My eerste biblioteek was my ma. Sy was ‘n opgeleide kindertuin-onderwyseres en het haar vier kinders klein-klein met die klankmetode leer lees. Ek is skool toe met ‘n voorsprong: ek was die enigste sub A’tjie wat somme kon doen en vlot kon lees en het gevoel ek is die slimste kind in die skool.
Elke klas het ‘n klein klasbiblioteek gehad en ek moes dikwels vir die klas voorlees terwyl die juffrou iets anders sit en doen. Ek onthou ek het eenkeer uit pure dwarsgeit ‘n ABC-boek begin lees. Die klas het ‘n keel opgesit en die onderwyseres het gesteurd opgekyk. Ek moes iets anders kies. Maar die kwaad was gedoen. My gewildheid as voorleser was onherroeplik geknou. Hierna het ‘n ander dogtertjie, Gerda, ook soms voorgelees. Ek het vir Gerda met inspanning verdra.
In daardie tyd het Swellendam se openbare biblioteek ‘n beleid gehad (of dalk het ons kinders dit net vir die een of ander rede geglo) dat kinders een Afrikaanse en een Engelse boek moet uitneem. Ek het uit die staanspoor lywige Afrikaanse boeke gelees, soos “Ciske” en J.H.H. de Waal se “Johannes van Wyk” en was skaam om met klein Engelse kinderboekies in die hand gesien te word. Ek het dus groot, dik, imposante Engelse boeke uitgeneem wat ek tot my skande nooit gelees het nie.
My ma se keuse van Afrikaanse voorleesmateriaal was beperk. Ek onthou hoe sy die eerste Afrikaanse vertaling van “Winnie-the-Pooh” met smaak vir ons voorgelees het. Sy’t soms so gelag dat ek en my boetie niks kon hoor nie. Terloops, ek dink nou nog “Ottie” is ‘n briljante vertaling vir “Piglet”. Baie ander Engelse kinderboeke het my ma sommer uit die vuis vertaal terwyl sy vir ons lees. Ek reken dis waar my liefde vir die Engelse letterkunde begin het.
Ek kan nie genoeg klem lê op die waarde van voorlees vir kinders nie. Alle ouers en kinders móét net ‘n spesiale tydjie voor slaaptyd hieraan afstaan. Dit bring almal tot bedaring, maak die wêreld oop en bou wonderlike herinnerings. En vandag is daar soveel om uit te kies.