‘n Franse avontuur

Ons gaan Frankryk toe! Vir die volgende 7 en ʼn half maande gaan ons plekke sien en dinge beleef waarvan ons nog altyd droom... Volg twee vriendinne se avontuur in die vreemde

Dag 6: Notre Dame, Latynse Kwartier

An-Mari:

Shakespeare&Company is een van my nuwe gunsteling plekke. Dis ʼn moet vir enige boekliefhebber. Hierdie boekwinkel vervoer jou na ʼn ander wêreld, met boekrakke wat tot teen die dak strek en hoekies en draaitjies en ʼn unieke, tydlose atmosfeer. Dit het gevoel asof daar eeue se lewens opgesluit was tussen die boeke se blaaie; tussen die ou mure en die houttrappe, in die ou tikmasjien en die spikkelkat wat op die bank lê, in die klavier in die hoek wat enigeen kan speel.


Voor Shakespeare&Company boekwinkel

Net langsaan is die koffiewinkel met tafeltjies buite en ʼn uitsig op die Notre Dame. Ek weet nie eers hoe lank ek en Chrismarie in die boekwinkel spandeer het nie, maar ons het uiteindelik vir ons elkeen ʼn boek gekoop – met die outentieke Shakespeare&Co stempel in – en daarna gaan sit en koffie drink. Chrismarie het haar verdiep in haar Rupi Kaur digbundel (the sun and her flowers), terwyl ek die tyd gebruik het om my dagboek op datum te bring terwyl die geluid van die Notre Dame se klokke agtergrondmusiek verskaf het.
Ek het uiteindelik kans gehad om stil te sit in Parys en dit in te neem. Dit is hoe ek dit wil ervaar, het ek besluit. Rustig. Nie ʼn gejaag en ure in ʼn ry om ʼn (ja, pragtige en asemrowende) plek te sien saam met duisende ander wat stamp en stoot om voor te kom nie.

Na Shakespeare&Co het ons die strate ingevaar. Die Latynse kwartier is so mooi en histories. Ons het heeldag rondgeloop; van een prentjiemooi straat tot die volgende; by elke boekwinkel in en tot by elke rak poskaarte. Ons het in die Jardin de Luxemburg gaan sit en die uitsig geniet en ons boeke gelees. Toe stap ons by die Pantheon verby en weer terug Notre Dame de Paris toe.

Dit was al laterig, en die koor het al begin sing. Die musiek was ongelooflik mooi, veral saam met die klokke.

Buite het die son gesak, en die stad se liggies het op die Seine geskyn in ʼn pragtige spieëlbeeld.
Vir aandete het ons uiesop gehad – ʼn tradisionele Franse dis. Na dit is ons weer terug Shakespeare&Co toe vir ʼn praatjie deur die skrywer Callan Wink oor sy boek Dog Run Moon.

Dit was die laaste keer wat ons laat kon uitbly; so ek het dit terdeë geniet. Parys in die nag is iets besonders.

Dag 7: Le Marais

An-Mari:

Ons laaste dag in Parys was rustig. Ons was in die Le Marais area; die Joodse kwartier. Ons het rondgeloop van straat na straat, gaan koffie drink by Anticafé (waar jy 5€ per uur betaal en soveel koffie drink as wat jy kan), na ʼn mark toe gegaan, falafel geëet… Ons het die dag geëindig met ʼn laaste stap langs die Seine af, en by die Place de la Bastille ons laaste metro teruggevat huis toe.
Tot volgende keer.


Ons laaste blik op die Seine rivier

Na Parys… An-Mari:

Nadat ek weer terug was in Béthune, het die werk regtig begin. Ek het begin klasse gee, en begin met eksamens. Vir ʼn hele ruk was dit al wat ek gedoen het.

Die klasse het interessant begin word. Van die kinders geniet dit baie, terwyl ander dit haat om Engels te praat en elke woord moet uit hulle uitgetrek word. Met die kleintjies is dit makliker; ek speel speletjies soos Simon Says en tel-speletjies en hulle geniet dit sonder om te weet hulle leer iets. Met die ouer kinders, by die lycée, kan ek meer gesprekke voer soos oor wat dit beteken om ʼn held te wees, en hoe musiek die wêreld kan verander. Ek begin die studente ken en ek begin die geniet om lesse te beplan en iets interessants te probeer doen met hulle.

Die Kersseisoen het ook aangebreek: alles is vol liggies en versierings en elke dorp het ʼn Kersmark. Béthune sʼn is net in die straat af van waar ek bly en ek gaan amper elke dag soontoe net om die atmosfeer in te neem en vir die liggies te kyk; en om crêpes te koop.

Ek is verlief op Kersfees in Frankryk.

Na Parys – Chrismarie:

Eksamens, en skoolgee. Dit was my voorland. En ek het verjaar! Vir die eerste keer alleen, weg van iemand wat ek ken, maar ook die eerste keer wat ek nie ’n eksamen geskryf het op my verjaarsdag nie. Ek het wel die hele dag klas gegee, maar die aand het ek saam die ses ander Engelse assistente gevier. Hulle het vir my ’n Baskiese koek en sjampanje gekoop en selfs kersies op die koek gesit vir my om te blaas. Te danke aan hulle was dit ’n baie spesiale verjaarsdag hier in Frankryk.

Hier in Bayonne word daar ook baie moeite gedoen rondom kersfees. Markte, liggies, kersbome, en ’n groot ‘mallemeule’ is opgeslaan oral oor die dorp. Die atmosfeer is baie anders van hoe ons kersfees ken, maar die klasse wat ek moes aanbied oor hoe ons kersfees vier kon my darem vir so paar minute terug neem na Suid-Afrika.

An-Mari en Chrismarie is skryfkunsstudente by die NWU. 2017
0
Would love your thoughts, please comment.x