Essie se ongewone oor

Lisa Boonzaaier
Essie kyk uit oor die veld wat uitgestrek voor haar lê. Soos sy kyk, soek sy haar ma tussen die kraalbosse, maar sy kan haar nêrens sien nie.

Die son trek skemer, en Essie en haar ma begin hul soektog na rysmiere. Eers kyk hulle onder al die klippe, en dan tussen bosse. Snoetsie soek onder die groter klippe wat te swaar is vir Essie.

Dis ʼn volmaan en dit is lekker koel. Daar is amper ʼn klammigheid in die lug en Essie geniet elke oomblik van rysmiere soek. Sy is kort agter haar ma, toe sy ʼn snaakse spoor langs ʼn kraalbossie sien. Die spoor lyk nie bekend nie en sy besluit om dit te volg. Sy loop al met die spoor langs om te kyk of sy kan sien wie s’n dit is. Sy loop om draaie en bosse op soek na nog spore. Na ʼn tydjie van drafstap, raak die spore skielik dof. Essie stop om te kyk of sy dalk iemand sien, maar al wat sy sien is ʼn groot granietkoppie wat amper heeltemal bedek is met taaibosse. Sy begin stadig agteruitloop, maar kom skielik tot stilstand toe sy ʼn warm asem teen haar kaal stert voel. Haar lyf raak yskoud. Sy wil omdraai om te sien wie of wat dit is maar sy kan nie. Dit voel of haar voete vasgegom is in die sand.

“Hallo daar,”  hoor sy hoe ʼn diep, growwe stem agter haar praat.

“Wie… wie is jy?” vra Essie bewerig, nog te bang om om te draai. Sy kyk net voor haar en sluk hard.

“Rooikat, my naam is Rooikat, my liewe ding.”

Vir ʼn oomblik bly Essie net stil. Sy hoor hoe hy agter haar asem haal en kry uiteindelik haar moed bymekaar. Sy draai vinnig om. Die gedierte is so groot dat sy moet opkyk na hom. Sy roesrooi pels blink in die lig van die volmaan en sy oë skyn rooi. Rooikat lek sy lippe stadig af en staar na Essie.

“Wat maak jy hier liewe ding?” vra Rooikat nuuskierig.

“Ek het ʼn snaakse spoor gevolg…” sê Essie, nog banger as wat sy ʼn oomblik gelede was, “… is die spore dalk joune?”

“Miskien, miskien nie, laat ek sien,” fluister Rooikat met sy warm asem in Essie se nek.

“Mmm ja, dit is my spore.”

“Wel, nou dat ek weet wie se spore dit is, moet ek seker terug na my ma toe gaan.”

Net toe Essie begin wegstap spring Rooikat skielik voor haar in.

“Ek is vanaand darem baie lus vir ʼn sappige erdvark, ʼn jongetjie.”

Essie skrik so groot toe sy daardie woorde hoor dat sy net haar oë toeknyp. Sy begin om die koue te voel en wil terug by haar ma wees. Sy moes nooit die spoor gevolg het nie.

“…ja, ʼn sappige, klein erdvarkie…” vertel rooikat sy storie verder, “…maar jy kan tog sekerlik nie ʼn erdvark wees nie,” mompel Rooikat onseker. Hy loop ʼn paar keer om Essie en gaan sit dan voor haar.

“Hoekom nie?” vra sy, nou effens kwaad. As Rooikat nie eens dink dat sy ʼn erdvark is nie, wie gaan dan ooit?

“Jou ore, my ding, hulle is net nie reg vir ʼn erdvark nie. Jou een oor, hy lê ʼn bietjie skeef.” Essie se wange raak rooi van kwaadgeit. Sy het nou net mooi genoeg gehad van almal wat vir haar sê dat sy nie ʼn erdvark kan wees nie, en moeg vir al die kommentaar op haar skewe oor. Sy loop tot reg voor Rooikat se pote, nou glad nie meer bang nie.

“Weet jy wat…” sê sy in ʼn vurige stemmetjie, “…ek is…” en dan bly sy stil. Skielik tref dit haar dat haar skewe oor besig is om haar lewe te red, en sy raak vir ʼn oomblik stil. Sy dink aan wat sy volgende moet sê. Sy kan nie regtig vir Rooikat sê dat sy eintlik ʼn regte erdvark is nie, want dan gaan daar seker niks van haar oorbly nie. Rooikat staan en wonder oor wat Essie volgende gaan sê. Dan val dit haar skielik by en sy glimlag breed.

“Waarom glimlag jy nou so vreeslik?” vra Rooikat deurmekaar.

Essie wys vir Rooikat dat hy sy kop effens moet laat sak, en fluister dan lag-lag in sy oor, “Weet jy wat, oom Rooikat?”

“Nee, wat?” vra Rooikat nuuskierig.

“Jy is reg, ek is nie ʼn erdvark nie.”

Rooikat draai sy kop skuins en kyk af na Essie. Hy loop ongeduldig om ʼn droë kraalbos en gaan sit weer voor haar.

“Is jy seker?” vra hy nou geïrriteerd. Hy is al vir weke lus vir ʼn sappige erdvark, en nou moet hy so iets hoor.

“Ja ek is,” sê Essie, trots op haar skewe oor wat skuins oor haar snoet hang.

“Nou goed dan, laat ek maar weer op pad wees. Dalk is daar erdvarke hoër teen die berg op.”

Essie is baie verlig om te hoor dat Rooikat verder teen die berg gaan opstap, want sy weet haar ma is laer af, na die rivier. Sy sit nog ʼn tydjie met haar stert wat kiertsreguit agter haar uitsteek. In die verte sien sy hoe Rooikat in die mis verdwyn. Sy val amper om soos sy vinnig omdraai en begin hardloop. Die mis is dik en sy kan amper nie voor haar sien nie, maar sy hardloop. Om bosse en om klippe. Dit voel of sy nooit gaan ophou hardloop nie, toe sy skielik haar ma se stem in die verte hoor. Nie veel verder nie sien sy haar ma besig om na haar te soek.

Na ʼn hardloop wat soos ʼn ewigheid gevoel het, skreeu sy vir haar ma. Snoetsie kyk dadelik om toe sy haar dogtertjie se bekende stem in die verte hoor. Essie is so bly om terug by haar ma te wees, en hardloop die laaste entjie so vinnig dat sy wolke stof agter haar uitskop.

Haar hartjie voel warm van blydskap toe sy onder ma se blad in hardloop en haar warm pels teen haar voel.

“Essie, waar was jy?” vra haar ma verlig dat sy haar kind gekry het. Sy druk haar snoet teen Essie s’n en ʼn traan loop stadig teen haar wang af.

“Ek het ʼn spoor gekry…” sê Essie, haar hartklop jaag en haar asem is kort, “…en Mamma, dit was Rooikat s’n!” Haar ma se snoet raak bleek van skrik.

“Rooikat?”

“Ja Mamma, Rooikat!”

Essie sit vir ʼn tydjie op ʼn growwe granietklip naby haar om haar asem terug te kry, sy is moeg gehardloop. Na ʼn tydjie van rus haal sy diep asem en vertel vir haar ma die hele storie.

“… en Mamma…” sê sy amper opgewonde, “… toe sê hy dat hy lus is vir erdvark, maar hy glo nie dat ek ʼn erdvark is nie omdat my oor nie reg lyk nie!”

“Haal eers asem, my Essie, jy praat te vinnig.”

Haar ma  kan amper nie die storie glo nie. Sy kyk na Essie en verstaan nie hoekom sy so gelukkig lyk nie.

“Essie my kind, hoekom glimlag jy so?” vra haar ma, nog effens ontsteld oor wat gebeur het.

“Mamma was reg,” sê Essie vir haar ma in ʼn sagte stem.

“Reg oor wat, my kind?”

“Oor my ore!”

“Wat van jou ore, my Essie?”

Essie skuif nog verder onder haar ma se blad in.

“My ore het my lewe gered, Mamma, ek weet nou dat dit nie ʼn slegte ding is om anders te wees as die ander erdvarkies nie, solank ek myself is,” verduidelik Essie aan haar ma.

Haar ma knik haar kop tevrede en soen weer vir Essie op haar pienk snoet.

Essie het haar ma oorreed dat hulle nog vir ʼn klein tydjie rysmiere kan jag, en hulle is nie lank in die veld nie toe haar ma ʼn groot rysmierhoop kry. Na hulle gesmul het aan die rysmiere, het die eerste sagte winterreën begin uitsak, en is hulle terug na die warm holte waar Essie met vrede in haar hart aan die slaap geraak het met die geluid van winterreën as haar wiegelied.

Lisa Boonzaaier
Die storie is geskryf deur Lisa Boonzaaier. Lisa is ‘n skryfkunsstudent aan die Noordwes-Universiteit (Potchefstroomkampus) 2017.
Illustrasies deur Bob Gardiner
Kopiereg: Lisa Boonzaaier en Bob Gardiner
0
Would love your thoughts, please comment.x