe sy dit hoor. Sy is so honger en is al lank lus vir lekker vars rysmiere.

“Sy kan nie eens ordentlik praat nie!” lag die grootste een soos hulle na ʼn ander plek in die rivier beweeg. Essie staan alleen. Dit voel of haar hart in stukkies uit haar borskas gaan val. Sy draai om, en begin eers stadig terug na die holte stap, met haar voete wat dowwe sleepmerke in die warm granietsand los. Maar hoe meer sy dink aan die nare goed wat die ander erdvarkies vir haar gesê het, begin sy hardloop so vinnig soos wat haar vier kort beentjies haar kan dra, terug na die holte. Haar ma is al wakker toe sy daar aankom en sy gaan kruip dadelik onder haar blad in.

Lisa Boonzaaier
Die storie is geskryf deur Lisa Boonzaaier. Lisa is ‘n skryfkunsstudent aan die Noordwes-Universiteit (Potchefstroomkampus) 2017.
Illustrasies deur Bob Gardiner
Kopiereg: Lisa Boonzaaier en Bob Gardiner