Deel 3
… ‘n week in Parys … dag 1
Dag 1
Chrismarie:
Wanneer ek nou terug dink aan ons week-lange besoek aan Parys (ja, Parys in Frankryk, waarvan ek al droom vandat ek kan onthou, of dit nou cliché is of nie), is die eerste paar gedagtes wat by my opkom die van baie stap, ten minste (8 km per dag), daardie eerste keer wat ek die Eiffel toring in haar volle glorie gesien het, en daardie onwerklike gevoel, wat my steeds by bly, dat ek regtig in Parys was.
Die dag van ons aankoms het die stap reeds vir my op Charles de Gaulle lughawe begin; dit het gevoel of ek kilometers geloop het om by die kant van die lughawe, waar die busse arriveer, uit te kom. Ek moes selfs ‘n trein binne in die lughawe vat vir een deel van die reis. Uiteindelik daar, het ons ‘n familie-vriendin van Ami, Annalise, ontmoet, by wie ons vir die week, net buite Parys, gebly het. (Ons was gelukkig, só het ons baie gespaar op verblyfkostes).
Dit was die 27ste, ‘n maand wat ons reeds weg was van die huis, en ‘n maand vandat ons met Afrikaanssprekendes in lewende lywe kon gesels (Skype tel nie). Boonop gee Annalise toe vir ons beskuit saam ons koffie, en dadelik het ons tuis gevoel. Kan jy jou indink; ‘n bietjie van Suid-Afrika in een van die mooiste stede in die wêreld. Wat meer wil jy nou hê?
Ons het nie regtig ‘n plan van aksie gehad vir die eerste dag nie, maar besluit toe om ons eerste poging op die Metro te waag na die Sacre Cœur. Wat ‘n belewenis. ‘n Kombinasie van gevoelens was oor jou daardie eerste keer onder die grond; opgewondenheid, angs, vrees, verwarring (Koop ek die regte kaartjie? Ek weet nie. Alles is in Frans!), paniek (Is dit hierdie stop, of die volgende een?), verligting, en dan ‘n kombinasie van adrenalien en trots (Ons het op die regte plek beland!).
Die Sacre Cœur, daardie enorme, wit katedraal op die enigste koppie in Parys, was asemrowend, en elke trappie wat geklim is om tot voor die deure te kom, was die moeite werd. Want as jy uiteindelik jou oë van die indrukwekkende historiese gebou kan weg kry, en omdraai, kyk jy uit oor Parys, en al was die bewolk en mistig, het dit my steeds stom geslaan.
Daar was so baie mense, orals waar ons gegaan het daardie week het dit gewemel, en dit was nie eers seisoen vir toeriste nie.
Die res van die middag het ons in die bekende Mont Martre area spandeer en daar Nutella crêpes geëet, en ook Place du Tertre besoek, waar die kunstenaars volop is. Op die ou einde was ons eerste dag ‘n groot sukses.
Dag 2: Musée d’Orsay, Eiffeltoring en Seine Rivier
An-Mari:
Vandag was een van die beste dae van my lewe.
Ons het bietjie later geslaap vanoggend as wat ons eintlik wou, maar is net na ontbyt weg – oppad in Parys in. Chrismarie het ʼn app gekry (Citymapper) wat ons stap-vir-stap oral heen kan vat.
Ons was eerste Musée d’Orsay toe. Ek erken; ek het myself nog nooit regtig as ʼn kunsliefhebber gesien nie, maar hierdie museum mag dit dalk effe verander het. Ek het nog nooit soveel mooi kunswerke op een plek gesien nie. Die beelde… Wow. Onbeskryflike marmerskeppings; vol krag en elegansie. Ons het kunswerke gesien van Renoir, van Gogh, Monet, Cézanne, Degas… Ek kon nie eers byhou nie.
Na die museum het ons al langs die Seine afgestap Eiffeltoring toe. Dit was verder as wat ons aanvanklik gedink het; so ongeveer 2 km. Maar dit was meer as die moeite werd. Die Seine is iets manjifiek. Op ʼn stadium het ons verby ʼn pragtige brug gestap – ek en Chrismarie was dadelik vas oortuig dis die Pont Neuf. Later het ons agtergekom dit was eintlik die Pont Alexandre 3. Ons maak nogsteeds heeltyd grappe daaroor!
Daai eerste blik op die Eiffeltoring was ʼn onbeskryflike gevoel. Die toring het amper ʼn magiese status – ikonies. Dis iets waarvan ek al jare lank droom en na foto’s van kyk en nou, uiteindelik, was ek daar. Na daardie eerste blik het ons gestap met die toring as ons baken.
Ons het gaan middagete koop by ʼn bakkery, en gaan piekniek hou aan die voet van die Eiffeltoring. Dit was ʼn onwerklike gevoel – ons kon nie glo ons is daar nie.
Na ons piekniek het ons besluit om met die toring op te gaan. Net tot op die tweede vloer. Ek wou eers nie; want dis hoog en vêr om te klim – maar Chrismarie wou graag so toe stem ek maar in. Eers nadat ons reeds ʼn halfuur in die ry gestaan het, het ons besef dat ons per ongeluk in die ry vir die hysbak beland het – nie die trappe nie. Dit het ons ʼn goeie uur geneem, maar uiteindelik was ons op die 2de vloer van die toring en die uitsig was asemrowend. Ek het vinnig vergeet van my hoogtevrees.
Ons het om en om gestap en ons verkyk aan die uitsig oor Parys. Mens kon so ver sien. Ons het daar gebly tot die son gesak het; en ons was steeds bo toe die liggies die eerste keer begin flikker en aangaan. Ek sal laat die foto’s die praatwerk doen want dis ʼn belewenis wat mens nie maklik kan verwoord nie.
Ons het die aand afgesluit met ʼn uur-lange bootrit op die Seine, waar ons die Notre Dame en die Louvre en die mooiste geboue verlig gesien het.